View
4
Download
0
Category
Preview:
Citation preview
Oppad na die kruis
Dr. Jean Strydom
Oppad na die Kruis 2013 Page 1
Inhoudsopgawe
1. Inleiding
Oppad na die Kruis
2. ‘n Blinde man ontmoet ‘n Geneesheer – Luk 18:35-43
3. ‘n Klein mannetjie ontmoet ‘n groot God – Luk 19:1-10
4. ‘n Skare ontmoet ‘n Koning – Luk 19:28-44
5. Die leiers ontmoet ‘n Ware Leier – Luk 22:66-23:12
Aan die voet van die Kruis
6. ‘n Aantal vroue hoor die Waarheid – Luk 23:26-31
7. ‘n Paar mense ontmoet ‘n Redder – Luk. 23:44-49
Anderkant die Kruis
8. ‘n Leë kruis - ‘n leë graf – ‘n Koning – Luk. 24:1-12
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie boek mag gereproduseer word op enige
manier, meganies of elektronies, insluitende Cd- of bandopnames en fotokopiëring, sonder die
skriftelike toestemming van die outeur nie, behalwe redelike aanhalings vir navorsing- en
resensiedoeleindes.
Oppad na die Kruis 2013 Page 2
Inleiding
In Lukas 18:35-19:27 lees ons van Jesus se doen en late terwyl Hy in die
Jerigo omgewing, oppad na Jerusalem was (19:28) waar hy gekruisig sou
word. Hier volg ʼn kort uiteensetting van Jesus se laaste paar dae voor sy
kruisiging.
Sondag (Luk. 19:28-44)
Maandag (Luk. 19:45-48)
Dinsdag en Woensdag (Luk. 20:1-22:6)
Donderdag (Ingesluit Donderdag nag en vroeg Vrydag Luk. 22:7-71)
Vrydag (Luk. 23)
Saterdag (Geen gebeure in Lukas opgeteken. Kyk wel na Matt. 27:62-66)
Sondag (Luk. 24:1-49)
40 dae later (Luk. 24:50-53)
Deur die verloop van die volgende paar weke gaan ons saam met Jesus,
die dissipels en die skare reis, om na Sy woorde en dade te kyk. Deur sy
doen en late gedurende hierdie besonderse tyd fyn te bestudeer, kan ons
dalk net weer opnuut iets by hierdie formidabele man leer, en sal ons
lewens nie anders kan, as om ook onherroeplik deur Sy werke hier op
aarde verander te word nie...
My gebed is dat jy saam met ons op hierdie reis sal gaan en die reeks op
jou eie, of in jou Bybelstudie of kleingroep sal behandel. My wens is dat jy
hierdie bittersoet reis na die Kruis uiters leersaam sal vind, Jesus op ʼn
nuwe en vars manier sal leer ken, en dat jy opnuut vervul sal word met die
volheid en krag van God.
Dr. Jean Strydom
Oppad na die Kruis 2013 Page 3
1 ʼn Blinde man ontmoet ʼn Geneesheer
(Lukas 18:31-34)
“Any discussion of how pain and suffering fit into God's scheme ultimately leads
back to the cross.”
Philip Yancey
it is Jesus se laaste week op aarde, en ons vind hom waar Hy en
sy dissipels oppad is na Jerusalem. Daar rus ʼn sware las op
hierdie man se skouers. Ja, Jesus weet wat op Hom wag - die
kruis...Terwyl hulle oppad is, gaan hulle by die stad Jerigo aan. Dit is
gewoonlik die laaste plek waar pelgrimsreisigers oornag, voordat hulle die
laaste skof na Jerusalem aanpak. Jesus het intussen sonder dat dit die
bedoeling was, ʼn skare mense wat hom oral gevolg het, bymekaar
gemaak.
Langs die pad, kom hulle op ʼn man af wat nie kon sien nie. Natuurlik was
bedelary die enigste manier vir hierdie man, om ‘n geringe inkomste te
genereer. Blindheid was in daardie dae ‘n baie algemene verskynsel. In ‘n
stad soos Jaffa was sowat 500 mense uit ‘n populasie van 5 000 blind.
Daar is gewoonlik gesê dat die mense in die stad of blind was of net een
funksionele oog gehad het. Daar was toe nog geen behandeling of
genesing vir blindheid nie. Ons lees in Lev. 19:14 dat daar van God se volk
verwag word om na blinde mense om te sien, maar was daar ten spyte van
hierdie opdrag steeds ‘n geweldige religieuse stigma ten opsigte van
blindheid. Dit het direk verband gehou met die persepsie dat die persoon
juis met blindheid gestraf is, omdat hy of dalk sy ouers gesondig het.
D
Oppad na die Kruis 2013 Page 4
Dit is ongelooflik om die diepte van hierdie man se geloof te aanskou. Daar
waar hy tot dusver dalk wanhopig langs die pad gesit het, besef hy
meteens dat hierdie man, hierdie Jesus van Nasaret, sy enigste hoop is.
Daarom het hy ten spyte wat ander mense sou sê of dink, besluit om Jesus
te roep. Hy het met alles in hom geroep, geroep asof dit sy laaste kans is.
Dit moes sekerlik die wanhoop en desperaatheid in hierdie man se stem
gewees het, wat Jesus met eens tot stilstand gedwing het. Op Sy bevel
moes die mense hierdie blinde bedelaar opslag na Hom bring.
Hoe wonderbaar is dit dat Jesus, die Seun van God gaan stilstaan by
iemand in nood, ongeag van die moeilike tyd wat binnekort vir Hom sou
voorlê. Hy skuif sy eie belange, sy eie bekommernisse opsy, sodat die
koninkryk van God kan vergroot en God opnuut verheerlik kan word.
Hierdie blinde man se geloof was groot. Hy het nie sy sig gehad om hom
van Jesus se grootheid te oortuig nie. Nee, al wat hy kon doen was glo. Dit
kan ons ook sien in die feit dat hy Jesus aanspreek as “Seun van Dawid” -
sy Messiaanse naam, wat die Verlosser beteken. Dis asof hy in geloof
reeds na die Verlosser, die Een wat hom uit sy blindheid sou verlos,
uitroep.
In vers 41 vra Jesus vir hom “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen?” Sou
Jesus (wat wel kon sien) dan nie reeds geweet het nie? Was dit nie van
selfsprekend nie? Hy het geweet, maar wou steeds hê dat die blinde man
sy behoefte in woorde uitspreek. Het jy dit dalk al ook in jou eie lewe
ervaar? God ken jou hart, en hy jou gedagtes. Hy weet wat jy nodig het en
wat jy so bitter graag wil hê. Maar tog wil Hy ook soms die behoeftes van
ons harte, uit ons eie monde hoor. Hy wil hê dat ons in ons gebede ons
afhanklikheid aan Hom verklaar, en hardop erken dat Hy die Almagtige
Vader - die Seun van Dawid is. Die alombekende spreekwoord lui wat die
hart van vol is loop die mond van oor. So wanneer God die Heer en
Oppad na die Kruis 2013 Page 5
meester van jou lewe en jou hart is, en jy dit sonder huiwering kan bely,
behoort die nederige gebaar vir jou ook heel natuurlik plaas te vind. In die
geval van die blinde man, het Jesus dadelik sy behoefte aangespreek en is
hy oombliklik van sy gestremdheid genees. Dit gebeur nie noodwendig
altyd so nie. Soms leer die Here ons nie net ‘n les in afhanklikheid en
nederigheid nie, maar ook ‘n harde les in geduld. Neem vandag die besluit
om opnuut jou behoeftes en bekommernisse in jou gebede aan die Here
bekend te maak. Erken dat Hy die Koning van alle konings is, die Skepper
van die hemel en die aarde, maar allerbelangrikste erken dat jy Hom in alle
omstandighede nodig het en nie sonder Sy liefde en genade kan bestaan
nie.
Die resultaat van hierdie daad wat Jesus verrig het, is net nog een van die
vele wonderwerke wat Hy hier op aarde verrig het, maar die kern van die
gebeurtenis is dat hierdie man sonder om vir een oomblik te twyfel, in
Jesus se bestaan geglo het. Hy het nie nodig gehad om eers, te sien is glo
nie! Maar die eintlike betekenis van hierdie daad is nie net ‘n blinde man
wat weer kon sien nie, maar dat die goedheid en grootheid van God
opnuut weer in ons, en in die mense wat hierdie gebeurtenis aanskou het,
se gedagtes ingeprent is.
Notas:
Oppad na die Kruis 2013 Page 6
Besprekingsvrae
Wat in die teksgedeelte staan vir jou uit of spreek jou aan?
Beskryf die verskille en ooreenkomste wat by die verskillende
Evangelies aangetref word, in verband met hierdie gebeurtenis (Matt.
20:29-34; Mark. 10:46-52; Luk. 18:35-43)
Dink jy wonderwerke soos hierdie vind steeds vandag plaas?
Tot wie word die gebed om ontferming in die Ou Testament gerig?
(Ps. 6:2; 9:14; 41:5)
Hoe weet ons dat die Messias uit die geslag van Dawid sou kom?
(Jes. 11:1; Eseg. 34:23)
Dink jy dit het ‘n verskil gemaak deurdat die blinde man hierdie titel
“Seun van Dawid” gebruik het?
Waarom het hierdie blinde geglo dat Jesus hom kon help? (Jes. 35:5;
42:18)
Wat beteken die titel “Messias” vir jou?
Hoekom dink jy het die ander die blinde man probeer stilmaak?
Dink jy ons maak vandag ook mense stil wat na Jesus “uitroep”?
Wat sê dit vir jou dat hierdie man aangehou het ten spyte van dit wat
die mense rondom hom gesê het?
Somtyds bevind ons onsself ook in moeilike omstandighede. Kan jy
ook soos Jesus verby jou omstandighede kyk en die nood van ander
raaksien?
Indien nie, wat kan ons doen om dit wel reg te kry? (Kol 2:5-11)
Hoekom dink jy het Jesus steeds die vraag aan hierdie man gevra?
Lees Heb. 4:14-16 en gesels daaroor.
Hoekom dink jy sê Jesus “Jou geloof het jou gered”?
Bespreek die stelling: “Indien jy nie genees word nie, is daar fout met
jou geloof”
Oppad na die Kruis 2013 Page 7
2 ‘n Klein mannetjie ontmoet ‘n groot
God (Luk. 19:1-10)
“Only those who are truly aware of their sin can truly cherish grace.”
C.J. Mahaney
aar was seer sekerlike al mense met wie jy te doen gekry het, vir
wie jy nie baie ooghare gehad het nie! Mense wat jou reeds
vanuit die staanspoor, die harnas in gejaag het! Nou ja, in hierdie
verhaal kry ons met so ‘n man te doen. Sy naam was Saggeus. Hy was die
hooftollenaar, en dus ‘n baie ryk asook ‘n invloedryke man. Saggeus was
geensins geliefd onder die Jode nie, en het hy om die rede waarskynlik ook
nie baie vriende gehad nie. Sy bestaan en sy wêreld het dus hoofsaaklik
rondom sy besittings gedraai. Hy was werksaam vir die Romeinse regering
en hy het nie net uit sy pad gegaan om te sorg dat elkeen hulle belasting
betaal nie, maar ook sommer in die proses ʼn ekstra geldjie vir sy eie sak
ingevorder.
Lukas is die enigste skrywer wat hierdie verhaal opteken het. Hy was veral
daarop ingestel om te wys hoe Jesus uitgereik het na die randfiguur
mense, die verstotelinge, die blindes en die mense soos Saggeus wat deur
die samelewing eenkant toe gestoot is. Aan die einde van Hoofstuk 18
(ons vorige studie) het ons gesien hoe Jesus sy belangrike reis na
Jerusalem vir ʼn rukkie kort knip, om eers aandag te gee aan die blinde,
arm bedelaar. Aan die begin van hoofstuk 19 maak Jesus weer so,
wanneer hy aan een van die mees gehate manne van die omgewing,
erkenning gee. Hierdie gebeurtenis weerspieël opnuut weer iets van God
D
Oppad na die Kruis 2013 Page 8
se karakter. Lukas is ook die een wat skryf oor die verlore skaap, die
verlore muntstuk en die verlore seun. Hy wil deur sy skrywe juis die
gedagte aan die leser tuisbring dat Jesus - “die Seun van die mens gekom
het om te soek en te red, die wat verlore is”.
Alhoewel Saggeus in wêreldse terme baie ryk en uiters suksesvol was,
was daar steeds ʼn gemis, ’n tekort, ʼn leemte in sy lewe. Die vraag is
hoekom wou hy van alle mense, so graag vir Jesus sien? Oor die antwoord
op hierdie vraag kan ons baie bespiegel. Het hy dalk so ʼn intense behoefte
na aanvaarding gehad of was hy bloot net nuuskierig? Dalk het hy iewers
te hore gekom dat hierdie Jesus van Nasaret juis na randfiguur mense
soos hy uitgereik het?
Saggeus was nie ʼn baie lang man nie, en al wat hy kon doen om vir Jesus
oor die skouers van hierdie skare mense te kon sien, was om in ʼn die
boom te klim. Dalk was hy skaam en wou hy nie hê die mense wat hom
ken, moet weet hoe graag hy ook hierdie man te siene wou kry nie?
Kan jy jouself Saggeus se verbasing indink toe Jesus onder die boom tot
stilstand kom en meteens na hom opkyk! Hy het heelwaarskynlik gedink hy
sal doodstil ongesiens daar bly sit, terwyl Jesus en al die mense onder
hom verbystap. Nee, Jesus het ʼn ander plan met Saggeus en met die
skare wat heeltyd saam met hom gestap het, gehad. Toe Jesus opkyk
beveel hy Saggeus om onmiddellik uit die boom te klim, sodat Hy vandag
in sy huis kon tuisgaan. Kan jy jou die verbasing van Saggeus en die
mense rondom hom, indink? Hoe kan Jesus na sy huis wil gaan? Hy is dan
een van die mees gehate en verstote mense! Dalk het Jesus Saggeus met
ʼn sagter en meer genaakbare stemtoon aangespreek, nie met die haat en
afkeur wat hy gewoond was nie. Is dit dalk hoekom Saggeus dadelik op
Jesus se bevel gereageer het, en gehoorsaam uit die boom geklim het? Dit
is die enigste keer waarvan ons lees, waar Jesus self besluit het om by ʼn
Oppad na die Kruis 2013 Page 9
spesifieke persoon tuis te gaan. Die wonder van hierdie verhaal is dat
Jesus, hierdie sondaarman op sy naam geken het. En is dit net weereens
ʼn bewys dat Jesus nie net met vooraanstaande, belangrike en
voorbeeldige mense bemoeienis maak nie. Nee, Hy weet ook van elke
verlore skapie wat nie deel van Sy kudde is nie. Net so ken Hy ook elkeen
van ons op ons naam en het Hy ook die behoefte om persoonlik by ons
omstandighede betrokke te raak. Roep Jesus jou ook vandag om vanuit
jou skuilplek te voorskyn te kom? Wil Hy dalk ook vandag in jou lewe
betrokke raak?
Dis wonderlik om die verandering wat Saggeus in Jesus se
teenwoordigheid ondergaan het, te kon sien. Hy word iemand met ope
arms wat gee, eerder as iemand met toe hande wat net vir homself wil hou.
Hy word ‘n mens wat aan ander uitdeel, eerder as iemand wat net vir sy
eie gewin bymekaarmaak. Hy is selfs bereid om meer te gee as wat
volgens voorskrifte van hom verwag word. Jesus se uitreikende en
onvoorwaardelike liefde was in hierdie opsig weereens transformerend,
soos ons ook verskeie ander kere gesien het. Hierdie was een van
verskeie voorbeelde waar God se liefde vir die mens deur die lewe van
Jesus, gestalte gekry het. En sien ons dat hierdie einste liefde ʼn paar dae
later aan ʼn kruishout ʼn werklikheid word, nie net vir Saggeus nie maar ook
vir my en jou en vir die hele mensdom. Vandag vra Jesus ook vir ons om
Hom die geleentheid te gee om by ons tuis te gaan. Hoekom? Sodat ons
lewens ook hierdie hemelse verandering kan ondergaan. Sodat ons ook
die liefde en genade van God kan leer ken, en sodat ander ook die
uitreikende en onvoorwaardelike liefde van Jesus, in ons eie lewens kan
raaksien
Notas
Oppad na die Kruis 2013 Page 10
Besprekingsvrae
Wat in die teksgedeelte staan vir jou uit of spreek jou aan?
Hoe tree jy werklik op teenoor mense vir wie jy nie baie ooghare het
nie? Verskil jou optrede van ander mense rondom jou?
Hoe dink jy is ons veronderstel om teenoor mense op te tree van wie
ons nie baie hou nie?
Hoe het Jesus teenoor sulke mense opgetree? Dink aan voorbeelde.
Hoekom dink jy wou Saggeus so graag vir Jesus sien?
Dink jy Saggeus was tevrede met sy lewe?
Wat sê die feit dat Saggeus in ‘n boom geklim het vir jou van hom en
Jesus?
Wat van Jesus se gedrag staan vir jou uit in die verhaal?
Wat leer ons uit die feit dat Jesus gekies het om by Saggeus tuis te
gaan?
Hoekom het die skare beswaar gemaak teen Jesus se optrede?
Wat sê dit vir jou van hulle ingesteldheid?
Sal mense vandag noodwendig anders optree?
Hoe is ons veronderstel om op te tree?
Dink jy die skare was gekant teen die feit dat Jesus genade
betoon aan ‘n “slegte” mens?
Verskil ons van die skare?
Hoe is Saggeus se lewe geraak deur Jesus se ontmoeting?
Die feit dat Saggeus restitusie wil doen, wat sê dit van:
Saggeus?
Jesus?
Is dit nodig dat ons vandag nog restitusie doen?
Oppad na die Kruis 2013 Page 11
3 ‘n Skare ontmoet ‘n Koning
(Luk. 19:28-44)
“Until you see the cross as that which is done _by_ you, you will never appreciate
that it is done _for_ you.”
John Scott
et net nog ‘n paar dae oor voor Jesus se kruisiging, vind ons
hom en sy dissipels, saam met die skare mense sowat 3
kilometer vanaf Jerusalem. Die mense begin al hoe meer
opgewonde raak oor Jesus, die Messias, die een wat hulle gaan verlos uit
die wurggreep van die Romeine. Min weet hulle dat hierdie verlossing
waarop hulle so naarstiglik hoop, glad nie die tipe oppervlakkige redding is
wat hulle in gedagte het nie. Jesus se triomfantlike intog in Jerusalem, was
‘n baie slim plan van Sy kant af. In die eerste plek trek Jesus se rit op die
donkie heelwat aandag en ontketen dit ‘n geweldige reaksie by die
toeskouers. Dis juis hierdie reaksie wat veroorsaak dat die Joodse leiers
ernstig aan ‘n plan sou dink om Jesus dood te maak. In die tweede plek,
veroorsaak hierdie geweldige opwinding onder die skare, dat die leiers
besluit om hulle bose planne te bespoedig. Eintlik manipuleer Jesus hierdie
Joodse leiers op ‘n baie slim manier, om juis hulle tydskedule by syne aan
te pas. Hy weet dat die kruisiging die Vrydag moet plaasvind, sodat die
opstanding op die Sondag kon geskied. In die derde plek, vervul Jesus die
profesie van Sagaria 9:9 (Kyk ook Matt. 21:4-5). In die laaste plek kom die
werklike betekenis van die term “Messias” dan ook na vore, en kom die
skare dalk vir die eerste keer agter wat werklik aan die gebeur is. Glad nie
wat hulle verwag het nie. Dit kom ons agter uit sy woorde in Lukas 19:42.
M
Oppad na die Kruis 2013 Page 12
In hierdie gedeelte sien ons dat daar ‘n duidelike verskil is tussen die plan
wat God met Jesus gehad het en die plan wat die skare met hom gehad
het. En dis juis om die rede wat hulle lofsange so vinnig in “kruisig Hom,
kruisig Hom” kon verander. Dis met hierdie wete, dat ons nie anders kan
as om te dink aan die gedeelte in Efesiërs 6:12 waar Paulus skryf, dat ons
stryd nie teen vlees en bloed is nie (skare teen die romeinse regering),
maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers in hierdie sondige
wêreld, teen elke bose gees in die lug. Dis gebeur ook in ons lewens
vandag. Ons kan so maklik vasgevang word in wêreldse verwagtinge en
ideologieë, dat ons baie keer God se perspektief op sake verloor. Soms
dryf ons onbewustelik al verder van God af weg, dat ons voeling verloor
met die plan wat Hy ook vir ons eie lewens het. Dit is juis dan wanneer ons
eie planne en verwagtinge die stem van ons Hemelse Vader stil praat. Dis
presies wat hier gebeur het. Mense se eie selfsugtige behoeftes het God
se alwyse plan oorskadu, maar Jesus se woorde in vers 42 spreek
boekdele. Vrede vir Jerusalem en die skare (en ook ons), lê nie in die feit
dat Hy die aardse koning of Messias/Verlosser word nie, maar dat daar
vrede op geestelike vlak in elkeen se hart en verhouding met God kom.
Genadiglik het Hy dit aan die kruishout as Verlosser en Prins van Vrede
kom gee. Die resultaat skryf Paulus in Romeine 5:1 “...Daarom is daar nou
vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus”. Kom ons leef
opnuut weer naby aan ons Hemelse Vader. Kom ons vra weer Sy wil in al
ons doen en late. Kom ons trap versigtig en luister aandagtig, sodat ons
nie dieselfde fout as die Jode van ouds maak, en God se plan met ons
lewe op ‘n verkeerde manier vertolk nie...
Notas
Oppad na die Kruis 2013 Page 13
Besprekingsvrae
Watter gedeelte in die teksvers staan vir jou uit of spreek jou aan?
Hoe laat dit jou voel wanneer jy lees van Jesus se presiese opdrag
aan die dissipels in verband met die donkie? Hy kon dus “vooruit
sien”?
Laat die feit dat Jesus in staat is om vooruit te sien, jou vandag
anders lewe?
Toe Jesus die dissipels die opdrag gegee het om die donkie te gaan
kry, is nog ‘n profesie vervul. Lees Sagaria 9:9 en gesels daaroor.
Wat sê Markus 11:2 in verband met hierdie donkie?
Watter besondere karaktertrek van die koning word ook in hierdie
gedeelte beklemtoon?
Is jy ook so gehoorsaam soos die dissipels wanneer dit by God se
opdragte kom, al verstaan jy nie altyd wat alles aan die gebeur is nie?
Hoe gehoorsaam is jy aan die opdragte wat ons in die Bybel vind of
gee jy net gehoor aan die wat jy dink jou nie te veel sal verontrief nie?
Die skare het Jesus beskou as die Messias, ‘n wêreldse verlosser wat
hul kom red uit die mag van die Romeinse onderdrukking. Kan jy dink
hoe ontnugter hulle was toe hulle besef dis nie wat Jesus kom doen
het nie? Het jy ook al so ‘n ontnugtering in jou lewe ervaar, toe jy
besef het dat jou plan vir jou lewe en die van God, nie dieselfde is nie?
Tot watter mate raak ons ook vandag verward met die rolle van die
Messias?
Wat het die uitsprei van die klere, volgens 2 Kon. 9:13 beteken?
In Lukas 19:38 vind ons ook ‘n aanhaling uit Ps. 118. Watter betekenis
het die woord Hossanna in Ps. 118:25-29?
Sê in jou eie woorde wat die skare uitgeroep het in hulle lofsang.
Oppad na die Kruis 2013 Page 14
Die skare het van hulle klere en palmtakke in die pad voor Jesus
neergegooi omdat hulle Hom beskou het as die koning. Wat doen jy
vandag om Hom as koning te eer?
Die skare het Jesus doelbewus geprys as die Messias, dus het hulle
het spontane lof vir Jesus gehad. Maak jy ook tyd vir spontane lof aan
God? Begin en eindig jy jou dag in lof en aanbidding?
Hoekom dink jy is dit belangrik om God se naam groot te maak?
Oppad na die Kruis 2013 Page 15
4 Die leiers ontmoet ‘n Ware Leier
(Luk. 22:66-23:12)
“Before we can begin to see the cross as something done for us, we have to see it
as something done by us.”
John R.W. Stott
esus se lyding het begin. Eers verskyn Hy voor die Joodse raad, wat
hom na Pilatus neem en dan word Hy weer na Herodus verwys.
Tydens elk van hierdie ontmoetings met die leiers het Jesus gewys
wat werklik in Hom steek. Hy het gewys wat dit beteken om ‘n Ware leier te
wees. Die Joodse Raad het natuurlik geleef met die verwagting van die
komende Messias, dit is immers in die geskrifte voorspel. Daarom dat hulle
vir Jesus vra of Hy die Christus, die Messias is wat hulle moes verwag.
Jesus besef maar alte goed dat dit nie saak maak wat Hy antwoord nie,
hulle het reeds besluit dat hy nie die Messias kan wees nie. Hy pas immers
nie binne hulle godsdienstige sisteem van die dag nie. Hierdie aardse
godsdienstige leiers wou nie erkenning gee aan die ware hemelse
godsdienstige Leier nie. Hulle was te vasgevang in hulle eie sisteem om
God waarlik raak te sien.
Aangesien die Joodse leiers geen politieke mag gehad het nie, het hulle
Jesus na Pilatus geneem. Pilatus kon egter geen fout vind met Jesus se
optrede nie en plaas die verantwoordelikheid oor na Herodus, ‘n ander
politieke leier. Nie een van die twee leiers het egter die moed gehad om
standpunt teen die Joodse raad en oproerige skare se aanhitsing, in te
neem nie. Hulle was dus niks meer as blote speelballe in die hand van die
oproerige skare nie. Glad nie die eerlike, sterk leiers wat mens sou verwag
J
Oppad na die Kruis 2013 Page 16
hulle sou wees nie. Hulle kon nie standpunt inneem vir hulle ware en
eerlike oortuigings nie.
Nadat Jesus weer na Pilatus teruggestuur is, wou hy Jesus net laat gesel
en dan loslaat, maar dit was nie straf genoeg vir die oproerige skare en
Joodse raad nie. Hulle eis dat hy gekruisig word. Die lofsange van ‘n paar
dae gelede verander in veroordelende, kwetsende woorde: “Kruisig hom,
Kruisig hom”.
Die Joodse raad, Pilatus en Herodus het almal as leiers gefaal. Dalk het jy
ook al voor ‘n soortgelyke besluit in jou eie lewe te staan gekom. Dalk was
jou optrede iets waarop jy baie trots is, of iets waaroor jy tot vandag baie
skaam voel? Moes jy ook al vir jou geloof opstaan teen ʼn oproerige en
vyandige skare? Was jy ook al in die moeilike situasie waar jy moes kies
tussen dit wat jy weet reg is, en dit wat die meerderheid mense om jou
verwag jy moes sê of doen? Soms faal ons ook net soos Pilatus en
Herodes. Baie keer maak ons ook noodgedwonge verkeerde besluite
omdat ons onder druk van die meerderheid verkeer. Jesus kom leer ons
wat dit beteken om as ‘n ware Leier uit te staan. Deur Sy optrede kom wys
hy ons dat mens steeds die regte keuse kan maak, ten spyte van die
negatiewe druk wat die wêreld rondom ons uitoefen. Dis eers toe Hy aan
die kruishout hang dat die Romeinse soldaat werklik agterkom wie en wat
hierdie man was. Net so was daar sekerlik baie ander mense wat tot die
besef gekom het, toe die duisternis die aarde omsluit. Soms word daar van
ons as Christene verwag om moeilike besluite vir ons geloof te neem. Is jy
partykeer bang vir wat ander van jou sal dink, of is jy in alle opsigte bereid
om vir Jesus en dit waarvoor Hy staan te baklei?
Notas
Oppad na die Kruis 2013 Page 17
Besprekingsvrae
Wat in die teksgedeelte staan vir jou uit of spreek jou aan?
Het die drie groepe, die Joodse raad, Pilatus en Herodus iets in
gemeen?
Dink jy hierdie mense sou anders opgetree het as hulle ware leiers
was? In watter opsig?
Wat is jou definisie van ‘n leier?
Watter eienskappe moet ‘n leier hê?
Met die eienskappe wat jy sopas genoem het in ag geneem, kon dit
dalk ‘n verskil gemaak het in hierdie mense se besluit en optrede?
Hoekom dink jy was die Joodse raad “blind” vir Jesus as die Messias?
Wat dink jy was hulle verwagting van die Messias?
Dink jou net vir ʼn oomblik daardie tyd in. Sou jy saam met die
oproerige skare geskreeu het?
Jesus sê in vers 70 “Dis is soos julle sê: Ek is”. Die woorde Ek is word
aan God toegeskryf (Eks 3:13-16). Bespreek die verband hier tussen
Jesus en God. Is hul dan een?
Voor die Sanhedrin en Pilatus was Jesus bereid om net een vraag te
beantwoord, nl. of Hy die Messias, die Seun van God is? Dit is dus
Jesus se keuse dat Hy veroordeel en gedood moet word as die
Christus (die Messias). Waarom dink jy is dit Jesus se wil dat dit juis
die rede moet wees waarom Hy gekruisig word?
Waarom kan ons sê dat Jesus met sy woorde: “Dit is soos u sê” voor
die raad en Pilatus beklemtoon dat Hy wel die Christus is?
Waarom dink jy moes ‘n aardse regter Jesus skuldig bevind? (Luk.
23:4)
Hoe sou jy Pilatus se gedrag beskryf? Wat sou jy in sy situasie
gedoen het? Stem jy saam met sy besluit? Het jy simpatie met Hom?
Oppad na die Kruis 2013 Page 18
Hoe sou jy Herodus se gedrag beskryf? Stem jy saam met hom? Het
jy simpatie met Hom?
Wat dink jy het die skare gedryf van lofsange vir Jesus, na “kruisig
hom, kruisig hom”?
In die lig van Jesus as ons ware Leier, watter tipe leier is jy? Staan jy
op vir dit waarin jy glo? Is jy ‘n outokraat of demokraat?
Oppad na die Kruis 2013 Page 19
5 ‘n Aantal vroue hoor die Waarheid
(Luk 23:26-31)
“We need never shout across the spaces to an absent God. He is nearer than our
own soul, closer than our most secret thoughts”
A.W. Tozer
ierdie gedeelte laat ʼn mens se gedagtes onomwonde teruggaan
na Jesus se woorde wat hy gespreek het, pas nadat die skare Sy
lof besing het en terwyl hy op die donkie Jerusalem binne gegaan
het. Daar midde in die skare se lofprysing, spreek Hy die volgende woorde:
“As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind
daarvoor” (Luk. 19:42). Nou stap Jesus die Via Dola Rosa en Simon van
Sirene, is besig om Sy kruis te dra. Tot die dood toe moeg, gegesel en
bebloed, kyk Hy na die skare mense rondom Hom - sommige
veroordelend, ander huilend en party stomgeslaan...
In die loop, praat Jesus met die vroue rondom Hom. Hierdie was nie die
vroue wat Hom nougeset reeds vanaf Galilea se dae gevolg het nie. Nee,
hierdie was vreemde vroue van Jerusalem wat bloot aangeraak is deur die
man van wie hulle al so baie gehoor het. ʼn Goeie man wat nou
noodgedwonge die dood in die gesig staar. Vir Jesus wat tot die dood toe
moeg is en vir die volgende paar ure as’t ware deur hel gaan, weet Hy een
ding. Sy toekoms is verseker by God. Hy weet waarheen Hy oppad is.
Tensy hierdie vroue nie ook tot hierdie insig kom en die Waarheid ontdek
nie, is hulle toekoms nie op dieselfde plek as waar Jesus s’n is nie. Nie
hulle, of hulle kinders s’n nie. Tensy hierdie vroue van Jerusalem nie tot
dieselfde insig kom nie, sou dit beter wees indien hulle nooit kinders gehad
H
Oppad na die Kruis 2013 Page 20
het nie. Die dag as God in sy volle oordeel kom, sal hulle besef dat dit te
laat is om die Waarheid te ontdek en aan te gryp. Dan sal hul vra dat die
berge eerder op hul moet val en die heuwels hulle moet bedek, as om voor
die aangesig van God te verskyn. As die oordeel na Jesus (die groen hout)
kom, hoeveel te meer sal die droë hout nie in die ewige vuur gegooi word
nie. Gewoonlik gooi ʼn mens eers die droë en nuttelose hout in die vuur. Dit
beklemtoon net opnuut die felheid van die oordeel.
Tydens Jesus se roete op weg na die kruis, spreek hierdie woorde wat hy
uiter, boekdele van Sy karakter. Steeds dink Hy nie aan Homself en wat vir
hom voorlê nie, maar aan die verlorenes. Net soos Hy aan die misdadiger
gedink het wat saam met Hom gekruisig is. Wat ʼn genadige God! Die
Weg, die Waarheid en die Lewe!
Wat doen ons? Stel jy ook ander se geestelike welbehae voor jou eie, of
word jy soms so vasgevang in jou eie nood dat jy bloot net op jou eie
welsyn fokus? Kom ons onthou hierdie daad van Jesus, en kom ons maak
ʼn punt daarvan om ten spyte van ons eie seer, ook die wanhoop van ander
raak te sien.
Notas
Oppad na die Kruis 2013 Page 21
Besprekingsvrae
Wat in die teksgedeelte staan vir jou uit of spreek jou aan?
Stel jouself voor jy is in die skare wat saam met Jesus oppad is na
Golgota. Vir ‘n oomblik staan jy stil en kyk en luister na alles rondom
jou. Wat sien en hoor jy? Wat is jou ervaring?
Jesus het met sy triomftog in Jerusalem sy Goddelike taak nie versuim
nie, ook nie voor die Joodse raad en ander leiers nie en hier ook nie.
Hy is en bly die Messias, die Verlosser. Daarom dat Hy hier met die
vroue op ‘n spesifieke manier praat. Hoekom moet ons hierdie woorde
van Jesus ernstig opneem?
Dink jy ons is somtyds meer bekommerd oor ander se geestelike
toestand as oor ons eie?
Jesus sê dat die vroue moet oor hulself en hul kinders huil. Dit
beteken dat Jesus besef het dat daar nog ‘n generasie besig is om
verlore te gaan.
Hoe lyk die volgende generasie (die kinders van vandag) se
geloofslewe?
Wat doen jy om die fundamentele beginsels van die Christelike
geloof aan hulle oor te dra?
Gesels oor probleme en oplossings oor die algemene
geestelike toestand van ons en ons kinders.
Hoe voel jy oor die komende oordeelsdag?
Is jy gereed daarvoor?
Is die mense vir wie jy lief is gereed?
Hoe moet iemand wat die oordeelsdag enige tyd verwag, leef?
Waarom dink jy neem mense nie hierdie woorde ernstig op nie?
Wat kan ek en jy doen dat hulle dit wel ernstig kan opneem? (1 Tim
1:7, 10, 14; 1 Tess. 1:5)
Oppad na die Kruis 2013 Page 22
Wat dink jy is nodig om die Evangelie ten spyte van die dood wat jy
dalk in die gesig kan staar te verkondig?
In hierdie gedeelte het ons ‘n profetiese spraak van Jesus oor die
toestand van die volk en die komende oordeel. Ons sien ook Sy
genade in die uitspraak dat Hy ten spyte van sy omstandighede
steeds die waarskuwing rig dat mense moet wakker word uit hul slaap.
Gesels oor die komende oordeel van God wat vir party ondraaglik sal
wees en die liefde van God wat Sy Seun vir almal gestuur het asook
die genade van God wat so groot is.
Oppad na die Kruis 2013 Page 23
6 ‘n Paar mense ontmoet ‘n Redder
(Luk. 23:44-49)
“Christ did not die that God might love us, but He died because God loved us”
Charles Hodge
olgens die vertelling van Lukas was daar ‘n paar mense wat die
dag rondom die kruis saamgedrom het. Mense wat om verskeie
redes daar was, maar wat tog elkeen op ‘n besondere manier
aangeraak is deur hierdie man aan die kruis en die gebeure met sy
afsterwe. Daar was die wat die keuse gemaak het om deur die gebeure
van die dag geraak te word, en die wat toevallig geraak is.
Daar was onder andere ‘n Romeinse offisier wat bloot besig was met sy
daaglikse amptelike werk. Hulle moes diegene wat aan die kruis hang
oppas, sodat ander mense nie iets aan hulle kon doen nie. Hierdie offisiere
het ook ‘n wesenlike rol tydens die fisiese kruisiging gespeel. Die offisier,
was sekerlik soos meeste ander mense ook bewus van die gebeure
rondom Jesus en die beweringe wat rondom sy koningskap die rondte
gedoen het.
Daar was ook die oproerige skare wat bloot uit nuuskierigheid kom kyk het
hoe hulle bloeddorstige wense vervul word. Hulle het hulle waarskynlik
verlekker in die leed en lyding van die “Koning van die Jode”.
Jesus se vriende, waaronder die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het,
het ook versigtig op ‘n afstand bly staan. Hulle was waarskynlik
stomgeslaan oor die gebeure wat so tragies “skeefgeloop” het.
Heelwaarskynlik was daar by hulle die vrees dat die owerhede ook iets
V
Oppad na die Kruis 2013 Page 24
aan hulle sou doen, aangesien hulle hom openlik ondersteun het. Om op ‘n
afstand te bly, was dus die veiliger opsie vir hulle.
Al die verskillende groepe en mense wat rondom die kruis saamgedrom
het, het op hul eie manier ervaar dat Jesus die Redder is. Die onnatuurlike
gebeure tydens sy afsterwe, was heelwaarskynlik al wat nog nodig was
om diegene wat enigsins nog getwyfel het, tot oortuiging te dwing. Die
moment wat die hemele begin spreek, toe eers het van die omstanders
werklik geluister. Die offisier wat waarskynlik die naaste aan die kruis
gestaan het, Jesus se laaste woorde gehoor het en ook die duisternis
ervaar het, is die enigste een wat die woorde geuiter het: “Hierdie man was
werklik onskuldig”. Maar die offisier het ook God geprys. Die omstanders
wat die geharde Romeinse offisier se woorde aangehoor het, was diep
deur sy woorde geraak. Het God ook al jou hart op ‘n soortgelyke wyse
aangeraak? Het jy al die Here deur sekere gebeurtenisse in jou lewe
ervaar? As jy vandag nog twyfel oor die teenwoordigheid en krag van God
in jou lewe, staan jy dalk te ver van die kruis af?
Notas
Oppad na die Kruis 2013 Page 25
Besprekingsvrae
Lees ook Matteus se weergawe van die verhaal (Matt. 27:45-56)
Wat in die teksgedeelte staan vir jou uit of spreek jou aan?
Hier by die kruis kom verskillende tekste in vervulling. Hoe is die
volgende vervul?
Ps. 69:22
Ps. 22:19
Ps. 109:25
Amos 8:9
In die Jerusalem se tempel was daar twee voorhangsels. Die eerste
skei die voorhof van die tempel en die tweede skei die heilige van die
allerheiligste. Hierdie deel van die tempel wat bekend gestaan het as
die allerheiligste, was simbolies van God se teenwoordigheid onder
die volk. Slegs die hoëpriester kon een maal per jaar daar ingaan, om
versoening vir die volk se sondes te vra. Lees eers Eks 26:31-35;
40:21. Lees dan Heb. 6:19; 9:3-14; 10:19-22. Wat is die boodskap en
simboliek van die tempel se voorhangsel wat geskeur het?
Hoe beïnvloed dit ook jou lewe vandag?
Plaas jouself vir ‘n oomblik aan die voet van die kruis en sien in jou
geestesoog hierdie dinge afspeel. Hoe laat dit jou voel?
Bespreek die mense wat hier onder genoem word se reaksie op die
gebeure rondom die kruis, en die moontlike impak wat dit op hul
lewens gehad het.
Die offisier
Die mense wat saamgedrom het bloot om die skouspel te
aanskou
Jesus se vriende
Dissipels
Die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het.
Oppad na die Kruis 2013 Page 26
Dink jy daar was van die mense wat eers op daardie tydstip besef het
dat Jesus waarlik die Messias is?
Wat veroorsaak dat ons partykeer “onaangeraak” gelaat word deur die
bekendheid van Jesus se kruisiging?
Wat behoort die werklike impak van die kruisiging daagliks op jou lewe
te wees?
Op watter aspekte van jou lewe het die kruis nog nie ‘n “blywende
merk” gelaat nie?
Oppad na die Kruis 2013 Page 27
7 ‘n Leë Kruis – ‘n Leë Graf – ‘n Koning
(Luk. 24:1-12)
“If Jesus rose from the dead, then you have to accept all that he said; if he didn't
rise from the dead, then why worry about any of what he said? The issue on which
everything hangs is not whether or not you like his teaching but whether or not he
rose from the dead.”
Timothy Keller
OOP - dis wat aanbreek die Sondagoggend na die droewige en
wanhopige Vrydag en Saterdag. Die betrokke Sondag het die
doodsklokke nie net vir die dood self gelui nie maar ook vir die
krag en mag van die Bose. Jesus se opstanding kan daarom as die
belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die wêreld gesien word.
Niks was na hierdie wonderbaarlike gebeurtenis ooit weer dieselfde nie.
Alles het verander!
Voor daardie Sondag was daar bitter min hoop en die dood was die finale
punt wat die einde van ons lewensverhaal aangekondig het. Na Jesus se
opstanding is die bordjies vir ewig verhang. Nou is daar vir ons baie HOOP
en slegs ʼn aardse dood in die vooruitsig. Jesus se opstanding het die deur
na ʼn Ewige lewe saam met Hom, vir ons oopgesluit! Nou is ons aardse
dood nie meer ons eindbestemming nie, maar bloot net ʼn laaste stasie op
die treinreis van ons lewe. Die wonder en die Krag wat teenwoordig was
tydens Jesus se opstanding, kan ook in ons harte gevind word vandag. Ja,
Jesus se opstandings-krag woon ook binne in jou en my (Ef. 1:19-20).
H
Oppad na die Kruis 2013 Page 28
In die verhaal wat Lukas dokumenteer, kom die vroue, wat destyds as
tweedeklas burgers gesien is, baie prominent na vore. Hierdie vroue wat
Jesus ondersteun het van Galilea se dae af, en heeltyd by die kruis
gestaan het, was ook nou weer vroeg die Sondagmôre oppad na sy graf
toe. Deur hierdie vroue op die voorgrond te plaas en die nuus eerste aan
hulle te breek, beleef ons iets van God se grootheid en die feit dat hy nooit
mense uitsonder of eenkant toe skuif, oor wie en wat hulle is nie. Die vroue
is deur Jesus se kruisdood, tot hul regmatige plek voor God herstel. In Sy
teenwoordigheid is niemand, maar niemand tweedeklas burgers nie.
Blaai jy verder deur die Bybel sal jy agterkom en waarskynlik saam met
Paulus getuig, dat indien daar nie ʼn opstanding is nie, ons hele Evangelie
platval en eintlik maar nutteloos is. Dis die wonder van die opstanding! Dat
ons met sekerheid kan weet dat Jesus leef en nie iewers soos byvoorbeeld
Lenin in staatsie lê nie. Christus is ʼn lewende God wat tans aktief
werksaam is om jou plek in gereedheid te bring, sodat jy jou ewige tuiste
kan gaan opneem.
Deur die opstanding het ek en jy die regmatige plek deur ons geloof in
Christus, die opgestane Heer verkry. Wat ʼn wonderlike vooruitsig is dit nie
vir ons nie! Wat ʼn ongelooflike mate van hoop bring dit nie vandag in
hierdie wanhopige wêreld nie! Die dood is verslaan, en al kan geen een
van ons dit vryspring nie, is dit geensins die einde van ons lewensreis nie.
Hoef ons dit eintlik glad nie te vrees nie, want Jesus het reeds die pad
gestap. Kom ons sê vandag vir Hom opnuut dankie dat Hy sy lewe vir ons
aan ʼn kruishout geoffer het, en kom ons dank God vir die feit dat hierdie
reis wat Jesus ondergaan het vir ons as Christene, ook ʼn Hemelse
eindbestemming moontlik maak...
Notas
Oppad na die Kruis 2013 Page 29
Besprekingsvrae
Wat in die teksgedeelte staan vir jou uit of spreek jou aan?
Wat dink jy het deur die dissiples en die mense die naaste aan Jesus
se gedagtes gegaan die Saterdag?
Hoe het hulle die leë kruis beleef? (Luk. 23:56)
Hoe sou jy die leë kruis beleef het?
Wat sou die impak van die graf op jou geloofslewe wees as jy daardie
tyd geleef het?
Wat was die vroue se aanvanklike reaksie op die nuus dat die graf
leeg is?
Hoekom het Pertus eerste opgespring en na die graf toe gehardloop?
Wat sê die mans vir die vroue? Wat sê hierdie woorde vir jou? Is dit
belangrik dat die kerk en die wêreld hierdie woorde gereeld hoor en dit
onthou?
Het die feit dat Jesus opgestaan het uit die dood hulle geloofslewe
onmiddelik verander?
Wat moet die leë graf vir ons beteken?
Wat is die impak van die leë graf op jou lewe?
Hoe kan ons saam met Jesus en die Heilige Gees ‘n opstandingslewe
lei?
Wat beteken dit om ‘n opstandingslewe te lei?
Wat is die impak van Jesus se opstanding op:
Die dood?
Die duiwel?
Bespreek Kol. 2:15; 3:1-4
Recommended