25
Drakenstein se Mense Vertel… Drakenstein se Mense Vertel…

Drakenstein se Mense Vertel… · toelaat, was die akkers wat byderhand was. Dit was net om iemand so ver te kry en aan te spoor om 'die oes in te haal'. Ja, dit was (en is nog steeds)

  • Upload
    others

  • View
    15

  • Download
    0

Embed Size (px)

Citation preview

Drakenstein se Mense Vertel…Drakenstein se Mense Vertel…

Projekbestuurders

Die projekbestuurders is Elizabeth Bowes van die Paarl Museum, die plaaslike skrywer Petro Gordon en Catherine Snel en Janine September van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument. Die projek het oor ses maande gestrek. Baie dankie aan elke deelnemer vir u deelname aan hierdie projek om sodoende die storieverteltradisie lewend te hou (foto: Isabeau Botha).

Inhoud

Agtergrond van projek ............................................................................................................................... Ceciliastraat en Antjiesomers, Johan Perold .............................................................................................. Daar's geld in akkers, Johan Perold ........................................................................................................... Die eensame tog, Merle Danhouse ............................................................................................................Die rooi das, Merle Danhouse ....................................................................................................................Die ring, Jacques Basson ...........................................................................................................................Die verhaal van die raammaker Thomas Louw, Stephanè Siegrühn ..........................................................Innie sop! Sheree Juries ............................................................................................................................Keer hom terwyl hy klein is (met apologie aan Tolla van der Merwe), Johan Constabel ............................Magrieta van Wyk se manewales, Flora Tielingse ......................................................................................Saak van gebed, Mercia May ......................................................................................................................Herinneringe van vervloë dae, Joyce de Villiers (geskryf met behulp van haar seun Gerhard de Villiers). Tekkie en Skoen se uitstappie, Amelia Solomons .......................................................................................

34579

1112141516171822

2

Ter viering van Internasionale Museumdag wat jaarliks op 18 Mei herdenk word, het die Afrikaanse Taalmuseum en -monument en die Paarl Museum, tesame met die skrywer Petro Rhode, 'n storievertelprojek, Drakenstein se Mense Vertel, aangebied.

Hierdie projek is deel van die museums se vieringe ten opsigte van Internasionale Museumdag, wat jaarliks wêreldwyd op 18 Mei herdenk word. Dié dag is deur die Internasionale Komitee van Museums (ICOM) ingestel om mense bewus te maak van die belangrike rol wat museums in die samelewing speel. Vanjaar se tema is “Museums (Herinnering + Kreatiwiteit) = Sosiale Verandering”. Deur hierdie projek poog ons dan ook om hierdie tema gestand te doen.

Ons almal het 'n storie om te vertel en hierdie stories vorm deel van ons ryke kulturele en erfenistradisie. Deur middel van hierdie stories vermaak die mens homself en andere – 'n bevestiging van die storieverteller se skeppingsvermoë. Daar bestaan baie stories in die volksmond wat nog nie geboekstaaf is nie, en deur middel van projekte soos hierdie word hierdie mondelinge tradisie vasgepen sodat die stories nie verlore kan raak nie maar vir toekomstige navorsing beskikbaar kan wees. Die bewaring van hierdie stories is van onskatbare waarde omdat dit ons bewus maak van die ryke erfenis van stories.

Die inwoners van die Drakenstein, vanaf leerders in graad 10 tot volwassenes, is uitgenooi om aan die projek deel te neem. Stories ken geen perke van ouderdom nie. Die jonger geslag het dalk 'n goeie storie by 'n ouer persoon gehoor en gee dan weer hul eie interpretasie daarvan. Wanneer inligting mondelings gehoor en oorvertel word, kry dit dikwels 'n stertjie by en dit is wat dit so interessant maak. Hierdie projek poog dus om die stories van oud en jonk bymekaar te bring sodat ons almal van mekaar kan leer en die waarde van stories kan besef.

Daar is gepoog om baie naby aan die oorspronklike vertellings te bly, maar daar is tog 'n sekere mate van teksversorging gedoen. Navorsers wat belangstel in die ongeredigeerde vertelling kan die Afrikaanse Taalmuseum en -monument en die Paarl Museum kontak om toegang te verkry tot die oorspronklike opnames of teks. Die onderskeie museums neem nie verantwoordelik vir die inhoud van die stories nie. Die inhoud is dié van die vertellers.

Agtergrond van projek

3

Dit is soos dit was vir kinders uit 'n tyd toe kinders nog kinders was en almal het gewéét om te pasop vir Antjiesomers.

Daar in die Suider Paarl waar die rivierpad begin, was eers Ceciliastraat. Dit was 'n lekker speelstraat; amper 'n kinderstraat, want daar het nie baie karre gery nie. Die lekker stukkie was die bokant van die hoofstraat, af tot by die treinspoor – net tot daar. Ons mag nie oor die level crossing gaan nie, want die trein het al mense daar doodgetrap. Maar dit het ons min gepla, want daar was ander plekke waar ons graag saamgekoek het. Om ons dan uit die kwade te hou soos 'n kolliehond wat skaap oppas, moes ons hoor van die nare Antjiesomers.

Missies Fuchs se winkel was bo-op die hoek teen die hoofstraat. Die winkel het straatkant 'n breë stoep gehad; sykant was 'n kelder sonder deur. Dit was op dié stoep waar ons groepiegemaak het om te sien wat in die straat aangaan, en waar ons geweet het ons nie welkom was nie, want kort voor lank het Katie of Wilma met 'n paar suurklontjies in diehand vir ons kom verwilder. Maar altyd met die waarskuwing: “Bly weg van die kelder af, hoor! Antjiesomers het laasnag daar geslaap.” Ons het dan wyd om die kelder se bek straataf geskoert.

Dan was daar net 'n entjie verder af in die straat 'n vierkantige gebou met mure van sinkplate wat plek-plek rooi geroes was. Een groterige venster het sykant uitgekyk en 'n enkele deur het straatkant toe oopgemaak. Dit was Attie se plek. Hy was 'n lang man, donker van gelaat, altyd met 'n leervoorskoot en 'n hoedjie skeef op sy kop. Daar het hy skoene versool. Ons het graag daar op die drumpel van sy deur saamgebondel en die ore van sy kop af gesels, maar niks verder as die drumpel nie. Dan het hy ons aangeraai om liewer verder af te gaan speel: “Voordat Antjiesomers met haar boggelruggie en punthoedjie hier verbykom op soek na kinders om te toor.”

'n Ander persoon by wie ons graag gesels gesoek het was Skeelpiet. Eintlik was sy naam net Piet, maar almal het hom Skeelpiet genoem, want sy een oog het anderpad gekyk as die ander oog. Ons het partykeer gewonder of Antjiesomers iets daarmee te doen gehad het. Hy was ’n plaasarbeider wat gereeld tuinwerk by woonhuise hier in Ceciliastraat kom doen het en hy het dit verdra dat ons oor die draadskeiding kom leun waar hy gewerk het. Maar wanneer ons lastig geword het, het hy ook vir ons aangeraai om by die huis te kom voordat dit donker word: “Antjiesomers kan sommer’n vlermuis in jou hare laat vlieg, hoor,” het hy gewaarsku en met sy hand oor sy kop wat kaalgeskeer was, gevee. Op so ’n manier is ons heel week in toom gehou; was ons so soet dit het amper van ons afgedrup. Maar ons het uitgesien na ’n ander speelding op Vrydagmiddag wanneer my oom Kallie met sy bicycle van die werk af kom en vir elkeen van ons kans gee om te leer bicycle ry. Hy het jou opgetel en op die saal laat sit maar jy moet pedal en stuur. Hy het die fiets aan die saal gegryp en met jou hoogte af gedraf. O, dit was ’n lekker dolle wiggel-waggel-rit, reguit of skeef op die saal, wat jou asem weggeslaan het en dit het jou ook laat vergeet van alles waarvoor jy moes “pasop!”

Ceciliastraat en AntjiesomersJohan Perold

4

Daar’s geld in akkersJohan Perold (’n weergawe hiervan het al in die Paarl Post verskyn)

“Luister, julle moet weet: daar's geld in akkers!” Dis wat oom Niekie Rossouw graag vir ons kaalvoet-kinders in die Bo-Paarl vertel het. “Toe, dis maklik. Dis net vir optel,” het hy ons gewoonlik aangepor. Maar eintlik was dit nie ons geldsake wat vir hom getel het nie; hy was sonder om te skroom agter die akkers aan.

Sien, die oom was baas van sy eie slaghuis. Soos die gebruik toe was, het hy sy besigheid sommer gerieflik in die woonbuurt gehad, in die hoofstraat, Suider-Paarl, soos jy opkyk in Plantasiestraat. Seker omdat hy 'n sakeman was, kon hy daardie dae, behalwe 'n bietjie tuinmaak en enkele hoenders, ook 'n paar varke op sy eie werf aanhou, om as't ware lewensbelangrike voorraad op te bou. Dáárdie varke moes gevoer word, en hulle stapelvoedsel, soos die seisoen dit toelaat, was die akkers wat byderhand was. Dit was net om iemand so ver te kry en aan te spoor om 'die oes in te haal'.

Ja, dit was (en is nog steeds) doodgewoon akkers, vruggie van die akkerbome wat op die dorp se sypaadjies groei. Die goedjies was meestal 'n lastigheid omdat hulle geraas het wanneer die wind waai, wanneer hulle los gekom en op 'n huis se sinkdak geval het. Wanneer hulle dik gelê het op 'n sypaadjie was dit ongemaklik en gevaarlik om daaroor te loop omdat hulle onder jou voete wegrol. Eintlik was hulle nie juis nuttig nie, behalwe vir eekhorinkies wat daarvan gevreet het en dan, slagters kon hulle otjies daarmee vet maak.

Kinders het gereken oom Niekie kon maklik praat, want so 'n knolletjie is klein, bitter klein. Maar hy was gewillig om vir jou te betáál om dit op te tel en vir hom tot by die slaghuis te bring. Ses sjielings en 'n sikspens vir 'n streepsak vol. Of een sjieling en 'n sikspens vir 'n paraffienblik vol – ses blikke op 'n sak (as ek reg onthou). Dit was goeie geld.

Al het die oom gesê dis net vir die optel, was dit ook nie rêrig 'net vir die optel' nie, want al dra die bome almal vruggies, was hulle nie almal eenders nie. Dit het gewissel van groot, vet, donker bruines tot sulke pieperige lang maer misvormde goetertjies en al die soorte tussenin, maak nie saak nie, maar hoe vetter die vrug, hoe minder kere hoef jy te buk om 'n sak vol te kry.

Om die optel so goed as moontlik te maak betaal moes 'n mannetjie die bome ken en wéét waar die blink, vet, gesonde, rypes lê. Dan moes hy ook die eerste by wees nadat die suidoos 'n dag of twee lekker sterk gewaai het – goeie kapitaal gestrooi het. Gewoonlik was die kompetisie tussen die optellers nogal kwaai.

Almal in 'n buurt het geweet waar die 'goeie' akkers gelê het, waar hulle dik gelê het, net reg vir bymekaar maak. Daar was veral twee bome tussen De Waal- en Kampstraat en daar was ook 'n lekker een by Enslinstraat se hoek, maar toe hy begin vrot het, is hy afgesaag. Die ou groot boom op die hoek van Ceciliastraat met die hoofstraat, dis nou waar die hokkie met die tiekiefoon gestaan het, daai boom se akkers het jou hande sommer gou-gou vol gemaak.

5

By oom Niekie gelewer, was dit meer as net kitskos vir sy swyne. Vir later wou hy ook nog kos hê. Die oorskot is opgegaar en gedroog om dit as winterskos weer net oornag in water te laat week. Ek het ook verneem dat so 'n lading kan gis! Dit moet met 'n streepsak toegemaak word en 'n paar dae laat lê word.

Wys jou net, elke knaap moes net oplet om te sien 'waar die geld vir optel lê'. Dit laat 'n mens wonder waar om varke te kry wat nog 'n aptyt vir akkers het.

6

7

Dis 'n triestige wintersmiddag, maar daar heers groot opgewondenheid, want Frikkie is gebore. Dit is nou tant Sanna en oom Frik se eerste kind. Al die mense op die plaas kom kyk na die fraai ou seuntjie met die swart haartjies. Tant Sanna pronk en koer om die ou seuntjie, ten spyte van haar ou huisie wat vandag betrap en bemors word, want sien, almal het altyd gepraat oor die gebreklike kinders wat sy en die oom sou hê, oor hulle twee mos niggie en neef is.

Die dae het egter maande geword en tant Sanna het bekommerd begin raak oor haar seun wat sulke snaakse geluide maak, en nie 'n woord kon sê wat verstaanbaar was nie. Sy kon egter so min aandag daaraan gee, want sy was vir die tweede keer swanger en die ou dokter was so vér en die plaaspaaie so sleg. Frikkie het al groter geword en voortgegaan deur hierdie snaakse geluide te uiter en Ou Dokter het net gesê Frikkie is 'n bietjie stadig vir sy ouderdom. Almal, het maar gedink Frikkie is verstandelik agter en so was hy maar behandel deur vriende, familie en die bure. Intussen was tant Sanna al weer swanger met haar derde kind, nog 'n ou meisiekind. Die dae het maande geword, en later jare, en tant Sanna het net weer en weer swanger geword, sonder om die tyd te kry om na haar oudste seun om te sien. So het Frikkie tuis gebly en kon hy nie die skool bywoon nie, want hy was volgens die plaasdokter verstandelik vertraag.

Frikkie het soggens verlangend gestaar na die ander kinders terwyl hulle skool toe gaan. Hy het gewonder: “Hoekom kan ek nie ook skool gaan nie? Waarom is ek anders as ander kinders?” Niemand kon hom verstaan nie, of het ooit regtig geluister nie, en so het hy dan sy dae verwyl deur vir sy moeder hout te maak en die vuur te stook. Sommige dae het hy ook sy moeder help kos kook, veral die tye toe sy sussie siek was. Hy het dan ure op die stoep gesit en almal op die plaas verlangend dopgehou. Frikkie het soms vir ure in die bos rondgedwaal, dan moes sy moeder hom daar gaan soek. Hy het ook eindeloos deur die boeke geblaai en belangstellend na enige prent gestaar en so gehoop om te kon skoolgaan.

Frikkie het ouer geword en ook bewus geword van meisies, maar nie een van die meisies het in hom belanggestel nie, want hy kon nie reg praat nie en het ook nie skoolgegaan nie. Frikkie wou so graag aan hulle raak, want hul hare en sagte velle het hom so aangetrek. Die meisies het altyd geskreeu en gegil dat hy hulle seermaak, en dan het Frikkie stadig omgedraai en seergemaak weggeloop. Soms selfs bos toe. So het die dae verbygesnel, met niemand wat verstaan het wat hy sê of hoe hy voel nie.

Eendag het Frikkie baie siek geword. Hy het sleg begin eet en sy maag was ook baie ongesteld. Sy suster het hom hospitaal toe geneem en dit was die eerste keer dat hy weer by 'n dokter kom sedert die ou dokter gesê het dat hy verstandelik vertraag is. Verskeie toetse is gedoen en daar is toe gediagnoseer dat die oorsprong van sy siekte vanuit sy keel is. Die dokter se woorde was: “Sanna het jy nooit geweet dat Frikkie uitgroeisels uit sy keel gehad het en dat sy mangels al die jare vergroot was nie?” Sanna het stadig neergesak en sommer skielik ouer as haar jare gevoel.

Die eensame togMerle Danhouse

Dokter, sê u dat my kind nooit verstandelik vertraag was nie?” Die dokter het geduldig geantwoord dat die uitgroeisels heel moontlik sy spraak kon geaffekteer het, maar dat Frikkie nou liefde en aandag nodig gehad het. Hy het ongelukkig keelkanker ontwikkel en was reeds in 'n gevorderde stadium. Rou snikke het deur Sanna se hele wese gebars soos dierealiteit haar wêreld binnestroom. Dit was egter te laat. Frikkie het reeds stadig en stadig begin te kwyn. Maar in hierdie uur seker die meeste aandag ooit gekry. Frikkie se susters het elke dag by sy bed kom sit en met hom gesels al kon hy nie antwoord nie. Hulle het ook hul moeder gehelp om hom te versorg, en so het die dae ook verbygesnel.

Stadig sak die kis in die sagte grond in weg, met die donker wolke in die lug wat soos 'n beskermende kombers oor die skouers van die begrafnisgangers hang. 'n Rustige stilte vang die weemoed van die klein ou familiegroepie bymekaar op. Die dominee se stem weerklank nog in die stilte: “Frikkie het rus gevind in Iemand wat hom verstaan.”

8

Die rooi dasMerle Danhouse

Oupa Buff was 'n man wat bedags vroeg opgestaan het en dan sy dag begin het met sy eerste sluk kruie. Dis nou getrekte koejawelblare en nog ander wat net hy weet waarvoor alles gebruik word. Hierdie kruie het hy nou gesit en drink net voor hy weer die hospitaal moes besoek vir sy roetine-ondersoeke. Alles wat hy eet of drink word noukeurig bestudeer want hy kan mos nie die dokter teleurstel of wys dat hy verkeerd geëet het as sy bloeddruk en insulienvlakke so hoog is nie. Dit is dus vir hom so belangrik, so hy handel dit eerste af en maak dan seker dat die hond se waterbak gevul is. Hy is dan reg vir die dag en neem dan sy geliefde sitplek in daar op die voorstoep. Met die eerste tekens van 'n mens wat sigbaar is in die straat, begin sy môregroet, deur sy hand te waai of sy stem wat weergalm deur die stilte van die oggend. Duidelik kom die antwoord terug van elke persoon, hetsy op pad werk toe of na die skool: “Môre oom Buff!” Dit moet jy weet: hy ken elkeen by die naam en elkeen se verhaal tot in die fynste besonderhede.

Oupa Buff ontvang ook gaste die heeldag deur. Indien daar niemand tuis is nie, want die ander familie werk bedags, speel die radio dat die ruite tintel en die klank weerklink . Hy hou hom besig met die skottelgoed was en die klein takies in die huis so hinkepinke deur, want hy het jare gelede 'n ou ongeluk gehad en het so 'n effense probleem met sy been. Oupa Buff antwoord die foon so met 'n harde stemtoon so asof almal aan die anderkant 'n bietjie doof is en ook hom nie duidelik kan hoor nie. Hy praat ook nie lank nie, want jy sien, hy glo die ander persoon maak sý telefoonrekening hoog al was dit 'n oproep wat hy ontvang het. “Ai, die mense kan altyd so lank praat, dié wat die telefoonrekeninge so hoog bly!” is sy geliefde woorde.

Nou ja so, gebeur dit toe dat sy dogter 'n oproep by die werk ontvang dat haar pa flou neergeval het. Sy haas haar huis toe om te ontdek dat hy al weer op sy geliefde stoel op die voorstoep sit, al wuiwend vir die pad se mense. Sy is baie angstig en wil net weet wat met haar pa gebeur het, ma' hy is ewe ernstig as hy sê: “Ai Kinna, dit was maar net 'n ou klein misverstand. Jy kan maar nou weer gaan werk. Dinge is nou al weer reg.” Sy hele liggaamshouding wys sommer ook dan dat hy klaar gepraat het, en dan gaan hy net verder met sy gewuif op die stoep, onwillig om verder enigiets te sê. Sy dogter roep toe die buurvrou, tant Anna, en wou toe weet of sy weet wat fout was.

Tant Anna kyk toe so met oë wat amper uit hul kaste wil-wil val en begin ernstig vertel. Toe sy glo verby die huis geloop het, het sy oupa Buff in die deur sien lê. Sy het hard sy naam geskreeu. Tant Anna is byna verwilderd as sy verder beskryf. Sy sê oom Buff het doodstil gelê met oë wat styf en stil in sy oogkaste lyk en hy kon amper nie roer nie. Sy het by die huis uitgehardloop en hard geskreeu dat Sarah, die buurvrou, moet kom help. Sarah, die buurvrou wat langsaan woon, het wakker geskrik van die geraas, want sy het die vorige aand nagskof gewerk. Sy het skoon vergeet sy het nog haar pienk nagklere aan en het netso omgehardloop met hare wat in verskillende windrigtings loer, en probeer help. Hulle het met 'n gesukkel oupa Buff op sy sy gedraai, want sien, hy was 'n groot man en baie swaar. Hulle het sy mond probeer oopmaak om vas te stel of hy nie moontlik verstik het nie. Tant Anna het so al huilende die ambulans gebel, want hulle was te bang dat oupa Buff sou sterf. Sy oë het wild na hulle geloer. Sy het al hoe harder begin snik soos sy begin dink het aan hoe sy haar beste buurman se groet soggens gaan mis. Sarah het ook saggies begin huil

9

want sy het ook nie geweet wat nog verder gedoen kan word nie.

Toe die ambulans met skreeuende sirenes voor die deur stop, het beide tant Anna en Sarah tussen trane deur en met handgebare probeer verduidelik wat gebeur het. Die ambulansmanne het beleefd die dames gevra om terug te staan en die oom die nodige ruimte te gee. Hulle het met ywer die oom se klere begin losmaak en hom gemaklik begin maak. Intussen het die straat se mense begin nader staan, want almal het mos vir oupa Buff geken. Toe steek die ambulansman sy hande uit om oupa Buff se broek los te maak; toe sien ons dit: 'n groot rooi en wit das is om oupa Buff se lyf gedraai en styf vasgeknoop. Die ambulansmanne het omtrent gesukkel om die das wat met verskeie knope geknoop is, los te maak. Hulle was verplig om die das los te knip so styf was dit vasgeknoop om oupa se lyf.

Skielik hoor ons oupa Buff se stem hard en duidelik: “Eindelik, wat 'n verligting!” en 'n harde sug. Sarah en tant Anna begin so hard te huil van verligting, want oupa Buff het vir die eerste keer iets gesê. Die ambulansmanne vra toe ewe versigtig vir die oom wat dan nou kwansuis gebeur het, terwyl hulle sy arm oplig om sy bloeddruk en polsslag te meet. Oupa Buff sê toe op sy eie unieke manier: “Ai Kind, ek is jammer dat ek julle so baie moeite gegee het. Ek het maar net die das te styf om my lyf vasgeknoop en in die proses om dit 'n bietjie losser te maak gestruikel en my wind uitgeval.” Die ambulansman antwoord: “Ja, en Oom is gelukkig want die mat waarop Oom geval het is lekker dik, so Oom het nie so baie seer gekry nie. Dit lyk Oom gaan so bietjie lyfseer hê vir 'n paar dae.”

“Pa, waarom die rooi das en nie Pa se belt nie?” wou sy dogter weet. “Ai, my kind,” sê oupa Buff weer op sy ou trant, “ek wou maar net iets anders probeer, want sien, die dasse hang so verniet daar in die kas en word nie juis gebruik nie!”

10

Die RingJacques Basson

Gedurende die Boereoorlog, 1899 tot 1901, het twee broers van Daljosafat, Jan en Tielman de Villiers, aan die Boere se kant geveg. Hulle was op daardie tydstip werksaam in die goudmynbedryf wat toe kort tevore van die grond af gekom het aan die Witwatersrand. Hulle suster, Helena de Villiers, ook van Daljosafat het steeds in die Paarl gewoon. Kort voor die einde van die oorlog is Jan in die Vrystaat, gedurende 'n veldslag, gewond. Saam met hom het 'n soldaat vanaf Mosselbaai omgewing geveg, ene Robinson van die bekende Robinson-boere van die Suid-Kaap. Jan de Villiers het geweet hy gaan nie sy beserings oorleef nie en het vir Robinson 'n ring gegee waarop sy voorletters, J De V, gegraveer was met die versoek dat, indien hy ooit in die Paarl sal kom, hy die ring aan sy suster, Helena, sal gee. Jan is toe oorlede en Robinson het die ring by hom gehad.

Net voor die einde van die oorlog is Robinson se perd gewond en is die perd dood. Met die einde van die oorlog het Robinson nie geweet hoe hy terug in Mosselbaai sonder sy perd gaan kom nie. Maar, boer maak 'n plan, en hy bou toe 'n houtfiets waarvan die wiele van een of ander perdewa verkry is. Met hierdie wawielfiets het hy en die ring in sy sak toe vanaf die Vrystaat terug Mosselbaai toe gery.

Robinson het die ring gehou en toe sy dogter, Olive Robinson, gedurende die twintigerjare ingeskryf is by Girls' High in die Paarl het hy die ring saamgebring toe hy haar in die koshuis by Girls' High kom sit het. Die Paarl was toe nog 'n klein dorpie en dit het vir Robinson nie lank geneem om uit te vind waar hy vir Helena de Villiers kan opspoor nie. Sy was toe getroud met JG Basson (my oupa) van St Omer, Daljosafat. Helena se seun, Willa Basson, het toe die ring vir baie jare gedra en ek het dit toe geërf.

Die vermoede is dat die ring van die eerste goud wat aan die Rand gesmee is, van 'n baie sagte goud, gemaak is; die ring is dus baie afgeslyt en ek hou dit in 'n kluis om te bewaar en dra dit nie meer nie.

Olive Robinson is later in die Paarl met Albertus Basson getroud, wat een van die stigters van Simonsvlei Wynkelder was en ook 'n prominente rol in die lokale kwekersvereniging gespeel het. Olive is 'n paar jaar gelede in Pretoria oorlede in die ouderdom van nege-en-negentig jaar. Die hele storie van die ring uit die Boereoorlog en hoe dit by Helena Basson (née De Villiers) uitgekom het is persoonlik deur haar aan my bevestig. Terwyl ek aan die Universiteit van Stellenbosch studeer het, het ek 'n kleinseun van Robinson ontmoet wat toe tot my groot verbasing my meegedeel het dat die fiets met die houtwiele steeds in hulle familie bestaan en ek het dit toe by Mosselbaai se museum opgespoor en besigtig.

11

Die verhaal van die raammaker Thomas Louw Stephanè Siegrühn

Thomas is en was 'n raammaker van formaat. Hy was alombekend en beroemd vir sy raamwerk en ander houtwerke in die Paarl. Thomas is op 'n plaas in De Doorns, op die 31ste Januarie 1939, presies die selfde dag en jaar as Eugene Terblanche, gebore. Ek het hom geterg en gesê Eugene is sy terrible twin! Thomas het ses en 'n half jaar vir my geraam in my besigheid, naamlik House of Frames (1992 tot 1998). My seun Berthold, Thomas en ek het letterlik die louere weggedra tussen ons, met Thomas se raamwerk en ons aandeel, my keuse van monteerborde en rame en my seun wat saam met my en Thomas ingewikkelde probleme opgelos het!

Thomas se pa het as soldaat in die Noorde vir die alliansie gaan veg gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Hy is erg beseer en het huis toe gekom met 'n metaalplaat oor 'n oop kopwond en het straf begin drink. Thomas se ma en jonger suster het net eendag op die trein geklim en tot vandag toe nooit terug gekeer nie. Sy pa het vir Thomas ingelig daaroor. Thomas het homself letterlik alleen in die wêreld en op straat bevind. Hy het rondgedwaal en vir mense los werkies gedoen in ruil vir kos. Toe hy ongeveer agt jaar oud was, het hy in Nuwestraat (naby Cathmar) vir 'n blanke vrou wat voor in haar tuin gestaan het, gevra of hy die werf kon skoonvee in ruil vir kos. Nadat hy klaar gevee en geëet het, het die vrou gesê hy kon by hulle bly en in die buitekamer slaap. Thomas was verheug. Sy het ook seuns van sy ouderdom gehad en hulle was spoedig die grootste maats, en hulle maats was ook sy maats; naamlik die bekende blommerangskikker en oud- manlike verpleër, Pieter Coetzee, en Rinus Muller, die bekende kunstenaar-skilder.

Thomas het skoolgegaan tot en met standard 8 en toe begin om homself as meubelmaker te bekwaam, maar weens die Nasionaliste se beleid van job reservation was hy nie toegelaat om 'papiere' te hê. Hy was ten volle gekwalifiseerd maar sonder 'papiere'. Die Duitse kunstenaar en raammaker wat by die Keiser Wilhelm Instituut in Duitsland gekwalifiseer het, het Thomas genader en hom 'n werk as raammaker aangebied. En so het Thomas se leerproses as meester-raammaker by August Heckmann begin, self 'n meester-raammaker en perfeksionis. Thomas was vir baie jare betrokke by August en sy seun. Thomas was reeds 'n legende in die Paarl. Nadat August Heckmann se besigheid na baie jare tot 'n einde gekom het, het Thomas op versoek van die Staples-familie by hulle as raammaker aangesluit. Om presies te wees het hy die 2de November 1992 oorgekom na ons pas gestigte raambesigheid, House of Frames, waar ons ses en 'n half jaar baie lekker saamgewerk het. Thomas het heeldag draadloos geluister en etenstyd die vorige dag se koerant gelees. Sy aangenome blanke familie se seuns het ook van tyd tot tyd by hom kom tee drink en dan het hulle tog te lekker gesels. Van sy ou vriende soos Rinus Muller en Pieter Coetzee het ook kom dagsê en dan het hulle tog te lekker oor die ou dae gesels toe hulle kleilat by die Bergrivier gespeel het of teen Paarlberg uitgestap het om te gaan baljaar. Hulle jongdae saam was vol pret en plesier.

Terwyl ons House of Frames bedryf het, het ons ook 'n kunsgalery by ons ander huis bo in die pad, op die hoek van Du Toitstraat en Pastorielaan, gehad, waar ons menige kunsuitstallings gehou het. Die openinge was altyd 'n groot geleentheid. Dan was Laan Rust 'n miernes van aktiwiteit. Thomas se vrou, Rachel, en dogter, Franciska, was ook altyd

12

daar en so het ons as families ook baie na aan mekaar beweeg.

Thomas is en was 'n hoogs intelligente en besonder goed ingeligte persoon. Hy kon met insig en begrip oor enige onderwerp gesels – geskiedenis, oertye, politiek, kuns, sport (veral met my man oor rugby en krieket). Hy het ook 'n ongelooflike sin vir humor gehad. Een oggend terwyl hy besig was om te raam, luister hy na 'n boekbespreking oor Other People's Children, geskryf deur 'n maatskaplike werkster oor hoe niemand ontkom om betrokke te wees by ander se kinders nie. Thomas vertel toe vir my hoe hy as jongman in sy spaartyd melk afgelewer het vir Malansmelkery wat destyds in Hospitaalstraat geleë was.

Thomas het as jongman op 'n dag in Lady Greystraat, Paarl, afgestap en 'n mooi, jong vrou sien op in die pad stap. Hy het dadelik geweet dat sy die vrou vir hom is en by navraag tussen vriende het hy gehoor dat haar naam Rachel is en dat sy die beste ballroom dancer in die kontrei is. Dit was love at first sight en so is die twee later getroud. Hulle het vier kinders gehad: Seuns, Abraham en Marius, 'n dogter genaamd Franciska wat die ma is van die gouemedalje-balletdanseres Keenan Louw – Thomas se oogappel en trots – en 'n seun genaamd Juan wat lewenslank in 'n rolstoel is as gevolg van spina bifida. Een groot familie wat baie vir mekaar omgee en lief is. Thomas se tuin staan soos 'n oase uit in sy omgewing – blomme, groente en roosranke voor sy stoepie. Hy is nie net 'n vakman van formaat nie, maar 'n kosmaker en broodbakker soos min.

Thomas het ook die lewensverhaal van omtrént baie Paarliete geken. Hy het ook die Bailey broers wat Peter Cellars begin het, goed geken asook hulle lewensverhaal. Hy het ook die bekende kunstenaar Selwyn Pekeur geken, asook sy pa wat 'n speurder was. Thomas het die Paarl soos die palm van sy hand geken – al die winkeltjies wat in Bredastraat was – Jood, Moslem en Christen – en by dié se kinders se huise gespeel. Hy het vertel hoe al die rasse en godsdienste in liefde en vrede saamgeleef het en hoe, ná die Nasionaliste se gedwonge verskuiwings, mense vervreemd van mekaar begin raak het. Hy het die ontelbare huise van die onderkant van die dorp se mense se lief en leed geken – vandag Sasko se kantore, die Boland Bank-gebou, polisiestasie, Shoprite, Checkers, La Rochelle-hokkieveld, 'n parkie op die hoek van Du Toit- en Derksenstraat, sowel as die tennisbane en ontspanningsaal in Du Toitstraat. 'n Paar van die huisies staan vandag nog in Du Toitstraat. Baie van die huise was bewoon deur mense wat by die wamakersfabrieke gewerk het.

Thomas het sy laaste jare, voordat hy op sewentigjarige leeftyd afgetree het, by Corlia en Hein Stramroud gewerk as raamwerker en nog uitstekende raamwerk gedoen by hulle raamwerkwinkel, Solo Framing. Rachel het vir Thomas in alles ondersteun en het 'n onwrikbare geloof in hom as mens tot vandag toe. Hulle is as gesin baie geheg aan mekaar en staan deur dik en dun bymekaar! Ek sou sê dat Thomas 'n baie besondere mens sowel as raammaker en meubelmakerin die Paarl was en is en 'n ereplek verdien!

13

Innie sop! Sheree Juries

14

My beste herinneringe vanuit my kinderdae is die lekke' tyd net voor slapenstyd. Ek onthou nog

hoe my ma vi' o's een marrag dié storie ve'tel. My ma het daai tyd oek altyd huiswerk gedoen by

die blankes. Ma vertel dat da' eenkeer by 'n blanke vrou 'n ousie saam met haar gewerk het. Een

oggend, soos hulle saam werk toe loep ve'tel die ousie nou vi' ha' wat sy nou loep anvang het da'

by die wit missies se huis. Dit was so 'n koue dag gewies en die missies het toe besluit hulle gan

gou hie' deur dorp toe. Die missies gee opdrag dat Ousie die fort moet hou da' by die hys en dat

sy nou 'n lekker pot sop moet maak. Verder sê die missies dat Ousie soema lekker pietersielie oek inkap en binne innie

sop moet gooi. My ma sê dat die missies-hulle toe da' weg is en eers lank daarna het hulle trug huis toe gekom.

Julle moet wiet, daai dae, as die missies 'n order gegie het, dan moet djy nie nog uitvra of trugpraat nie. Djy doen

net soes djy instruct word!

Toe die hysmense terugkom ná hul outing het Ousie die tafel gedek en die familie het al die sop opgeïet! Die missies

kannie ve'staan hoekom die hond, Pietersielie, nie vir hulle kom groet het nie en nie by hulle kom sit hettie toe hulle

geïet het nie. Sy roep na die hond, ma' al wat uitko' is ou Pietersielietjie! Later vra die missies heel benoud vi' Ousie wa'

op dies aarde Pittersielie is. Arme Ousie is asvaal en is nou heel gerattle en het skoon die biewerasie van skok!

Ousie antwoord haar: “Ma' Missies, Missies het 'an vi' my georder ek moet Pittersielie opkap en innie sop gooi!”

Keer hom terwyl hy klein is!Johan Constabel (met apologie aan Tolla van der Merwe)

Ek en twee manne het op 'n stadium by 'n Duitser werk gekry. Ons moes kampe op 'n plaas maak,

wat groot genoeg gemaak moes word sodat sy vee daarop kon wei. Op hierdie grond het glo

destyds 'n treinspoor deur die plaas geloop. Die volgende dag is ek en die twee manne besig om

die kampe af te baken. Ons verstaan nie hoekom die Duitser so in die rondte loop nie.

Die volgende dag het net weer begin en ek vra vir die een ou: “Man, wat issit met die Duitser?”

Ons het nou al mooi opgelet, hy staan in die middel van die treinspoor en hy kyk so rond. Hy sê

my hy weet self nie wat die Duitser kyk nie. Die aand kom ons toe weer by die huis waar ons nou

in die tent slaap en ons is besig om kos te maak en die keteltjie van ons wat ons altyd die

Kloofkoffie in maak staan daar en kook en ons is besig om te eet. Die volgende oggend is ons weer terug na die grond

toe en die Duitser staan weer in die middel van die treinspoor. Na 'n tydjie hoor ek net iets wat aankom en dit klink soos

'n trein, maar ons het nooit geweet dat treine daar verbykom nie. Ons het maar gedink dit is net 'n treinspoor wat daar

staan en die Duitser staan vas in die middel van die treinspoor. Ons hoor net die trein wat aankom, ons hoor net

tjoek-tjoek en ek sê vir die man: “Jy sal dai Duitser moet sê hy kan nie daar staan nie. Dit gaan probleme vir hom

veroorsaak.” Maar die Duitser staan vas. 'n Meter van waar die trein na die Duitser aankom hoor ons net die man trek

die hooter: “Tjoe-tjoe!” Maar die Duitser staan vas en toe die trein so nader na hom toe kom spring hy weg en beduie

met sy hande na die trein toe.

Die volgende aand is ons toe weer besig om 'n potjie te maak en ons sit weer die keteltjie water op en die Duitser se

geweer staan by hom, want ons is in die veld en ons weet nie of daar leeus is of ander wilde diere nie; dis hoekom die

geweer maar altyd daar staan. Die volgende oomblik is die keteltjie besig om te kook en ons hoor net: “Tjoe-tjoe!” soos

die keteltjie kook. Skielik spring die Duitser op en hy skiet die ketel onder gate! Ons vra hom wat maak hy dan nou?

Hy sê jy beter hom nou keer terwyl hy klein is, want as hy groot is kan jy hom nie gekeer kry nie!

15

Magrieta van Wyk se manewalesFlora Tielingse

16

My ou storie, soos die groot vertellers altyd sê, is nie eintlik van my nie, maar van 'n vriendin van

my, Magrieta van Wyk. Ons was mos almal huiswerkers en my vriendin was van die dans soorte

gewees, een van die rondlopers naweke. Dan bly sy Maandagoggende laat kom by die werk.

Ek het al met haar gepraat maar sy wou nie luister nie. Een Maandagoggend toe sy nog weer laat

aankom by die werk is die vrou toe baie kwaad en sê vir haar: “Grieta, ek dank jou nou vandag af!”

Nou, ek moet vir julle vertel, Grieta was baie arrogant gewees. 'n Vlieg sit nie op haar neus nie.

Sy't haar natuurlik gewip. Sy vertel toe vir my: “Ek het haar gewys ek's nie verleë nie en my sak

gevat en geloop. Toe ek uitstap het ek 'n vyfrand gevat en dit vir die hond gegooi. Toe die vrou vra waarvoor die hond

dan nou 'n vyfrand kry, sê ek haar: 'Bullet was my beste vriend, want hy het my altyd gehelp met jou skottelgoed.

As julle klaar geëet het, dan sit ek die borde op die grond neer en dan lek Bullet dit skoon en dan pak ek dit in die kas.

En dit is hoekom ek vandag hier uitstap met net een vriend. Goodbye Bullet!”

Saak van GebedMercia May

Vir my is storievertel iets besonders. Ek moet nou begin deur te vertel van die tyd waar ek langs die breë Oranjerivier grootgeword het. Die godsdiens was 'n verskriklike iets in die huis. Jy't nie een aand gemis nie. Godsdiens was 'n kerk. Soos 'n wet. Dit is polisiebesigheid daai. Daarbysaam is jy Sondag in die kerk, Maandag in die kerk, sommer elke dag van die week. Net wanneer of waar daar kerk is, is jy in die kerk. En nou moet ek byvoeg, wanneer mense destyds gebid het, het hulle nie hierdie nóú se gebed wat ons so prim en propper, staan en ons oë toemaak nie. Nee, gebed was 'n práát storie. Dit was soos ek en jy nou gesels, só 'n ding was dit by die Here gewees.

Nou, antie Sannie het 'n besonderse manier gehad van bid, soos ek dink baie mense het. Ons kinders het byvoorbeeld kerk toe gegaan nét om te hoor wat bid die grootmense. So tel jy op hoe hulle mos nou eintlik van hulleself skinder, en so hoor jy ôk wie't nou wat gedoen en waaroor het dinges gebid en so. Nou, terug by antie Sannie. Julle moet onthou, daar was nie TV's in daai tyd nie. Die plekkie waarvandaan ek kom is Lang-eiland. Glo my, daar is nóú nog nie TV's nie! Ek gaan kyk by die Rosse TV, daar by my ma'le, en die kinders daar by oom David-hulle. Die mense het baie kinders gehad en die kinders moes uitgaan om te gaan werk. Dit was 'n groot ding om Kaap toe te kom. Baie van die kinders gaan Kaap toe. Sommige laat weet waar hulle is, sommige laat weet nie. Party verdien geld, ander verdien nie geld nie. Nou dan bid antie Sannie so: “Here, ek is nou baie jammer, ek is 'n mens wat nie self kan loop nie; ek is krom en jy moet nou vir my vanaand van bakboord na stuurboord, of oor elke boord moet jy nou vanaand gaan. Maar ek sê nie jy moet sommer nóú gaan nie, want jy moet nog eers klaar luister want vanaand het ek soveel goeters op my hart. Maar, Here, ek wil nou vanaand sê, seën daar vir ou Willempie en dankie vir die twintig rand wat hy in die pos gegooi het.” Daai tyd was geld 'n vreeslike ding op die eiland waar ek grootgeword het en twintig rand verskriklik baie geld.

En nou sê sy: “Here, ek weet nie eens van Willempie nie. U moet tog vir Willempie kom haal, want ek kan nie meer moed hou met hom nie. En Here, sê vir Santjie ... Santjie is daar ... Waar nou weer? Santjie is daar in Joburg in, in Jansberg. Ek weet nie wat maak sy daar vanmôre nie, maar sê vir haar: Ma sien hoe praat sy met U. So, sy is op die regte pad.”

En sy sê: “Here, jy sê vir Willem, jy gee hierdie boodskap net soos ek sê. Jy sê vir Willem: die baste haal hom as Ma hom in die hande kry, want ek hoor hy suip en gaan aan. Here, jy moet vir Willem loop sê. Maak hom sommer skrik, Here. Maak hom skrik. Here weet, Here, my seun – dis mos my oudste kind – hy lê mos na aan my hart. Here, my kind is tog nie so gesond nie. Maar, Here, gee vir hom krag asseblief, Here. Here, dis oraait, ek wil nie vir U voorsê hoe U met Sienatjie werk nie. Maar werk. Gee haar krag en so. Ek wil darem weer vir haar sien voor ek my oë toemaak.Here, o-o-o-o Liewe Here, hierdie Karel. Ag, waar bly Karel dan nou weer? Here, dit is so 'n slangplek. Ek weet nie, maar dit is so 'n slangplek. O Here, dis so 'n vreeslike slangplek. Here, sê daar vir Boeta, Ma is alte bly hy het 'n vroutjie gevat. En sê ook vir Boeta hy moet sy trappe ken. Ma sal kom kyk. O ja, ja, Here, ek kry nou gedagte, Kareltjie bly in Pofadder! Amen.”

17

Herinneringe van vervloë daeJoyce de Villiers (geskryf met behulp van haar seun Gerhard de Villiers)

Ek is op 12 Julie 1925 in my heimat, Paarl, gebore. Ek het grootgeword by my grootouers saam met nege kinders. Die huis op die hoek van Koning-en Hoofstraat was eers The Blue House Hotel, toe my oupa (Van der Westhuizen) die huis van 'n Jood, mnr. Schoolman, gekoop het. Die huis was reeds in drie wooneenhede, 'n kafee en 'n slaghuis verdeel. My twee ooms, Dawid en Piet van der Westhuizen, het die slaghuis bestuur.

Die erf was 'n kleinhoewe wat tot amper aan die Bergrivier gegrens het. Die identiese tweelingbroers, skraal en baie lang kêrels wat my ouma in die wêreld gebring het, was die landbouers in ons vrugteboorde en wingerd. Ek kon vir ure na hul Jakkals en Wolf-stories luister en later ook natuurlik my eie kinders en hul maatjies daar in Rosestraat vertel. Die tweeling was Danie en Gysbert en hul byname was Ouboet en Kleinboet. Ouboet word toe Outie, en om Kleinboet met Outie te laat rym word die naam Koutie gebore! Kundige snoeiers, humoristiese bobaas-storievertellers, grapjasse wat met gapende monde, met later geen tande in die monde, kon lag – wawyd oop monde soos hulle lag, net reg vir Kraai se kaas of Jakkals se warm baksteen om daarin te val!

Ons kon saans, veral in die lente en somertye, buite speel. Spook-spook in die wingerde, al die outydse speletjies. Andries Louw, 'n jonger broer van die Springbokrugbyspelers Boy en Jan Louw, het 'n groot seepkiskar gebou, vyfsitplek. Dan is ons bergpaadjie op en met 'n spoed kom ons af, gooi die es onder die steiltes en val oor mekaar. Andries het gedink hy was fiks, en was hy nie! Hy moes oor en oor vir die maters op 'n 'afdraande-omgooi' uitstappie neem.

Andries het ook vir my en Truida Gouws op sy fiets gelaai en dis paadjie af, rivier toe! Ek voor op die stang, en sy agter op die carrier. Soos hy heen en weer swenk en manewales uithaal, skuur Truida se toontjies op die grondpad, maar ek sit veilig voor op die eersteklas-sitplek! Truida en ek was maats tot op die dag van haar heengaan op vier-en-tagtig jaar.

Gewoonlik op 'n Saterdagaand het die Suid-Afrikaanse Heilsleër (Salvation Army) op die hoek van Hoof- en Koningstraat vir ons kom trakteer met hul blaasorkes. Hulle het pragtige geestelike liedere gesing saam met die musiek. Op 'n oop lorrie het hulle opgedaag en in die middel van die kring wat hulle gevorm het, het hulle 'n groot doek oopgegooi. Dan het ons nader gestap met ons pennies, tiekies, sikspense of sjielings. Dit is op die doek gegooi.Die destydse legendariese oom Seppie de Villiers onthou ek goed. Hy was burgemeester en het op verskeie rade gedien en weliswaar het hy die gemeenskappe in Paarl met raad en daad begelei. Op tagtigjarige ouderdom en ouer het hy steeds sy swart Fordjie bestuur, en as hy toet het almal padgegee, want hy had the right of way en wie sou waag om hom 'n kaartjie te gee as hy oor die rooi lig ry, want almal ken hom, en sy handseine is mos genoegsaam. Sou enigiemand probeer om hom aan te vat as hy so statig ry of stap, terwyl sy vingers sy ellelange moestas in die rondte draai?

18

In Noorder-Paarl was baie bruin mense wat eiendom besit of gehuur het. Baie bruin en blanke kindertjies het saamgespeel. Die St Stephen Kerk was die vergaderplek van bruin Christene, langs die Laerskool Noord-Eind. Paarlberg-gemeente het die St Stephen Kerk gekoop, maar na die 1994-gebeure van 'n nuwe Suid-Afrika het die Paarlberg-gemeente die kerk teruggegee.

Die groepies bruin mense het van huis tot huis hier in Noorder-Paarl gegaan om die mooiste Kersliedere te sing. In Rosestraat het my vier kinders die Kersliedere so geniet; en het dan 'n geldjie, koekies en vrugte aan hulle gegee. Die verskillende stemme van die bruin mense was net eenvoudig die mooiste om na te luister. Dan stap hulle maar weer verder en verder van huis tot huis. Ons kon hoor hoe die deure en vensters oopgaan soos wat die buurt se mense die liedere hoor; luister hoe die bekende en geliefde stemme al verder en verder weg beweeg. Later hoor jy nie meer die stemme nie, maar in 'n mens se kop hoor jy hulle nog sing!

Ek onthou in Noorder-Paarl was daar baie dennebome langs die hoofstraat en ons het baie dennepitte geëet. So saam met die Bergrivier het Noorder-Paarl stadig maar seker ontwikkel. Ek hoor nog ons skoollied: Paarlberg bly ons trots, met wingerd, pad en rots; Bergrivier loop breed met weerglans op ons skoollokaal, wat ywer vir ons taal! Noord-Eind Skool! Staan jou man en wys jy KAN!

Ons stamp dan daai tweehonderd voetjies so hard as wat ons kan op die KAN! Die lied is deur ML de Villiers getoonset (komponis van Langenhoven se “Uit die blou van onse hemel”).

Noord-Eind was vanaf graad 1 tot standerd 6. Juffrou Lotter, ons klasonderwyser, het naby ons gebly. Dikwels het sy 'n string kinders aan albei kante van haar gehad. Eendag het sy oor 'n klip gestruikel, geval en is sy met ons almal toe saam met haar grond toe. Dit kom toe nou van 'handjies hou'!

In standerd 7, in die Hoër Meisieskool, 1935, ervaar ons die eerste spoeltoilette. Voor dit in Oranjestraat moes ons trappies af, buite toe na die emmerstelsel- buitetoilet toe en saans of snags met lantern kleinhuisie toe. Die kettingspoeltoilet was ook eers buite en later binne die huis. Soms stap ons met maatjies saans vanaf die Palladium-bioskoopteater en so om elfuur kom die nagwa met die emmers ontlasting. Dan loop ons so skaam-skaam, neuse toegedruk en weg-kyk, weg-kyk, weg-kyk van die swart waens.

Paarlberg met sy drie uitstaande rotse en meulwater – my oom Boeta Lang Dawid het met sy lorrie die berg uitgery met voorrade en tente sodat ons gesin vir 'n week kon gaan kamp. Alhoewel ons weer met 'n grammofoon na musiek geluister en op die harde piekniekterrein gedans het, het ons ook die rotse uitgeklim en die natuur bewonder; die bergtuin was reeds daar in volle blom en alle plante groei daar so bergmooi. Die diereprag sluit reuse bergskilpaaie in.

19

Daar is rusplekkies, wandelpaadjies, oral helder stroompies water en selfs kettings om ons te help om die hoog-hoogtes te bereik.

Dan was daar nog die Krismiskamp 'n ent van die Meulwater. Dit was 'n spesiale oord, afgebaken vir 'n spesifieke familie. Blankes kon dit bespreek vir Kersfees en vandag is dit natuurlik oopgestel vir almal. Vir ons bergklimmers en ander piekniekgangers was dit altyd veilig hier op die berg, maar later het kwaaddoeners mense begin aanval.

'n Laaste rusplekkie by die Strooidakkerk. Baie kerkgeboue, soos die Strooidakkerk, het mos die mooiste,indrukwekkendste tombes, en die sipresbome van die Strooidakkerk reik so uit na die hemel. Aan die bokant van elke boom vertoon dit net soos twee groot hande in gebed. Ai, as 'n mens darem daar neergelê kon word! En dis mos net na aanleiding van hierdie gedagtes dat my man as diaken ingeroep word. Hy moes die breë paadjies van die begraafplaas en die onbenutte gedeeltes as potensiaal uitwerk vir nog rusplekke. Elke paadjie of laan kon darem nog een graf by beteken.

Die Outie-en-Koutie-identiese-tweeling-storieverteller-ooms van my, en my tannie Babsie, was darem spaarsamige mense vir die begraafplaas. Spaar grond deur saam van onder tot bo te lê. Dan is daar mos meer plek vir die ander. Daar was nog mense wat so beplan het deur meer grafgrond te spaar; broers en susters of wie ook al word in een graf gebêre.

By die onderste hek, Verquillestraat, tweede ry, tweede grafsteen van links, sien jy dit! Al drie se name verskyn op een grafsteen. Een graf vir almal! Die diepste rus: Outie: 1958 Koutie: 1967 Babsie: 1976

As jy so lees, tref dit jou; spaarsamig, maar ryk in liefde. Babsie het hierdie twee reuse versorg toe hulle invalides raak; selfs voor dit. Ja, sy het hulle versorg, eers vir Outie en toe vir Koutie. Sy was altyd daar vir versorging – vir haar moeder, broers en vele ander in die familie.

Hier in die Paarl is so baie geboue wat herinneringe oproep. Die Stadsaal in die hoofstraat dra nog steeds sy 'geboorte baadjie' en dit is die plek waar ek en Johan in 1947 in die huwelik getree het; in die banketsaal. Oom Allie du Toit van Boishaai en sy orkes het op die troue gespeel.

20

Ons huur toe 'n woonstel in die geboue van dokter Hartig. Hierdie kompleks is so tweehonderd meter vanaf die Strooidakkerk, in die hoofstraat, suidelike rigting. Hierdie geboue, van dokter Hartig, se karakter het behoue gebly.

Binne die geboue is meer ruimte geskep en alles is so mooi omskep in 'n woonplek wat vandag bekend staan as De Oude Paarl. Dit is 'n hotel. 'n Aftree-oord en interessante besienswaardighede is naby De Oude Paarl. Jare gelede was die staanplek van die busse op die parkeerterrein oorkant De Oude Paarl. Busse het blankes en bruin mense saam vervoer, dorp toe, Daljosafat toe, Hugenote Stasie. Heen en weer het die busse beweeg en oral was bushaltes.

Toe ons nog in die een woonstel van dokter Hartig gewoon het, het ek en my man besluit om krismisrose met allerhande kleure te kweek. Motoriste wat van heinde en ver gekom het, het gereeld hiervan gekoop. Die blikkies waarin die krismisrose ingeplant is, het my man van Jones, die inmaakfabriek, gekry. Dit was ons vakansiegeld na Oos-Londen toe. Selfs met die 1946-Buick en later die 1953-Buick kon ons Oos-Londen toe toer sonder om oor petrolgeld te kla, want dit was so goedkoop; by tye twee sjielings vir 'n gelling petrol. 'n Gelling is vier en 'n halwe liter.Paarl het so baie met die jare verander, maar die karakter het behoue gebly, danksy die restourasie van ou geboue, nasionale gedenkwaardighede en eikebome wat al vir meer as honderd en selfs meer as tweehonderd jaar ons hoofstraat versier. Eenmaal 'n Paarliet, altyd 'n Paarliet!

21

22

Tekkie en Skoen se uitstappie Amelia Solomons

Eendag was daar 'n tekkie en 'n skoen. Hulle het in 'n huis gewoon, waar hulle vir maande in 'n kas opgesluit was. “Ons kan nie maand na maand hier lê nie. Die ander skoene loop lekker buite rond en ons lê net hier,” sê Tekkie eendag vir Skoen.

“Veter! Veter!” roep Skoen angstig. “Sluit asseblief vir ons die deur oop!”“Hoekom?” wil Veter weet. “Ons was lanklaas buite; ons gaan net 'n bietjie rondloop. Ons is vanaand weer terug.”

Die twee stap opgewonde by die voordeur uit. Hulle geniet die vars lug en sonskyn. Hulle besluit om park toe te gaan en op pad soontoe stap hulle verby Sandaal.

“Wat maak julle hier?” vra sy, want niemand sien hulle gewoonlik hier in die park nie. “Ag, ons stap sommer net 'n bietjie rond,” antwoord Skoen. “Julle moet versigtig wees. Niemand stap deesdae hier in die park op hul eie rond nie,” sê Sandaal bekommerd. Uiteindelik kom hulle by die park aan en begin om rond te hardloop en op die groot grasperk bollemakiesie te slaan. Eenkant onder 'n boom staan 'n man en hou al die skoene dop.

“Haai julle, my naam is Stewels. Wil julle nie by my kom kuier nie?” vra hy toe die tweetjies uiteindelik naby hom speel. “Dit sal lekker wees! Ons was hoeka lanklaas uitgenooi,” sê Tekkie en hulle stap saam met die vreemde man na sy huis. Hulle drink rustig saam met hom tee en hy gee vir hulle gemmerkoekies om te eet. Toe Stewels sien dat die twee gemaklik raak, gaan haal haal hy gom en plak hulle mond toe. Tekkie en Skoen besef dat hulle in groot moeilikheid is. Stewels tel die twee op en sluit hulle in 'n donker kamertjie toe. Oral om hulle sien hulle stukkende skoene. “Stewels gaan van julle ook handsakke en beursies maak,” sê Naald.

Tekkie en Skoen skrik en beweeg hulle lyfies heen en weer maar dit help niks nie. Hulle wens hulle het eerder in die skoenekas by die huis gebly. Hulle skop aanhoudend teen die deur, wat toe na 'n paar minute oopgeruk word. Dis Stewels en hy's baie kwaad.

“Hou op! Ek wil nie weer 'n geraas hoor nie! Het julle my?” bulder hy.

“Dit … ,” sê hy en skop die twee dat hulle deur die lug trek. “Dit sal julle 'n les leer.” Hy klap weer die deur toe. Die twee maatjies kyk moedeloos na mekaar.

“Kom, miskien kan ek, Naald en Gare julle help om weg te kom,” sê Gom. Hy fluister vir hulle van sy plan.

Hulle kan nie te hard praat nie want netnou kom Stewels weer skielik by die deur in. Die volgende oggend vroeg kom Stewels na die kamertjie.

“Môre, môre,” sê hy. Hy gaan sit op 'n stoel langs 'n tafel. Hy begin kap aan een van die stukkende skoene. “Eina!” skree die arme skoen. Stewels steur hom glad nie daaraan nie, maar vat eerder 'n mes en sny die skoen uitmekaar. Tekkie en Skoen is baie hartseer. Hy neem vir Naald en Gare en werk verskillende leer aanmekaar vas.

“Vandag gaan ek baie geld maak!” lag Stewels. Hy sit al die nuwe handsakke en beursies in 'n groot sak.

Net voordat hy die deur agter hom kon toemaak, op pad uit, het Gom dit oral op die vloer, tot by die deur, bemors. Oral waar hy trap en vat is dit die ene gom. Hy kan nie beweeg nie en raas en skel, maar niemand luister nie. “Wat doen julle?!” skree hy nog weer, maar toe is Tekkie en Skoen al by die venster uit. Hulle hardloop sonder om terug te kyk.

Moeg en uitgeput kom hulle by hulle huis aan. “Wat het met julle gebeur?” vra Veter. “Ons sal jou later vertel,” sê Skoen. Hulle hardloop reguit na die kas toe. “Ek sal nooit weer sonder my baas gaan stap nie,” sê Tekkie en Skoen saam.

23