Upload
others
View
1
Download
0
Embed Size (px)
Citation preview
1
WELVAART SONDER GROEI: EKONOMIE VIR ‘N EINDIGE PLANEET
Johann Basson, Maart 2013
Agtergrond en konteks
Die inligting waarop hierdie lesing gebaseer is is grootliks geïnspireer deur die boek van Tim
Jackson met die titel van ‘Prosperity without growth: Economics for a finite planet’. Jackson
is die Ekonomiese Kommissaris by die Verenigde Koninkryk se Volhoubare Ontwikkelings-
kommissie, die regering se onafhanklike adviesliggaam. Hy is ook Professor in Volhoubare
Ontwikkeling by die Universiteit van Surrey en Direkteur van die Navorsingsgroep oor
Lewenstyl, Waardes en Omgewing.
In hierdie nuwe, ontwikkelende en multidissiplinêre vakgebied is daar baie vrae wat nog nie
antwoorde het nie en vind die debat nog net in sekere kringe plaas. Gevolglik is daar nog
baie meningsverskille oor watter benaderings gevolg moet word. Die sienings en inligting is
meer op ontwikkelde lande van toepassing, maar hierdie lesing is ook op die ontwikkelde
deel van Suid-Afrika gemik. Die inhoud sal moontlik ‘n mate van ongemak veroorsaak of
selfs die bloeddruk opjaag. Die doel is egter om in te lig, die debat te stimuleer en mense
moontlik tot aksie aan te moedig. Wees gewaarsku, hierdie boodskap is in sekere kringe nie
populêr nie, omdat dit met bestaande sienings en belange bots.
Ek is nie ‘n ekonoom of omgewingsekonoom nie, maar ‘n ingenieur met ‘n multidissiplinêre
agtergrond en onder andere ‘n Magister in Bedryfsleiding. My spesialisgebied is energie
(konsultasie, navorsing en beleid) wat ook skakel met die omgewing, ekonomie en menslike
gedrag.
1 Inleiding
Welvaart is die gevoel dat dinge vir ons reg verloop, volgens ons hoop en verwagtings en dat
dit ‘n aspek van kontinuïteit insluit. Daar is dus ‘n vertroue dat die situasie in die toekoms
ook sal geld. Soos persoonlike welvaart bydra tot die welvaart van familie, vriende en die
breër gemeenskap, word dit ook beskou as die antwoord op hongersnood, behuisingsnood,
armoede en ongeregtigheid – die hoop vir ‘n beter wêreld van veiligheid en vrede.
Maar die mensdom is besig om hierin te misluk. Ons tegnologieë, ons ekonomie en ons
sosiale aspirasies is swak belyn met enige sinvolle uitdrukking van welvaart. Die visie van die
sosiale proses wat aangespoor word deur ‘n voortdurende toename in materiële goedere, is
fundamenteel nie volhoubaar nie. In ons daaglikse soeke na die goeie lewe is ons
sistematies besig om die basis van ons toekomswelvaart te erodeer. Ons loop die gevaar om
ons vooruitsig op ‘n gedeelde en volhoubare welvaart te verloor. Onder andere gaan dit oor
ons aktiwiteite, ons menslike natuur en die beperkings van ons ekologie. Die mensdom sal
ernstig aan hierdie beperkings moet aandag gee.
2
Die kernvraag is hoe welvaart moontlik is in ‘n wêreld onder druk, met beperkte hulpbronne
en ‘n bevolking wat binne dekades meer as nege miljard sal wees. Die algemene benadering
is om mikpunte vir welvaart in ekonomiese terme te stel en om voortdurende ekonomiese
groei as die metode te beskou om dit te bereik. Hoër inkomstes beteken meer keuses, ryker
lewens en ‘n beter kwaliteit van lewe vir die wat daarin deel. Of dit is in elk geval die
konvensionele wysheid. Die benadering word gebaseer op ‘n toename in die bruto
binnelandse produk (BBP) per kapita, wat breedweg ‘n maatstaf is om die ekonomiese
aktiwiteit van ‘n staat of streek te meet. BBP groei is daarom oor die laaste dekades een van
die belangrikste beleidsdoelwitte in die wêreld. Dit is sekerlik noodsaaklik vir die wêreld se
armste lande. Maar geld dieselfde logika vir die ryk lande of die ryker deel van
ontwikkelende lande? In hulle geval word oorlewingsdoelwitte meer as bevredig en die
oormaat van verbruikersgoedere dra min by tot materiele gemak.
Die outeur meld: ‘In a world of finite resources, constrained by strict environmental limits,
still characterised by ‘islands of prosperity’ within ‘oceans of poverty’, are ever increasing
incomes for the already rich really a legitimate focus for our continued hopes and
expectations? Or is there perhaps some other path towards a more sustainable, a more
equitable form of prosperity?’ Ons sal weer en weer na hierdie vraag terugkeer, maar vir
baie ekonome is die idee van welvaart sonder ekonomiese groei totaal ondenkbaar.
Welvaart is egter nie sinoniem met inkomste en besittings nie; toename in welvaart is nie
dieselfde as ekonomiese groei nie; meer is nie altyd beter nie.
Die konsep van ekonomiese groei en die illusie van toename in welvaart met ekonomiese
groei is ‘n moderne konstruk. In die verlede was welvaart nie spesifiek in terme van geld
gedefinieer nie; dit was eerder die teenpool van bedreigings en beperkings (adversity &
affliction). Ekonomiese groei het ook sy voordele op ‘n baie ongelyke manier gelewer. Die
armste 20% van die wêreld se bevolking verdien slegs 2% van die inkomste en die rykste
20%, in teenstelling, 74%.
Enige sinvolle visie van welvaart moet die saak van limiete of grense aanspreek. Hoe en vir
hoe lank is voordurende groei moontlik voordat die ekologiese grense van ‘n eindige planeet
bereik word? Kommer oor fisiese beperkings bestaan al vir lank. Talle studies oor die
onderwerp is die laaste dertig jaar gedoen
en telkens het dit groot opspraak verwek
(Malthus, Club of Rome, peak oil, IEA). Baie
van die stemme is weldra verkeerd bewys
as gevolg van die enorme verbeterings in
tegnologie.
Fig 1.1 is ‘n teoretiese diagram van die
groei van ekologiese implikasies en die
grootte van die ekonomie oor tyd indien
3
elk afsonderlik getoon word. Maar die een het ‘n invloed op die ander en ekonomiese groei
sal ook omkeer wanneer die ekologiese afswaai plaasvind.
In die figuur links is die effek van
beperkings op die voorsiening van sekere
kommoditeite waarneembaar in die
prysindekse van ru-olie, voedsel en metale
oor die 2003 tot 2008 periode, en ook die
drastiese afname in 2008 soos die wêreld
se ekonomie teruggetrek het as gevolg van
die globale depressie.
Indien almal hulpbronne gebruik teen die
helfte van die tempo van die VSA, sal die
wêreld se minerale in vier dekades opgebruik word. Teen dieselfde tempo sal hulle in
twintig jaar uitgeput wees en sommige skaars metale reeds oor binne tien jaar. Maar die
bronne is maar ‘n deel van die probleem.
Bykomend tot die probleem is die orde van die wêreld se besoedelingsprodukte.
Omgewingsekonome praat van ontvangers (sinks) as die vermoë van die planeet om die
omgewingsimpak van ekonomiese aktiwiteite te ontvang of eerder te assimileer. Bill
McKibben meld: ‘Even before we run out of oil, we’re running out of planet.’
Klimaatsverandering is een van die groot ontvangerprobleme. Talle studies is en word
hieroor gedoen en in talle kringe word die noodsaak reeds aanvaar om koolstofvrystellings
tot 450 dele per miljoen (dpm) te verminder ten einde die klimaat van die wêreld te
stabiliseer. Hierdie mikpunt is nodig om die gemiddelde toename van die aarde se
temperatuur tot 2C te beperk. Die implikasie is dat die wêreld se koolstofvrystellings
drasties beperk moet word.
Klimaatsverandering is een van die groot ontvangerprobleme. Talle studies is aan die gang
en in groeiende kringe word die noodsaak reeds aanvaar om koolstofvrystellings te beperk
ten einde die klimaat van die wêreld te stabiliseer. Die mikpunt is ‘n beperking tot 450 dele
per miljoen (dpm) wat nodig sal wees om die gemiddelde toename van die aarde se
temperatuur tot 2C te beperk. Die mikpunte impliseer ‘n drastiese vermindering in
koolstofvrystellings wêreldwyd.
2 Die era van onverantwoordelikheid
Die bankkrisis van 2008 het die wêreld op die grens van ‘n finansiële krisis gebring en die
dominante ekonomiese model tot in die fondamente geskud. Dit het die grense tussen die
mark en die staat geherdefinieer en die wêreld geforseer om sy onvermoë ten opsigte van
finansiële en, meer nog, omgewingsvolhoubaarheid te besef. Die talle storms, siklone en
4
tsunamis sedertdien is ook sterk aanduiders van die onvolhoubaarheid van ons huidige
ekostelsel.
Die rol van skuld, beide van die individu en
die staat, het opvallend geword. Dit is
aangehelp deur die voordurende proses van
ekonomiese groei en verbruikers se houding
van ‘spandeer vandag en betaal môre’, ook
die beginsel dat ‘n kapitalistiese ekonomie
skuld nodig het om te kan groei. Die grafiek
hiernaas toon byvoorbeeld dat persoonlike
skuld in die VK die vorige twee dekades vanaf
60% tot 105% van BBP toegeneem het en die huishoudelike spaarkoers van 11% van
besteebare inkomste na -1% afgeneem het.
Die skuld van die openbare sektor is ‘n ‘lening’ van die private sektor en wissel aansienlik
tussen lande. Frankryk, Duitsland, Kanada en die VSA se publiekesektor-skuld is ongeveer
60% van die BBP, Italië en Japan s’n is meer as 100%. Noorweë het geen skuld nie; die land
het enorme finansiële bates. Publiekesektor-skuld styg aansienlik in krisistye, veral in
oorlogstyd. Dit is ook die geval wanneer ‘n finansiële krisis ervaar word; lande leen geld om
hulle ekonomie te stimuleer.
Die blindheid in die regulering van die finansiële markte gaan saam met die onvermoë om
natuurlike hulpbronne te beskerm en ekologiese skade te stop. Ons ekologiese skuld is net
so onvolhoubaar soos ons finansiële skuld. Nie een hiervan word behoorlik verreken in ons
voordurende proses van verbruiksgroei nie.
3 Herdefiniëring van welvaart
Is daar ‘n alternatiewe visie van welvaart, een waarin mense kan floreer, wat groter sosiale
kohesie, hoër vlakke van geluk en drasties verminderde materiële impak op die omgewing in
die hand werk? ‘n Vinnige literatuuroorsig toon dat daar ‘n hele paar alternatiewe visies vir
welvaart bestaan. Sommige kom vanaf die sielkunde, filosofie en geskiedenis van die
ekonomie, ander van sekulêre of godsdienstige wysheidstradisies. Maar reeds sedert
Aristoteles word aanvaar dat iets meer as materiële goedere nodig is vir die mens om te
floreer.
Daar is drie verskillende kandidate as konsep van welvaart soos geformuleer deur Amartya
Sen in sy baanbreker opstel oor die ‘standaard van lewe’ wat in 1984 gepubliseer is.
Welvaart as oorvloed (opulence): Dit is die heersende siening dat welvaart die
bevrediging van materiële behoeftes behels. Dit is maklik om in te sien dat die ‘meer is
beter’-siening vals is; dit bots ook met ekonomiese teorieë.
5
Welvaart as utiliteit: Anders as om op die volume van kommoditeite wat beskikbaar is te
fokus gaan dit oor die bevrediging wat dit bring. Die gebruik van materiële kommoditeite
word meer en meer sosiaal en sielkundig aangewend as suiwer materieel. In die verlede
kon die stand van welvaart moeilik in die basiese behoeftes voorsien, selfs in die mees
welgestelde lande. Vandag voorsien gebruiksgoedere ons van identiteit, ondervinding, ‘n
sin van behoort, betekenis (meaning) en hoop. Spandering word as ‘n plaasvervanger vir
hierdie utiliteit gesien en versterk dus die benadering dat die BBP ‘n sinvolle maatstaf vir
welstand is. Daar is talle argumente vir en teen die siening wat ek nie hier sal bespreek
nie. Die diagram hieronder toon dat lewensbevrediging vinnig toeneem met ‘n toename
in BBP per kapita, maar vanaf ongeveer $10,000 is die toename heelwat stadiger. Die
Skandinawiese lande, Ierland
en Nieu-Zeeland het hoë
vlakke van bevrediging met
laer inkomstevlakke. Dit
illustreer tot ‘n mate die
boodskap dat dit nie sinvol is
om met ekonomiese groei
weg te doen nie, maar dat dit
nodig is vir ontwikkelde lande
om vir groei in ontwikkelende
lande ruimte te maak.
Welvaart as
instaatsteller (capability) vir
florering (flourishing): Sen
formuleer ‘n standaard van
lewe wat dit moontlik maak
om as mens te floreer. Word hulle goed gevoed? Kan hulle warm bly; is hulle vry van
voorkombare morbiditeit; lewe hulle lank; kan hulle aan die lewe van die gemeenskap
deelneem; kan hulle in die openbaar verskyn sonder skaamte; kan hulle sinvolle werk kry;
kan hulle hulle skoolopleiding gebruik, ensovoorts?
Voortdurende groei word beperk deur drie kritiese faktore: (i) die eindige aard van
natuurlike hulpbronne waarsonder lewe op aarde nie moontlik is nie (energie, minerale,
hout, water, grond, ens.); (ii) die regenererende kapasiteit van ekostelsels, die diversiteit
van spesies en die integriteit van die atmosfeer, bolaag en oseane, en (iii) die skaal van die
wêreldbevolking.
4 Die dilemma van groei
Welvaart gaan nie net oor inkomste nie. Toename in welvaart is nie dieselfde as ekonomiese
groei nie, maar dit alleen verseker nie dat welvaart sonder groei moontlik is nie. Daar is ‘n
6
moontlikheid dat voordurende ekonomiese groei wel ‘n nodige voorwaarde vir blywende
welvaart is. Daar is drie sake wat hier van belang is:
1. Oorvloed (opulence) is ‘n nodige voorwaarde vir welvaart: Bronne is nodig om te kan
deelneem aan die lewe in die gemeenskap. Verbruiksgoedere voorsien ‘n simboliese taal
waarmee ons voortdurend met mekaar kommunikeer oor nie net die basiese dinge nie
maar ook dit wat regtig saak maak soos familie, vriendskap, sin van behoort (sense of
belonging), gemeenskap, identiteit, sosiale status, sinvolle en doelgerigte lewe.
2 Ekonomiese groei korreleer redelik goed met sekere basiese behoeftes soos gesondheid
en opleiding, veral met relatief lae waardes van BBP per kapita. Die grafieke hieronder
toon korrelasies van verskillende lande as funksie van BBP per kapita en kom vanaf
opnames wat die United Nations Development Programme op ‘n gereelde basis doen.
3 Groei is nodig om ekonomiese en sosiale stabiliteit te handhaaf: ‘n ekonomie wat
misluk, vermeerder die risiko van menslike verlies (humanitarian loss). Dit is opmerklik
dat daar groot verskille tussen lande is soos in hulle hantering van hierdie tipe van krisis,
wat verklaar kan word aan die hand van die sosiale struktuur.
5 Die mite van ontkoppeling
Die konvensionele siening oor die dilemma van groei is ‘n appèl op die konsep om die
ekonomie te ontkoppel van die verbruik van hulpbronne en omgewingsimpak. As gevolg van
produksie en tegnologiese verbeterings word ekonomiese uitset minder afhanklik van die
deurset van materiale en op dié manier kan groei voortgaan sonder om ekologiese grense te
oorskry. Dit is nodig om tussen relatiewe ontkoppeling (afname in hulpbron-intensiteit per
eenheidsuitset) en absolute ontkoppeling (hulpbrongebruik neem af) te onderskei.
Heelwat vordering word gemaak in veral die ontwikkelde ekonomieë met relatiewe
ontkoppeling in hulpbrongebruik en CO2 vrystelling per eenheid van BBP persoos hieronder
getoon.
7
Absolute ontkoppeling is veel moeiliker. Koolstofintensiteit het bv. vanaf 1970 met 80%
afgeneem, tog is vrystellings in 2008 50% hoër as in 1990 (sien diagram onder, links).
Die figuur regs toon min ontkoppeling van enige aard in die wêreld se gebruik van primêre
metale waar die gebruik van almal amper toeneem soos die wêreld se BBP toeneem.
Die rekenkunde van groei toon ‘n kommerwekkende situasie. Die vrylaat van CO₂ in 2007
was 30 miljard ton. Ten einde die 450 dpm stabiliseringsteiken in 2050 te bereik moet CO₂
vrylatings na 4 miljard ton per jaar verminder word, ‘n afname van 4.9% per jaar teenoor die
2% per jaar toenname vanaf 1990. Hierdie toename word veroorsaak deur bevolkings- en
ekonomiese groei.
Dit is duidelik dat ‘n tradisonele sakebenadering (business as usual) totaal onvoldoende is
om die probleem aan te spreek. Vrae wat ons kan vra, is of die mensdom werklik armoede
wil uitskakel; is ons ernstig oor koolstofvrystellings; is ons bekommerd oor die opverbruik
van hulpbronne, ontbossing, verlies aan biodiversiteit, ensovoorts. Of is ons so verblind deur
konvensionele wysheid en die goeie lewe dat ons nie kans sien om hierdie berekenings te
doen nie uit vrees dat ons nie van die ware feite sal hou nie? Hierdie aktiwiteite behels
drastiese transformasie van talle stelsels, soos energievoorsiening en verbruik, en daarmee
saam die kapitaal om dit te ondersteun.
6 Die ysterkou van konsumerisme
8
Die struktuur van moderne kapitalistiese ekonomie behels twee interafhanklike eienskappe
wat deel is van die groeidinamiek. Aan die een kant stimuleer die winsmotief nuwer, beter
en goedkoper produkte en dienste deur middel van ‘n deurlopende proses van innovering
en kreatiewe vernietiging. Aan die ander kant word die toenemende verbruikersvraag van
hierdie dienste deur ‘n komplekse sosiale logika aangedryf. Hierdie twee faktore saam dryf
die “groeienjin” wat moderne ekonomieë benodig en bind ons almal vas in die ysterkou van
konsumerisme.
Kapitalisme is nie ‘n enkele homogene entiteit nie; dit bestaan in verskillende vorme en
variëteite. Ons kan twee hoofstrome identifiseer: (i) liberale markekonomieë soos die VSA
en VK (nieu-kapitalisme) en (ii) gekoördineerde markekonomieë soos Duitsland en
Denemarke in die vorm van sosiale demokrasieë. Die eerste plaas meer klem op die mag van
die liberale gedereguleerde mark en die tweede lê klem op sterker sosiale institusies en
beter strategiese verbintenisse.
Basies is verbruikerskapitalisme verbasend
eenvoudig soos deur die ‘enjin’ van groei in
die diagram links getoon word. In die breë
gebruik firmas arbeid en kapitaal om goedere
en dienste te produseer wat in huishoudings
benodig of begeer word. Hierdie
vereenvoudigde diagram toon nie die
openbare (staat), die buitelandse en
finansiele sektore nie. Hulle is almal
essensieel om die stelsel te laat funksioneer.
Van groot belang is die relatiewe prys en produktiwiteit van arbeid en kapitaal. Daar was die
afgelope dekade groot kommer oor die produktiwiteit van arbeid in Europa en ook die
veranderlike wat nie maklik hanteer word nie, naamlik die ure wat arbeiders per week werk.
In ‘n globale wêreld kompeteer hierdie sake met dié van ander lande en streke. Daar is ‘n
algemene tendens in die kapitalistiese ekonomie van ‘n verbeterde arbeidsproduktitwiteit.
Dit beteken dat dieselfde hoeveelheid goedere en dienste deur minder mense geproduseer
word en dat die siklus afwaartse druk op diensverskaffing plaas wat net verlig word as uitset
styg. Doeltreffendheid dryf dus letterlik groei voorwaarts.
Nuutheid (novelty) speel ‘n kernrol in die sosiale proses van verbruikersaankope wat selfs ‘n
plaasvervanger word vir ons drome en aspirasies en ons op ‘n diep eksistensiële vlak raak
oor wie ons is en wat ons lewens beteken. Jackson skryf: ‘It’s an anxcious and ultimately
pathological system. But at one level it works. The relentless pursuit of novelty may
undermine well being. But the system remains economically viable as long as liquidity is
preserved and consumption rises. It collapses when either of these stalls.’
7 Die nuwe groenooreenkoms
9
Een van die opmerklike aspekte van die 2008 finansiële krisis was die konsensus om
ekonomiese groei te stimuleer. Die oproep was vir meganismes om verbruikerspandering
‘aan die brand te skop’. Een opsie wat oorweeg was, was ‘n massiewe program vir publieke
werke as ‘n groen stimulus ten opsigte van energiesekuriteit, lae koolstof-infrastruktuur en
ekologiese beskerminsgmaatreëls. Talle lande het hierdie tipe van aktiwiteite in werking
gestel, maar nie op die skaal wat ‘n groot verskil aan die omgewing sou maak nie. In
Februarie 2009 was die stimulus-spandering $2796 miljard, waarvan groen aktiwiteite $436
mjd of 15.6% behels het. Die idee van ‘n groen stimulus het baie sterk punte. Belegging in ‘n
oorgang na ‘n nuwe volhoubare ekonomie is noodsaaklik. Die teiken van stimulus-
spandering vir hierdie doel maak baie sin. Stimulus-aksies vir hulle wat min het moet ook
verwelkom word. ‘n Ongelukkige gemeenskap is ‘n angstige gemeenskap wat alte maklik
geld spandeer wat min tot geluk bydra, maar wat aansienlik tot onvolhoubare
hulpbronspandering bydra.
8 Ekologiese makro-ekonomie
Die doel is die soeke na ‘n nuwe makro-ekonomiese model en struktuur waar stabiliteit
verkry word sonder ‘n voordurende groei van die ekonomie. Wiskundige modelle word
gebruik om makro-ekonomiese veranderlikes en beleidsopsies te ondersoek. Die doel is om
so ‘n model te ontwikkel wat hulpbronverbruik en omgewingsimpak insluit. Dit is nie ‘n
eenvoudige taak nie omdat talle van die tegnologiese en hulpbronveranderlikes nie bekend
is nie en die data om hulle te ontwikkel nog nie versamel is nie. Een van die resulate sal
wees die ontwikkeling van ‘n ander ‘groeienjin’, gebaseer op nie-besoedelende
energiebronne, wat nie-materiële dienste verkoop en nie-besoedelende produkte verbruik.
Peter Victor, ‘n Kanadese ekologiese
ekonoom, het ‘n simulasiemodel ontwikkel
en getoets ten einde te bepaal of ‘n lae- of
geengroei-scenario in Kanada moontlik is
(sien figuur hiernaas). Sy werk is omtrent die
enigste van hierdie aard en ‘n waardige
eerste stel treë op die pad van die ondersoek
van ‘n nuwe ekologiese makro-ekonomie.
9 Oorvloed – binne grense
Om ‘n nuwe ekonomie daar te stel is een saak, maar die sosiale logika van verbruik
(consumerism) is net so belangrik. Welvaart is nie sinoniem met materiële besittings nie. Dit
gaan eerder oor ons vermoë om fisies, psigologies en sosiaal te gedy (flourish), dus om ten
volle aan die lewe van die gemeenskap deel te neem. Materiële goedere voorsien ‘n
essensiële taal waardeur ons met mekaar kommunikeer oor daardie dinge wat regtig saak
maak: familie, identiteit, vriendskap, gemeenskap, lewensin. Maar hier is ‘n paradoks:
Indien deelname regtig dit is wat nodig is, en materiële goedere die taal daarvoor voorsien,
10
dan behoort ryker gemeenskappe meer bewyse hiervan te gee. Maar die teendeel is waar.
Putnam se boek “Bowling Alone” gee konkrete bewys van die verval van gemeenskappe in
die VSA. Dit lyk asof die Weste in ‘n greep van ‘sosiale resessie’ is.
Welvaart, in enige betekenisvolle sin van die woord, is in gevaar – nie weens die
ekonomiese resessie nie, maar weens die voordurende golf van materialisme en weens die
ekonomiese model wat dit veroorsaak.
Verandering is essensieel. Daar is in die verlede baie klem op kleinskaal aktiwiteite (Small is
Beautiful) gelê, ook aktiwiteite buite die konvensionele markte. Navorsing gee voorbeelde
van aktiwiteite wat teen die heersende golf van konsumerisme ingaan en minder tyd aan
materiële aktiwiteite gee soos tuinmaak, stap, genot van lees en musiek, die sorg en omgee
vir ander. Sommiges is gewillig om minder te verdien om hierdie dinge te kan doen. Daar is
ook ‘n aantal nuwe doelbewuste inisiatiewe om eenvoudiger en meer volhoubaar te leef
(living more simply), in harmonie met Gandhi se mantra van ‘live simply, that others might
simply live’. Elgin druk dit uit as ‘n lewe ‘... that is outwardly simple, yet inwardly rich as the
basis for revisioning human progress’. Individuele pogings om so te leef is natuurlik meer
moontlik om in ‘n ondersteunende gemeenskap te slaag.
Waar talle elemente van die huidge struktuur materiële aktiwiteite en vermorsing
aanmoedig (soos die subsidiëring van private vervoer en energievoorsiening, min klem val
op aanvraagbestuur, die weggooi van afvalprodukte wat maklik en goedkoop is en
hersirkulering wat tyd en moeite behels), kan bogenoemde strewes natuurlik nie ‘n groot
bydrae maak sonder dat strukturele verandering plaasvind nie. Net so belangrik is die
subtiele maar dikwels skadelike seine wat deur regerings, reguleerders, finansiële instansies,
die media en onderwys uitgestuur word.
‘n Deel van hierdie saak is die geweldige
ongelykheid tussen mense en groepe.
Wilkinson en Pickett het die groot skade wat
deur ongelykheid veroorsaak word, soos in
die diagram links getoon, bepaal. Die
horisontale skaal is inkomste-ongelykheid en
die vertikale skaal ‘n omgekeerde indeks van
gesondheid en sosiale probleme.
‘n Deel hiervan is die struktuur van
besoldiging waar kompeterende en materialistiese uitkomste beloon word, selfs wanneer
hulle sosiaal skadelik is. Indien die geweldige inkomsteverskille aangespreek word, sal dit ‘n
sterk sein uitstuur van daardie dinge wat ‘n gemeenskap as belangrik ag. Beter erkenning
aan hulle wat gemoeid is met kinder-, oumens-, ongeskiktheidsorg of vrywillige werk kan die
balans van aansporings wegskuif van statuskompetisie na ‘n meer samewerkende en
altruïstiese gemeenskap.
11
10 Regeerkunde (governance) vir welvaart
Hierdie saak raak ook die rol van die staat. Daar is talle skole oor meer en minder
staatsinmenging in die ekonomie. Maar die staat het ‘n kernrol, byvoorbeeld ten opsigte van
die sosiale logika van dienste- en goedereverbruik. Beleidmakers het ‘n rol, moontlik
teensinnig, in die vorming van mense se waardes en aspirasies. Ook die opvoedingsektor
stuur talle seine uit. Dit gaan oor die gebruik van ekonomiese aanduiders, aankoopbeleid,
fisiese beplanning, die invloed van loonbeleid, beskikbaarheid of nie van produkstandaarde,
regulering van advertensies, die media en ondersteuning van plaaslike en geloofsgroepe.
Met al hierdie sake is beleid die medeskepper van die sosiale wêreld. Die idee dus dat die
staat die reg het om in te tree om die sosiale logika van konsumerisme te help vorm is soms
minder problematies as wat dit dikwels vertolk en toegepas word. Dit gaan oor die
balansering van individuele vryheid teenoor algemene voordeel (common good).
‘n Deel van die probleem is natuurlik die een van selfsug. Maar daarteen moet gestel word
die houding van baie mense ten opsigte van altruïsme. Ons almal beleef soms skeurende
konflik tussen die twee pole. Schwartz het goeie navorsing gedoen oor ‘Selfsug versus Self-
transendensie’ en ‘Oopheid vir verandering versus Konservatisme’. Die sosiale struktuur
moet die balans bepaal. Dit is nodig dat ons vrae vra oor die institusies wat die moderne
gemeenskap karakteriseer. Moedig hulle kompetisie of samewerking aan? Beloon hulle
selfsug of mense wat ander dien/bedien? Watter seine stuur die staat, skole, media,
geloofs- en gemeenskapsorganisasies uit? Dit lyk al meer asof die institusies van die
verbruikersgemeenskap ontwerp is om ‘n baie materialistiese individualisme aan te moedig,
ook met die opneem van unieke (novel) produkte, aangesien dit die huidige ekonomie aan
die gang hou.
Ek het reeds gemeld dat daar meer as een
soort van kapitalisme bestaan. Ongelykheid
is opvallender in liberale as in
gekoördineerde markekonomieë. In die
eerste geval het die sin vir spaar dramaties
oor die afgelope jare afgeneem en skuld
toegeneem. Die figuur hiernaas toon van
hierdie verskille ten opsigte van
werkloosheid vir vier lande.
Onlangse ondersoeke dui daarop dat die verskillende tipes van kapitalisme ook anders
funksioneer ten opsigte van ekologiese impak, geleenthede vir vaardigheidsopleiding en
verskeie aspekte van sosiale kapitaal. Tim Kasser toon aan dat liberale markekonomieë hoër
koolstofvrylatings per kapita het, hoër kindersterftes, hoër tiener swangerskappe en meer
mense wat rapporteer dat hulle soos buitestaanders voel.
12
Die kernrol van die staat is om te sorg dat korttermyn private belange nie langtermyn
openbare goedere ondermyn nie. Dit is daarom so tragies dat talle regerings, veral in die
liberale omgewings, voorrang aan die ondersteuning van onbeperkte verbruikersvryheid
gee. In baie gevalle is verbruikersvryheid verhef bo sosiale doelwitte en die aktiewe
uitbreiding van die mark aangemoedig bo verskeie oorwegings van lewensbelang. Soms
word dit hand aan hand bedryf met die behoefte om sosiale en omgewingsdoelwitte aan te
spreek – ’n voorbeeld van institusionele skisofrenie. Sterk leierskap is noodsaaklik en slegs
die staat kan dit voorsien. Maar die dilemma tussen groei en die beskerming van die
omgewing bestaan en keuses sal gemaak moet word. Die afgelope halfeeu het in ‘n
negatiewe rigting beweeg deur die ondersteuning van materialistiese individualisme en die
najaag van nuwe verbruikersgiere (novelty).
11 Die oorgang na ‘n volhoubare toekoms
Daar is twee benaderings om hierdie probleem aan te spreek: (i) Rewolusie. Sommiges sê,
kom ons eindig kapitalisme, verwerp globalisering, ondermyn korporatiewe mag, raak van
korrupte regerings ontslae, takel ou institusies af en begin nuut. Dit bevat groot risikos,
want die spektrum van barbarisme staan sterk. Of (ii) die pynlike proses van sosiale
transformasie waarvan die skaal massief is.
Om die spesifieke stappe van sosiale transformasie uit te lê is nog nie moontlik nie. Daar
moet nog baie opsies ontleed en gedebatteer word. Basies is drie hoofstappe nodig:
Stap 1: Stel vas wat die limiete is.
Stel hulpbron en vryslatingsgrense op (caps) en bepaal verminderde teikens in die
toekoms. In die proses moet die model van terugtrekking (contraction) en konvergensie
beskou word om ‘n model van gelyke toelatings per kapita onder ‘n ekologiese bogrens
vas te stel wat konvergeer na ‘n volhoubare vlak. Dit geld vir koolstof, verbruik van
skaars nie-hernubare hulpbronne, produksie van afval, die verbruik van grondwater en
hernubare bronne.
Fiskale hervorming vir volhoubaarheid deur die internalisering van eksterne kostes, soos
‘n koolstofbelasting in ‘n belasting-neutrale vorm.
Ondersteuning van ‘n ekologiese oorgang in ontwikkelende lande om voorsiening te
maak vir noodsaaklike groei, maar dit moet ook volhoubaar wees. Dit behels finansiering
soos tans deur die Global Environmental Facility om belegging in nuwe tegnologie en
prosesse met lae hulpbrongebruik moontlik te maak.
Stap 2: Ontwikkel ‘n nuwe ekonomiese model.
Dis essensieel om ‘n ekologiese makro-ekonomiese model te ontwikkel wat begrip
bevorder vir die gedrag van ‘n ekonomie wat onderworpe is aan streng vrylating en
hulpbronverbruikslimiete; daarmee saam ook begrip vir hoe ekonomieë funksioneer met
13
verskillende konfigurasies van verbruik, belegging, arbeidsbenutting en
produktiwiteitsgroei.
Belegging in werkgeleenthede, bates en infrastruktuur word ‘n kernsaak in die
basisvorming vir ‘n nuwe ekologiese makro-ekonomie. Daar is tans duidelike fokussse,
soos die opgradering van geboue, tegnologieë vir hernubare energie, ‘n herdefiniëring
van die elektristeitsnetwerk (smart grid), infrastruktuur vir openbare vervoer, openbare
ruimtes (voet-/fietspaaie, groen areas, biblioteke, ens.), ekostelsel-onderhoud en -
beskerming.
Verbetering van finansiële en fiskale verantwoordelikheid (prudence). Vermindering van
skuld, beter regulering van nasionale en internasionale finansiële markte, beperking van
destabiliserende markpraktyke, uitskakeling van buitensporige besoldiging en groter
aansporing om te spaar.
Wysiging van nasionale rekeninge. Tans is die kernfokus slegs die BBP wat ‘n aanduiding
is van hoe besig ‘n ekonomie is, maar dit meet nie die ekonomiese gesondheid en baie
ander dinge nie. Talle ondersoeke is hieroor gedoen en werk is aan die gang, maar die
tyd is ryp vir ‘n beter metodiek vir die opstel van nasionale rekeninge, om meer volledig
en konkreet die werklike prestasie van die ekonomie te meet.
Stap 3: Verander die sosiale logika.
Die ontwikkel van ‘n nuwe beleid oor werksure. Dit sluit in korter werksure of verdeling
van beskikbare werkgeleenthede met laer besoldiging.
Die regstel van sistemiese ongelykheid in besoldiging. Hier kan veranderde
belastingstrukture, minimum en maksimum besoldiging, beter toegang na kwaliteit
opleiding, wetgewing teen diskriminasie, anti-misdaadaksies en die verbetering van
plaaslike fisiese omgewings in lae-inkomstegebiede (deprived) nuut oorweeg word.
Die meet van vermoëns en voorspoed (flourish). Hoe kan mense die beste ondersteun
word om te gedy, veral deur die meet van uitsetveranderlikes soos lewensverwagting,
deelname aan opleiding, vertroue (trust), gemeenskapsveerkragtigheid (resilience) en
gemeenskapsdeelname.
Die versterking van sosiale kapitaal. Dit behels die ontwikkeling van menslike en sosiale
vermoëns en openbare ruimtes ten einde gemeenskapsdeelname te laat gedy; nuwe
inisiatiewe oor gemeenskapsvolhoubaarheid; vermindering van geografiese
arbeidsmobiliteit; opleiding vir groen werkgeleenthede; beter toegang tot lewenslange
opleiding en vaardigheidsontwikkeling; groter verantwoordelikheid ten opsigte van
beplanning in plaaslike hande plaas; beskerming van plaaslike radio;
museumfinansiering; biblioteke, parke en groen spasies.
Aansporingstrukture en advertensieriglyne om die kultuur van konsumerisme af te takel;
sones vry van kommersiële aktiwiteite, veral vir kinders; sterker verhandelingstandaarde
om werkers en verbruikers te beskerm. ‘n Deel hiervan is die wegbeweeg van die
huidige benadering van die beplande veroudering van produkte.
14
Baie van hierdie sake is teenwoordig in
die meer komplekse stelseldiagram van
die ‘ekonomiese enjin’ hiernaas,
waarmee beter vordering na blywende
welvaart gemaak kan word.
12 Blywende welvaart
Die wêreld het met ‘n ernstige dilemma
te doen. Om groei te beperk skep die
risiko van ekonomiese en sosiale
ineenstorting. Om groei aktief na te jaag skep ernstige gevare vir die ekostelsel waarop ons
vir ons langtermyn oorlewing afhanklik is. Die dilemma is dat die saak grotendeels nie in
hoofstroombeleid aandag kry nie, maar dit begin wel in die openbare debat al meer sigbaar
word. Die enorme skaal van die taak word meerendeels nie erken nie. As voorbeeld in ‘n
wêreld met nege miljard mense wat na Westerse lewenstandaarde aspireer, moet die
koolstofintensiteit van elke dollar van ekonomiese uitset 130 keer laer wees in 2050 as
vandag.
Nuwer inligting
Daar is ‘n aktiewe debat aan die ontwikkel oor hierdie en verwante onderwerpe, Dit sluit in
die ekonomiese en politieke stelsels van die toekoms, geregtigheid, billikheid,
verbruikersgedrag en natuurlik die fisiese omgewing. Onlangse bronne waarvan ek bewus is,
wat almal dui op aansienlike verandering in die toekoms, is:
The Upside of Down: Catastrophe, Creativity, and the Renewal of Civilization (2006) –
Thomas Homer-Dixon.
The End of Growth: Adapting to our new economic reality (2011) – Richard Heinberg.
The Great Disruption: How the Climate Crisis will Transform the Global Economy (2011)
– Paul Gilding.
Enough Is Enough: Building a Sustainable Economy in a World of Finite Resources (2013)
– Dietz & O'Neill.
The Bubble and Beyond: Fictitious Capital, Debt Deflation and Global Crises (2012) –
Michael Hudson.
Paper Promises: Money, Debt and the New World Order (2011) – Philip Coggan.
What Money Can’t Buy: The Moral Limits of Markets (2012) – Michael Sandel.
The Spirit Level: Why more equal societies almost always do better (2009) – Wilkinson &
Pickett
Justice: What’s the Right Thing to Do? (2009) – Michael Sandel.
The Enigma of Capital and the Crises of Capitalism (2010) – David Harvey.
How Much is Enough? Money and the Good Life (2012) – Robert & Edward Skidelsky.
15
Hierby moet natuurlik ook die baie inlgting gevoeg word wat op die internet beskikbaar is,
soos:
New Economics Foundation – navorsing, beleidsanalise, gesprek.
Baie hulpbronne op webblad van Equality Trust, www.equalitytrust.org.uk.
Zeitgeist Movement, www.thezeitgeistmovement.com, ook tak in Suid-Afrika.
Earth Policy Institute, nuutste boek is World on the Edge.
SA Catholic Bishop’s Conference: Justice and Peace Department
En baie ander.
Naskrif
Die oorsaak van die probleem en moontlik ook die rede vir traagheid om te verander word
waarskynlik heel effektief met hierdie aanhaling verklaar:
The modern conservative ... is engaged in one of man’s oldest exercises in moral
philosophy. That is the search for a superior moral justification for selfishness.
John Kenneth Galbraith
(Aangehaal deur Paul Hawken in Blessed Unrest, 2007.)