32
- 3 -

Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

  • Upload
    others

  • View
    0

  • Download
    0

Embed Size (px)

Citation preview

Page 1: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 3 -

Page 2: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 4 -

Vrydag 1 Januarie Skrifgedeelte: 2 Korintiërs 1:3-11; HK Sondag 1, vraag 1 Fokusgedeelte: 2 Korintiërs 1:3-4

Op soek na ware troos Daar is seker geen mens wat nog nooit behoefte aan troos gehad het nie –

troos nie slegs deur oppervlakkige mooi woorde nie, maar egte troos wat jou ná ontsteltenis weer kalm en rustig maak; troos wat jou moed gee om die lewe met al sy probleme weer aan te durf.

As ’n mens voorspoed beleef en die lewe sy normale gang gaan, het jy gewoonlik nie behoefte aan troos nie. Maar in krisisse, as jy angs en smart belewe, begin jy bykans outomaties en soms hartstogtelik na troos, na leni-ging van jou smart te soek. Jy soek na iets wat die verdriet wat jy ervaar, minder pynlik laat voel.

Wat is troos dan? Ursinus, die opsteller van die Heidelbergse Kategismus, sê dat troos eintlik ’n teëwig is. Sy siening in dié verband kom op die vol-gende neer: As daar leed en droefheid in jou lewe kom, maar daarteenoor kan iets moois en iets goeds gestel word wat groter is as die leed en droef-heid wat jy ervaar en dit oorskadu, dan vind jy troos.

Troos is volgens die Bybel nie bloot ’n saak van gevoel nie, maar veral van kennis (Jes. 51:12; vgl. HK vr 2). Jy moet goed weet wat die droefheid in jou lewe veroorsaak, maar dan moet jy ook ’n deeglike kennis hê van die goeie wat jou droefheid oorskadu.

Waarom het ons troos nodig? Die sonde is die oorsaak van die mens se behoefte aan troos. Voor die sondeval het die mens geen behoefte aan troos gehad nie, want hy het in ’n intieme, ongesteurde gemeenskap met God gelewe – God wat die bron van ware geluk en vreugde is. Die breuk met God deur die sonde is die oorsaak van al die leed, lyding, trane en die dood. Dit het daartoe gelei dat die mens met ’n brandende hart na troos begin soek het.

Dit is nou hierdie troos wat God uit genade en om Christus ontwil deur sy Heilige Gees aan ons skenk. Daarom praat Paulus van Hom as “die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking”.

God troos ons egter nie met mooiklinkende, maar leë woorde, nie; nee, Hy troos ons deur sy magtige daad van verlossing toe Hy uit liefde vir ons sy eniggebore Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Joh. 3:16).

Page 3: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 5 -

Saterdag 2 Januarie Skrifgedeelte: 1 Petrus 1:17-21; HK Sondag 1, Antwoord 1 Fokusgedeelte: 1 Petrus 1:19

Ons troos: ons is die eiendom van Christus Ons bely dat ons geheel en al vir altyd aan Christus behoort (Rom. 14:8).

Ons is sy onvervreembare eiendom (1 Kor. 3:23; 6:19, 20). Ondanks die grootste krisisse wat ons hier op aarde kan beleef, bly ons sy eiendom – ook by en na ons dood. Christus stel dit baie duidelik as Hy sê dat niemand sy kinders aan wie Hy die ewige lewe gee, ooit uit sy hand of uit sy Vader se hand sal ruk nie (Joh. 10:28, 29).

Hoe het ons die eiendom van Christus geword? Ons het sy eiendom ge-word eerstens omdat Christus Self vir al ons sondes ten volle betaal het. Self kon ons of enigiemand anders nie vir ons sondes betaal het nie. Toe het Christus in sy onbegryplike groot liefde en genade al ons sondes op Hom ge-neem en in sy verskriklike lyding aan die kruis ten volle daarvoor betaal met die duurste prys wat enigiemand ooit kan betaal. Dit is wat Petrus ook wil be-klemtoon as hy skryf: “Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is nie ... Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus ...” Daarom is ons Christus se kosbare eiendom.

Ons het verder die eiendom van Christus geword omdat Hy ons uit alle heerskappy van die duiwel verlos het (Joh. 8:34-36; Heb. 2:14). Die duiwel verlei ’n mens tot sonde en die sonde ontneem jou jou vryheid en maak van jou ’n slaaf van hom. Deur die duiwel het die dood en die vrees vir die dood in die wêreld gekom (Heb. 2:14, 15). Christus het egter deur sy borgtogtelike lyding en sterwe ons van die slawerny van Satan, die sonde en die dood bevry. Christus het immers “juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak” (1 Joh. 3:8).

Noudat ons die eiendom van Christus is, bewaar Hy ons so dat niks son-der die wil van die Vader met ons sal gebeur nie. Die gelowige kom soms in geweldige krississe en beproewings. Sal hy staande bly? Ja, die kind van God sal, omdat die Here hom te midde van beproewings vashou en bewaar. Daarom kan Paulus met soveel oortuiging en besieling sê dat niks in die hemel of op die aarde ons ooit kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus ons Here is nie (Rom. 8:38, 39). Ons bly vir altyd sy eiendom.

Page 4: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 6 -

Sondag 3 Januarie Skrifgedeelte: Romeine 8:26-30; HK Sondag 1, Antwoord 1 Fokusgedeelte: Romeine 8:28

Ons troos: ons Vader laat alles tot ons saligheid dien Om ware troos by God te vind, beteken nie dat ons moet maak asof daar

geen swaarkry en lyding in hierdie sondige wêreld is nie. Die harde werklik-heid van die lewe sal ons in elk geval gou tot besinning ruk. God plaas soms swaarkry en pyn op ons lewenspad in die vorm van siekte, teleurstelling, die dood van ’n dierbare, finansiële probleme en dergelike sake. Daarmee het Hy egter ’n heilige en verhewe doel. Paulus sê dat die Here alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet – alles, ook die pynlike en onaan-gename dinge. En die goeie waarvan Paulus hier praat, is veral die ewige saligheid wat daar op die kind van God ná hierdie lewe wag. Dit is die groot doel wat die Vader vir sy kinders in die oog het. En in alles wat Hy oor ons hier op aarde laat kom, hou Hy daardie doel in die oog: dit moet vir ons ten goede meewerk; dit moet tot ons saligheid dien.

Dis belangrik vir die gelowige om dit te weet. Trouens, daar gebeur soms dinge in ons lewens wat ons baie seermaak, maar waarvan ons later moet erken dat dit vir ons goed was dat dit gebeur het en dat ons God daarvoor kan en wil dank. Die digter van Psalm 119 (:71) het dit ook ervaar, want hy sê: “Dit was vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer” (vgl. ook vs 67). ’n Mens dink ook aan die geskiedenis van Josef (Gen. 35, 50). Dit is egter nie altyd die geval nie. Soms kom daar beproewings oor ons lewens waarvan ons die sin en doel nie kan verstaan nie. Daar vloei soms trane wat met alles wat die wêreld ons bied, nie ge-droog kan word nie. Ons ervaar soms verliese wat deur niks op aarde herstel of vergoed kan word nie. Tog moet ons in die geloof aanvaar dat God ook daardie beproewings vir ons ten goede laat meewerk en dat ons die sin en betekenis daarvan eers ná hierdie lewe in die ewige heerlikheid sal sien (2 Kor. 4:16-5:1). Dan sal ons sien hoe ons verliese onder God se voorsienige leiding meegewerk het om ons in ’n ewige hemelse wins te laat deel. Ons sal ook sien dat elke lewenservaring, ook die pynlike en skynbaar onverstaan-bare gebeurtenisse in ons lewens, nie spoorloos by ons verbygegaan het nie, maar dat dit middele was waardeur die Here ons geskaaf en reggemaak het vir ons plek op die nuwe aarde. Ons hele lewe as kinders van God moet dus te midde van lyding en pyn gesien word in die lig van die ewige lewe wat God deur Christus berei het vir dié wat Hom liefhet.

Page 5: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 7 -

Maandag 4 Januarie Skrifgedeelte: Johannes 6:47-59; HK Sondag 1, Antwoord 1 Fokusgedeelte: Johannes 6:47

Ons troos: die Heilige Gees verseker ons van die ewige lewe Die Heilige Gees vertroos ons deurdat Hy ons verseker dat ons ter wille

van die soenverdienste van Christus deel het aan die ewige lewe. Dat ons sekerheid oor die ewige lewe moet hê, is vir Christus van die

allergrootste belang. Daarom sê Hy uitdruklik: “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe.” Trouens, Hy sê dit by herhaling (vgl. Joh. 3:16; 6:40; 11:25). Die apostel Johannes, gelei deur die Heilige Gees, beskou hier-die sekerheid as só belangrik dat hy die doel van sy eerste brief soos volg aandui: “Hierdie brief skrywe ek aan julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo” (1 Joh. 5:13).

Hierdie en dergelike uitsprake maak die Heilige Gees deel van die kind van God se lewe, omdat Hy ons deur die geloof aan Christus verbind (vgl. Joh. 14:26; 14:16). So vind ons troos as ons op een of ander wyse met die dood gekonfronteer word. Immers: hoe goed of hoe sleg dit hier op aarde met ons mag gaan, eenmaal kom die dood onverbiddelik. En sonder Christus beteken die dood die ewige straf. Christus het egter Self die dood oorwin. Daarom verseker Hy almal wat aan Hom behoort: “Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook” (Joh. 11:25). Daarom is die dood nou nie meer ’n vreeslike monster nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n oor gehoor of in die hart van die mens ooit opgekom het (1 Kor. 2:9).

Tog beteken die uitsig op en die troos van die ewige lewe nie dat ons die roeping wat God ons hier op aarde gegee het, uit die oog moet verloor nie; inteendeel, ons moet hierdie roeping juis getrou vervul. Daarom sê die Kate-gismus ook dat Christus ons deur die Heilige Gees van harte gewillig en be-reid maak om voortaan vir Hom te lewe. Daarmee word bedoel dat ons uit liefde vir en dankbaarheid teenoor Christus, wat die ewige lewe vir ons ver-werf het, voortaan volgens al God se gebooie moet lewe – en omdat die Heilige Gees ons gewillig en bereid maak om sy gebooie te onderhou, is die onderhouding daarvan vir die kind van God nie moeilik nie (1 Joh. 5:3).

Page 6: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 8 -

Dinsdag 5 Januarie Skrifgedeelte: Lukas 17:11-19; HK Sondag 1, Vraag 2 Fokusgedeelte: Lukas 17:12, 14, 16

Ellende, verlossing en dankbaarheid Hier word gevra wat ’n mens moet weet om in die troos wat in Antwoord 1

genoem is, salig te kan lewe en sterwe. Dit gaan dus oor ’n bepaalde kennis wat ’n mens moet hê. In antwoord op die vraag word drie sake genoem wat terselfdertyd die indeling van die Kategismus is, naamlik: • my sonde en ellende en oorsaak van my behoefte aan troos; • my verlossing as middel tot verkryging van troos; • my dankbaarheid as wyse waarop die troos beleef moet word.

Hierdie drie sake word telkens aangetref in verskillende gebeurtenisse wat in die Skrif aan ons voorgehou word. Een daarvan is Jesus se genesing van die tien melaatse mans. Die ellende van hierdie mans was, uiterlik geoordeel, dat hulle melaats was. Hulle ellende lê egter nog dieper, want siekte is ’n gevolg van die sonde en die sonde beteken ’n breuk met God. Dit is die eint-like nood van hierdie mans en trouens van alle mense: ons het almal deur die sonde van God vervreem geraak.

In hulle nood roep hierdie mans na Jesus en smeek Hom om hulp. Jesus ontferm Hom oor hulle en skenk hulle genesing: op pad na die priesters toe word hulle gesond. So het Christus vir hulle verlossing bewerk. Hierdie tyde-like verlossing wys egter heen na die ewige verlossing van sonde wat Chris-tus aan die kruis bewerk het vir almal wat in Hom glo.

Nou kon ’n mens verwag dat al tien mans só vervul sou wees met dank-baarheid vir hulle verlossing dat hulle Christus spontaan sou dank en eer. Tog doen net een dit. En as Christus dan aan hom sê: “Jou geloof het jou gered,” is dit duidelik dat sy dankbaarheid ’n openbaring van sy geloof in Christus as Verlosser is en dat hy nie net van sy melaatsheid verlos is nie, maar ook van sy sonde.

Dit is belangrik om te besef dat hierdie drie sake – ellende, verlossing en dankbaarheid – wel van mekaar onderskei mag word, maar nooit van mekaar geskei mag word nie. Al drie moet elke dag in die lewe van die Christen voor-kom. Al drie moet volgens die nagmaalsformulier deel van die voorbereiding vir die nagmaal vorm. So sal ons die ware troos kry om salig te lewe en te sterwe.

Page 7: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 9 -

Woensdag 6 Januarie Skrifgedeelte: Handelinge 7:44-53; HK Sondag 2, Vraag 3 Fokusgedeelte: Handelinge 7:51

Die regte kennis van die wet Dat ’n mens jou sonde en ellende uit die wet van God leer ken, word in die

Skrif baie duidelik aangetoon. Paulus sê: “Deur die wet leer ’n mens wat sonde is” (Rom. 3:20). En ook: “Ek sou nie geweet het wat sonde is nie, as dit nie deur die wet was nie. Ek sou byvoorbeeld nie geweet het dat dit sonde is om te begeer nie as die wet nie gesê het: ‘Jy mag nie begeer nie’” (Rom. 7:7). Kennis van die wet van God is vir die Christen van die allergrootste belang. Die wet is soos ’n spieël. Soos ’n mens in ’n spieël kan sien hoe vuil of skoon jy is, so kan ’n mens in die lig van die wet sien hoe sondig jy is.

Tog is daarmee nie alles gesê nie. In ’n sekere sin is dit selfs so dat ’n mens jou sonde nie uit die wet van God kan ken nie – altans nie daaruit alleen nie. As die Heilige Gees nie ’n mens se verstand verlig om die werk-like betekenis van die wet van God reg te verstaan nie, sal dit nie moontlik wees om jou sonde en ellende daaruit te ken nie. Daarvan is daar verskeie voorbeelde in die Skrif. Die aandag word hier net op een daarvan gevestig: die toespraak van Stefanus (Hand. 7).

Stefanus staan as aangeklaagde voor die Joodse regbank. En wie is die regters? Die Joodse Raad wat Fariseërs, Sadduseërs, skrifgeleerdes en priesterhoofde insluit – almal mense wat daarop geroem het dat hulle die wet ken! Tog sê Stefanus aan hulle: “Julle hardkoppiges! Julle is heidens in julle harte. Julle is doof vir die woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees” (Hand. 7:51). Die regters wat in die Naam van God die vonnis moet fel, word hier ontmasker as mense wat self die wet van God nie ken nie en verder ook nog as wetsoortreders.

Hulle weerstaan die Heilige Gees, daarom verstaan hulle nie die wet van God nie en gehoorsaam hulle dit ook nie. Daarom was dit vir hulle onmoont-lik om hulle sonde en ellende uit die wet van God te ken. Op dié wyse het hulle vir hulleself en ander die pad na die verlossing deur Christus geblok-keer. Hieruit is dit duidelik dat om jou sonde en ellende werklik te ken, ’n mens nie net die Woord moet bestudeer nie, maar ook volhardend moet bid dat God sy Heilige Gees aan ons moet gee. Hy sal ons help om die ware betekenis van die wet reg te verstaan.

Page 8: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 10 -

Donderdag 7 Januarie Skrif- en Fokusgedeelte: Markus 12:28-34; HK Sondag 2, Vraag 4

Die eis van die wet – 1 As die Heilige Gees ons oë geopen het, sien ons die wet van God in sy

diepte en ware betekenis. Dan sien ons die eis van die wet as liefde – liefde wat baie meer inhou en dieper sny as die uiterlike nakoming van sekere wette en reëls.

Christus sê dat die mens God moet liefhê met sy hele hart, hele siel, hele verstand en al sy kragte. In Matteus 22:37 word die liefde tot God met al jou kragte nie genoem nie, maar in Markus 12:30 en Lukas 10:27 wel. Met dié vier woorde word die mens se hele lewe omvat: • die hart – want dit is die kern van jou persoonlikheid wat jou hele

lewensgang bepaal (Spr. 4:23); • die siel – met volle lus en begeerte en met innige lewensblydskap; • die verstand – met al sy gedagtes, talente, gawes, beplanning en weten-

skap; • die kragte – al die mens se vermoëns en handelinge.

Jou naaste moet jy liefhê soos jouself (vgl. 8 Januarie). Hierdie liefde tot God met jou hele wese beteken dat ons God meer moet

liefhê as vader of moeder, seun of dogter, man of vrou (Matt. 10:37; Luk. 14:2). Daar mag niks en niemand tussen God en ons wees nie.

Hierdie liefdesgebod van Christus is radikaal anders as die Joodse leiers van destyds se siening van die wet. Hulle het die wet van die Here met akro-batiese vernuf in 613 negatiewe en positiewe bepalings versplinter. Met som-mige bepalings het hulle tot die peil van die belaglike gedaal. Boonop het hulle hierdie bepalings in ’n orde van belangrikheid ingedeel: sommige was swaar, ander was lig; sommige was bindend, ander was minder bindend. In hulle voorskrifte het die nadruk ook veral op die uiterlike geval. Dit is wat ge-beur as ’n mens godsdiens sonder die Heilige Gees wil beoefen.

Daarteenoor sê Christus dat daar in werklikheid net een wet is en dit is liefde: tot God en tot die naaste. Op dié wyse toon Christus dat die groot saak in die mens se verhouding tot God nie bloot uiterlike dade is nie, maar die regte gesindheid. Hierdie regte gesindheid kan ’n mens alleen hê as Christus deur sy Gees in ons woon en werk.

Page 9: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 11 -

Vrydag 8 Januarie Skrif- en Fokusgedeelte: Lukas 10:25-37; HK Sondag 2, Vraag 4

Die eis van die wet – 2 Die eis van Christus dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself, impliseer

dat ’n mens ook jouself moet liefhê (vgl. Spr. 19:8; Ef. 5:28, 29). Hierdie self-liefde moet egter in God vasgeanker wees. Dit beteken dat ’n mens op grond van hierdie selfliefde jou eie lewe, vermoëns en besittings moet sien as gawes van God wat jy so goed as moontlik moet gebruik en beskerm (Matt. 25:14-46; Luk. 19:11-27). Jy moet ook vir jouself met die oog op die toekoms sorg (Spr. 6:8; 2 Tim. 1:6).

Die groot probleem waarmee ’n mens in hierdie verband te doen het, is dat selfliefde so maklik in selfsug kan ontaard. Dit beteken dat die selfliefde die liefde tot God en tot die naaste in mindere of meerdere mate oorheers, en dit mag nie. Dan ontstaan ’n sondige gesindheid wat ook maklik tot ander sondes kan lei (Fil. 2:3; Jak. 3:14, 16). Terwyl God die verkeerde gesindheid van haat met sy woede, afguns en wraaklus verbied, gebied Hy dat die Christen sy naaste moet liefhê soos homself (HK Antw. 107). Dit gaan dus vir God veral daarom dat die gelowige die regte gesindheid teenoor sy mede-mens moet openbaar. Daarom moet hy sy naaste liefhê soos homself, en sy naaste is enige mens met wie hy te doen kry (Luk. 10:25-37). Hy moet selfs sy vyand liefhê (Matt. 5:44-45).

Alles wat hy aan homself gun, moet die Christen ook aan sy naaste gun. Hy moet homself in die plek van sy medemens stel en vra: Wat sou ek onder sulke omstandighede van my medemens verwag? Die antwoord op die vraag moet vir hom ’n aanduiding wees hoe hy teenoor sy naaste moet optree. Christus sê immers: “Alles wat julle wil hê dat die mens aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dat neer-kom in die wet en die profete” (Matt. 7:12).

Op grond van sy naasteliefde moet die gelowige alles wat sy medemens kan benadeel of skade kan berokken, so ver as moontlik voorkom (Eks. 23:5). Hy moet ook positief sy belange bevorder en binne sy vermoë doen wat vir sy naaste die beste is (Luk. 10:25-37).

Met liefde vir die vyand as jou naaste word nie bedoel dat ’n mens nie teen jou vyand mag veg as dit nodig is nie. Wat bedoel word, is byvoorbeeld dat as ’n mens teen ’n vyand geveg en hulle oorwin het, jy daarna die ge-wondes en beseerdes nie aan hulle lot moet oorlaat nie, maar hulle dan so goed as moontlik met mediese hulp, kos, klere ensovoorts, versorg (Rom. 12:20-21).

Page 10: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 12 -

Saterdag 9 Januarie Skrif- en Fokusgedeelte: Psalm 51:1-15; HK Sondag 2, Vraag 5

Die onderhouding van die wet Die Here eis in sy wet van ons dat ons Hom moet liefhê met ons hele wese

en ons naaste soos onsself. Die vraag is egter: Kan ek God 100% liefhê soos Hy van my vra, en my naaste soos myself? As God se Heilige Gees my lei om sy wet reg te verstaan en om my eie sondige lewe in die lig daarvan te beoordeel, moet ek op dié vraag antwoord: Nee, ek kan nie! Ek is vanweë my sonde geneig om te haat.

Hierdie neiging om te haat, is nie maar iets bykomstig in my lewe waarvan ek uit eie vermoë maklik ontslae kan raak nie. Inteendeel, dit is deel van my wese as sondige mens. Dawid toon dit duidelik aan as hy sê: “Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het” (Ps. 51:7). “Ek is tot my wesensgrond toe skuldig” (Ps. 51:3 berymd).

Ná die sondeval is daar iets wat nie meer kan gebeur nie: ek kan God en my naaste nie meer uit eie vermoë liefhê met ’n volkome liefde nie. Dit sit in my bloed om God en my naaste te haat. En as ek dit sien, sien ek ook die oordeel van God wat Paulus in Galasiërs 3:10 soos volg aandui: “Daar rus ’n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie.” Vervloek deur God! Dit is verskriklik! Dit is ons nood en ellende!

As ons dit egter deur die verligting van die Heilige Gees, dan is daar vir ons hoop – hoe onmoontlik dit ook mag klink, want dan staan ons reeds in die lig van God se genade. Teenoor Paulus se harde uitspraak in Galasiërs 3:10 staan daar immers die troosvolle uitspraak in Galasiërs 3:13: “Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring deur in ons plek ’n vervloekte te word.” Dit is die wonder van God se genade: Christus wat valslik vervloek is met ’n beroep op God se wet (Joh. 19:7), baan vir ons die weg om bevry te word van die vloek wat regtens ons deel moes word van-weë ons wetsoortreding. So het Hy in ons plek volmaak die wet van God onderhou.

Daarom moet ons egter nou uit dankbaarheid met hart en siel daarna streef om die wet van God so goed as moontlik te onderhou (Rom. 6:13). Ook hierin kom die Here ons uit genade te hulp: Hy vernuwe ons deur sy Heilige Gees (Rom. 8:14, 15) sodat die onderhouding van sy wet vir ons nie ’n las is nie, maar ’n lus – ’n groot vreugde (Ps. 112:1; 119:35; Rom. 7:22; 1 Joh. 5:3).

Page 11: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 13 -

Sondag 10 Januarie Skrifgedeelte: Genesis 1:26-31; HK Sondag 3, Vraag 6 Fokusgedeelte: Genesis 1:31

God het die mens goed geskep In die vorige antwoord (5) het ons bely dat ons nie aan die eis van God kan

voldoen nie, want ons is geneig om God en ons naaste te haat. Hoe erg die toestand van die mens na die sondeval is, toon Paulus as hy Psalm 14 en Psalm 53 soos volg aanhaal: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie ... daar is nie een wat na die wil van God vra nie ... Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet ... Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie, ontsag vir God het hulle nie” (Rom. 2:10-18). Dit is wat die sonde aan die mens gedoen het.

Nou is die vraag: Wie se skuld is dit dat die mens so sondig en verkeerd is dat hy geneig is om te haat in plaas van om lief te hê? Is dit miskien God se skuld? Het Hy die mens so boos en verkeerd geskep? Dit is in antwoord op hierdie vrae dat aan ons gesê word hoe God die mens geskep het. Teenoor die bedenking dat God die mens sondig en verkeerd geskep het en dat hy nie anders kon as om sonde te doen nie, word nou gesê dat Hy die mens goed geskep het. Hierdie woord goed is deur die opstellers van die Kategis-mus uit die Bybel self oorgeneem, want ons lees in Genesis 1:31: “Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.”

Die woord goed het hier ’n besondere betekenis. Dit dui aan dat alles toe volmaak en sonder vlek of rimpel was. Die woord goed sê egter nog meer. Dit sê ook dat die mens so geskep is dat hy aan sy godgegewe doel en be-stemming kon beantwoord, naamlik om God te dien en te eer. Toe het die mens egter in sonde geval en homself van al die goeie gawes en vermoëns beroof. Hy kon ook nie meer aan sy doel en bestemming beantwoord nie. Hy het geword soos aan die begin aangedui is (Rom. 2:10-18) en so God se oordeel oor die ganse mensdom gebring (Rom. 5:17-19).

In sy groot genade en liefde het God sy Seun gestuur om versoening te doen vir ons sondes. En die Heilige Gees het die versoening van Christus deel van ons lewe gemaak. Op dié wyse het ons weer goeie mense geword (Hand. 11:24; 1 Tim. 4:6; Tit. 2:5) wat goeie dinge doen (Rom. 13:3; Ef. 6:8; 2 Tess. 3:13) – al kleef daar nog sonde aan ons doen en late. Nou moet ons uit dankbaarheid goeie mense wees wat goeie dinge doen tot eer van God.

Page 12: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 14 -

Maandag 11 Januarie Skrifgedeelte: Genesis 1:26-31; HK Sondag 3, Vraag 6 Fokusgedeelte: Genesis 1:26

God het die mens na sy beeld geskep Die skepping van die mens na die beeld van God beteken nie dat daar iets

by sy menswees bygekom het nie. Nee, dit is ’n wesenskenmerk van die mens dat hy die beeld van God is.

Wat beteken dit egter om die beeld van God te wees? Dit beteken eers-tens dat die mens God se verteenwoordiger hier op aarde moet wees. Dit kan vergelyk word met die gebruik dat regerings ambassadeurs in ander lan-de het. In die ambassadeur is die betrokke land in die ander land teenwoor-dig. Hy moet ook toesien dat die belange van sy land in die ander land be-hartig word. So moet die mens as beeld van God ook God se verteenwoor-diger op aarde wees.

Om die beeld van God te wees, beteken tweedens dat die mens – veral voor die sondeval – in baie opsigte na God gelyk het. Dit beteken dat die mens die deugde en vermoëns wat deel van God se wese is, waarneembaar moet maak en in sy lewe moet laat uitstraal (1 Joh. 3:7). Enkele trekke waarin die mens die beeld van God vertoon – en veral voor die sondeval ver-toon het – is die volgende: God kan liefhê, trouens, Hy is liefde – die mens kan ook liefhê; God is heilig – die mens was ook heilig; God is regverdig – die mens was ook regverdig.

Toe het die sondeval gekom, en hoewel die mens ná die sondeval nog beeld van God gebly het (Gen. 9:6; Jak. 3:9), is God se beeld in die mens ernstig geskend. In plaas van om regverdig te wees, het hy grootliks onreg-verdig geword; in plaas van om lief te hê, het hy begin haat (Gen. 4).

In sy oneindige ontferming en genade het God toe sy eniggebore Seun gestuur en deur sy soenverdienste het Hy die beeld van God in die mens herstel. En deur sy Woord en Heilige Gees verander en vernuwe Hy ons sodat ons al hoe meer sy beeld in ons lewe vertoon (Rom. 8:29).

Dit is ’n groot genade van God dat ons sy beeld mag vertoon, maar dit is nou ook ons heilige roeping: ons moet nou oral en altyd sy beeld ver-toon. Daarom sê Paulus: “Lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig” (Ef. 4:24).

As gevolg van die sonde sal daar hier op aarde altyd leemtes wees in die openbaring van God se beeld in ons lewe. Op die nuwe aarde sal ons sy beeld egter volmaak vertoon (Fil. 3:21; 1 Joh. 3:2).

Page 13: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 15 -

Dinsdag 12 Januarie Skrifgedeelte: Psalm 8; HK Sondag 3, Antwoord 6 Fokusgedeelte: Psalm 8:6

God het die mens geskep om regverdig en heilig te wees Die feit dat die mens goed en na die beeld van God geskep is, behels nog

meer as wat reeds gesê is. Ons bely verder dat God die mens in ware geregtigheid en heiligheid geskep het.

Hierdie twee deugde maak deel uit van die wese van God. Dit dui ook aan hoe die beeld van God in die mens ingeskep is. Dit was noodsaaklik dat die mens so geskape is, want hy kon alleen die verteenwoordiger van God wees as hy in die regte verhouding tot God staan en aan God se wil gehoorsaam is.

Onder geregtigheid (regverdigheid) word verstaan dat Adam, omdat hy goed en na die beeld van God geskep is, in homself geweet het wat goed en reg is volgens die wet van God en dit ook gedoen het. Dit was vir hom ’n lus en ’n vreugde om die wil van God wat hy suiwer geken het, ook suiwer uit te voer.

Die mens was egter ook heilig: hy was innerlik en uiterlik rein en sonder smet. In sy hart het daar nooit ’n gedagte aan sonde en onreinheid opge-kom nie. Geen vlek of rimpel was op hom nie.

’n Mens kan jou byna nie voorstel in watter hoë en heerlike staat die mens direk na die skepping voor God gestaan het nie. En as Dawid van die mens na die sondeval kon sê: “U het hom ’n bietjie minder as ’n hemelse wese ge-maak en hom met aansien en eer gekroon” – hoeveel te meer sou dit nie met die mens die geval gewees het vóór die sondeval nie.

As die mens in sonde val, vind daar ’n ingrypende verandering plaas. In plaas van geregtigheid word daar dan tot ’n groot mate ongeregtigheid by die mens gevind, en in plaas van heiligheid onheiligheid (vgl. Rom. 2:10-18).

God het in sy groot genade en ontferming die mens nie laat bly in die ellende waarin hy homself gestort het nie. Hy bewerk vir die mens redding en verlossing deur die soenverdienste van Christus. In sy grenslose liefde herstel Hy dié wat in Hom glo sodat hulle is soos wat Hy oorspronklik be-doel het dat die mens moet wees. Die mens word weer geregverdig en geheilig (1 Kor. 6:11). Daarom word egter van die gelowiges geëis om regverdig te wees soos God regverdig is (1 Joh. 3:7) en om heilig te wees omdat God heilig is (1 Pet. 1:15, 16).

Page 14: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 16 -

Woensdag 13 Januarie Skrifgedeelte: Genesis 2:4-19; HK Sondag 3, Antwoord 6 Fokusgedeelte: Genesis 1:28

God het die mens geskep om Hom te dien In die afwysing van die gedagte dat God die mens sondig en verkeerd

geskep het, gaan ons belydenis verder en toon dat God die mens met ’n spe-sifieke doel en bestemming geskep het, naamlik om profete, priesters en ko-nings in sy diens te wees.

As profeet moes die mens veral met sy verstand God sy Skepper reg ken. Dit impliseer dat God Homself nog verder aan die mens sou open-baar, want daarsonder was dit vir die mens onmoontlik om God nog beter te ken. Hier-die kennis moes hy gebruik om God te dien en te verheerlik.

As priester moes die mens God met sy hele hart liefhê en Hom met oor-gawe dien. Sy hele lewe moes een groot dankoffer aan God wees. Hy moes verder die hele skepping tot ’n biddende toewyding aan die Here bring.

As koning moes die mens met al sy krag en handelinge aan God diens-baar wees. Hy moes oor die skepping en homself heers volgens die wil van God. In Psalm 8:7 sê Dawid van die mens: “U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp.” Dit impliseer dat die mens die hele skepping so in die Naam van die Here moes regeer dat alles en almal God sal dien. Die mens moes dus terselfdertyd dienskneg en koning in God se diens gewees het (vgl. Op. 22:3, 5). So sou die mens saam met God in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys.

Dit is hoe God die mens geskep het as profeet, priester en koning. Dit dui die hoë posisie aan vanwaar die mens geval het toe hy sonde gedoen het.

As God in sy grenslose groot liefde die mens red deur die versoening van sondes wat Christus vir ons aan die kruis bewerk het, herstel Hy uit genade hulle wat glo ook in hierdie verband soos God oorspronklik bedoel het dat hulle moet wees. Die mens word weer herstel in die dienste van profeet wat Hom ken en bekendmaak, van priester wat Hom liefhet en van koning wat Hom as heerser dien. Daarom kan Petrus aan die gelowiges skryf: “Julle ... is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat (as profe-te) die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duister-nis geroep het na sy wonderbare lig” (1 Pet. 2:9).

Page 15: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 17 -

Donderdag 14 Januarie Skrifgedeelte: Genesis 2:8-19; HK Sondag 3, Vraag 7 Fokusgedeelte: Genesis 2:16, 17

Wat was op die spel by die sondeval? Hier op aarde vind soms groot rampe plaas wat baie ellende en verdriet kan

veroorsaak. Daar is egter geen ramp wat eers naastenby vergelyk kan word met die sondeval nie, want die ramp van die sondeval is die oorsaak van al die rampe en ellende in die wêreld. Die smartlike gevolge daarvan raak die totale mensdom al die eeue van sy bestaan hier op aarde.

Hoe het dit dan gekom dat ’n skynbaar nietige sakie soos die eet van ’n verbode vrug sulke ontstellende gevolge kan hê? Dit besef ons eers as ons weet waarom dit gegaan het by die eet of nie eet nie van die verbode vrug.

God het die mens so na sy beeld geskep dat hy spontaan, sonder dat hy daaraan gedink het, God geëer en gedien en volgens sy gebooie gelewe het. God het egter sy eer daarin gesoek dat die mens Hom vry-willig moes dien en gehoorsaam, selfs al was hy in staat om anders te handel. Daarom moes daar by die wet wat by die skepping in sy hart gelê is ’n ekstra gebod bykom waarvan die mens die sin nie kon insien nie, maar waaraan hy gehoorsaam moes wees bloot omdat God dit van hom eis.

Hierdie ekstra gebod vind ons in die proefgebod wat lui: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.” Dat die eet van die verbode vrug die dood sou meebring, was vir die mens iets wat hy nie kon insien nie, maar wat hy moes glo bloot omdat God dit gesê het. Trouens, in Genesis 3:6 word uitdruklik gesê dat die boom se vrugte goed was om te eet en mooi om na te kyk.

Die groot vraag wat uit die proefgebod na vore gekom het, was dus: Sal die mens ook in die skynbaar nietige sakie soos die eet of nie eet nie van die betrokke vrug aan God gehoorsaam wees slegs omdat God dit eis, al kon hy nie die betekenis van so ’n gehoorsaamheid insien nie? As hy gehoorsaam is, sal hy die ewige lewe as erfenis verkry, maar as hy ongehoorsaam is, die ewige dood. Daarom gaan dit hier.

Dit moet ons goed begryp om die sondeval te verstaan.

Page 16: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 18 -

Vrydag 15 Januarie Skrifgedeelte: 2 Petrus 2:1-10; HK Sondag 3, Antwoord 7 Fokusgedeelte: 2 Petrus 2:4

Die oorsprong van die sonde Adam en Eva word in Genesis 3 aangedui as die eerste mense wat ge-

sondig het. Daarmee het hulle hul hele nageslag tot sondaars gemaak op wie die oordeel van God rus. Waar kom die sonde egter oorspronklik vandaan?

Volgens die Skrif het die sonde sy oorsprong by die engele. Daar word gepraat van engele wat hulle nie binne hulle magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle toe in die hel ge-stort, en hulle wag nou op die oordeelsdag om finaal deur Hom gestraf te word (2 Pet. 2:4; Jud:6). Dit moet gesien word as ’n verwysing na Satan en sy volgelinge wat teen God in opstand gekom het. Die duiwel was waarskyn-lik ’n hoofengel wat ’n deel van die engele opgesweep het om hom te volg in sy opstand teen God. In Openbaring 12:4 word gesê dat die draak (Satan) ’n derde van die sterre meegesleep het. Dit dui daarop dat ’n derde van die en-gelemag Satan gevolg het in sy opstand teen God en so self duiwels geword het.

In 1 Timoteus 3:6 word gepraat van iemand wat verwaand kan word en in dieselfde oordeel as die duiwel val. Daaruit word afgelei dat Satan en sy vol-gelinge verwaand en hoogmoedig geword het en hulle toe teen God verhef het.

Een van die bekendste kenmerke van Satan is dat hy ’n leuenaar is. Die Here Jesus sê immers van hom: “Hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuens praat, is dit volgens sy aard, want hy is ’n leuenaar en die vader daarvan” (Joh. 8:44). Satan het die groot teëstander van God geword (Job 1:2; Sag. 3:12). Daarom was dit sy doel om God se pragtige skeppingswerk te verwoes deur die sonde daarin in te dra. Dit het hy ook gedoen deur die mens met sy leuens tot sonde te verlei.

Satan is aanvanklik nog in die hemel toegelaat (Job 1:2). Met Christus se kruisiging en opstanding uit die dood is hy oorwin en met Christus se hemel-vaart is hy uit die hemel uitgegooi (Op. 12:8, 9) en kan hy nie meer daar ver-skyn nie. Uiteindelik sal God wat vrede gee, Satan onder die voete van die gelowiges verpletter (Rom. 16:20). Hy en sy aanhangers sal vir ewig in die poel van vuur gegooi word (Op. 20:10).

Page 17: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 19 -

Saterdag 16 Januarie Skrifgedeelte: Genesis 3:4-15; HK Sondag 3, Vraag 7 Fokusgedeelte: Genesis 3:6

Die sondeval In die maklik verstaanbare woorde uit Genesis 3:6 hierbo word die ontset-

tendste van alle wêreldrampe aan ons meegedeel. Uiterlik geoordeel, lyk dit of daar nie veel gebeur het nie. Die dreuning van hierdie val in sonde is egter tot in die hoë hemel gehoor en tot in die diepste afgronde gevoel. Met een geweldige skeur is die skepping as’t ware uiteengeruk. Al die verhoudings tussen God en die skepping, tussen God en mens, tussen mens en mens, tussen mens en dier is geskend en verbreek.

Die eet van ’n verbode vrug lyk na ’n nietigheid. In die diens van die Here is daar egter nooit nietighede nie. Deur die verbode vrug te eet, het die mens immers in verwaande selfverheffing God verwerp en vir Satan gekies. Daar-om is dit geen ligte oortreding nie, maar die tragiese keerpunt in die wêreld-geskiedenis.

Hier is nie maar net ’n misstap begaan nie, maar ’n sonde teen God wat uiteindelik soos suurdeeg alles en almal sou deurtrek. Hier is die revolusie-gees van Satan om teen God in opstand te kom, op die mens oorgeplant.

Wat hier gebeur het, word in ons belydenis val en ongehoorsaamheid ge-noem.

By die woord val dink ’n mens aan ’n onheil, ’n ramp wat iemand tref en waar hy tot ’n groot mate passief is. Hier sien dit waarskynlik veral op die verleiding van Satan. Die sonde is egter ook ’n aktiewe daad: dit is onge-hoorsaamheid. Die sondaar is nie maar net ’n beklaenswaardige slagoffer sodat hy geen verantwoordelikheid vir sy dade het nie. Nee, hy is ook ’n mis-dadiger wat ten volle verantwoordelik en ten volle toerekenbaar is. Die sonde is ’n opsetlike daad van ongehoorsaamheid teen sy beterwete in!

Was dit nie dat God in sy onbeskryflike groot genade en ontferming reeds in die paradys die verlossing deur Christus in vooruitsig gestel het nie (Gen. 3:15), sou die sondeval die begin van die ewige oordeel en straf vir alle men-se gewees het.

Page 18: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 20 -

Sondag 17 Januarie Skrifgedeelte: Romeine 5:12-20; HK Sondag 3, Antwoord 7 Fokusgedeelte: Psalm 51:7

Die erfsonde Die sondedaad van Adam en Eva was nie net vir hulle persoonlik van

betekenis nie, maar ook vir hulle ganse nageslag. Adam het immers nie slegs in persoonlike hoedanigheid gesondig nie, maar ook in amptelike hoedanigheid as eerste mens en as hoof van die verbond met God. Daarom is sy daad van betekenis vir die hele menslike geslag.

Dat die sonde van Adam as erfskuld van betekenis is vir alle mense, is glad nie iets vreemds nie. Soortgelyke dinge gebeur vandag nog. As ’n staatshoof oorlog teen ’n vyand verklaar, beteken dit nie dat hy alleen in ’n staat van oorlog met die vyand is nie, maar die hele volk waarvan hy die hoof is. So is dit ook met hierdie sondedaad van Adam as verbondshoof: dit is van betekenis vir al sy nakomelinge, soos blyk uit Romeine 5:12: “Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom, en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring ...”

Die gevolg van Adam se sonde is verder dat alle mense nou in sonde as erfsmet ontvang en gebore word, want Adam het deur die sonde soos ’n slegte boom geword wat slegte vrugte dra (vgl. Gen. 5:3). Daarom het alle mense deel aan Adam se val en ongehoorsaamheid. Dit is wat Dawid ook beklemtoon as hy sê: “Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het” (Ps. 51:7).

In en deur Adam is ons self skuldig, omdat hy ons verbondshoof en ons almal se vader is. Dit is die leer van die erfsonde. En hierdie erfsonde is die teelaarde waarop die sondeplante in ons lewens voortwoeker. Daarop groei ook by ons die revolusiegees en die ongehoorsaamheid aan God.

Dit is duidelik dat ons persoonlik by die sondeval van Adam en Eva in die paradys betrokke is. Hulle sonde het gemaak dat ons ook as sondaars voor God staan en daarom die dood skuldig is.

Ons mag miskien dink dat dit onregverdig is dat Adam se sonde ons toe-gereken word, maar wat sê ons dan daarvan dat die geregtigheid van Chris-tus as ons nuwe Verbondshoof ons uit genade toegereken word? Is dit ook onregverdig? Nee, ons moet kinderlik gelowig aanvaar wat God se Woord ons leer en ons verlossing, ook van ons erfsonde, by Jesus Christus ons Verlosser soek (Rom. 5:19).

Page 19: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 21 -

Maandag 18 Januarie Skrifgedeelte: Genesis 6:1-8; HK Sondag 3, Vraag 8 Fokusgedeelte: Genesis 6:5

Die verdorwenheid van die mens ná die sondeval In Antwoord 7 bely ons dat ons natuur só verdorwe is dat ons almal in

sonde ontvang en gebore word. Vraag en Antwoord 8 sluit daarby aan en brei daarop uit deur te sê dat hierdie verdorwenheid só erg is dat ons (negatief) glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en (positief) geneig is tot alle kwaad.

Ons belydenis gebruik die woord verdorwenheid. Dit beteken eintlik korrup. Dit dui op iets wat stukkend gebreek en onbruikbaar gemaak is en so totaal verdorwe geraak het. Wat hierdie verdorwenheid by die mens behels, kan duidelik gesien word in die lewe en optrede van die mense voor die sondvloed. Van hulle word gesê: “Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, was die Here bedroef daaroor dat Hy die mens op aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief.” Die goddeloosheid en verdorwenheid van die mense het met rasse skrede toegeneem. Daarom was die Here verplig om die aarde met die sondvloed skoon te was en met Noag ’n nuwe begin te maak.

Soos egter uit die geskiedenis van die mense in die tyd van Noag blyk, is die verdorwenheid van die sonde in die mens nie iets wat staties bly en altyd dieselfde is nie. Nee, dit groei voort en gaan van kwaad na erger, tot hierdie mense “in hulle verdorwenheid te gronde gaan” (2 Pet. 2:12; 1953-vertaling) – tensy God dit op een of ander wyse verhoed.

Die verdorwenheid van die sonde kom by sekere mense duidelik na vore wanneer daar aan hulle mag gegee word. Dan openbaar hulle hul innerlike boosheid en monsteragtigheid op ’n skokkende en brutale wyse. Dink maar aan Hitler, Stalin en Idi Amin.

Wel is daar ongelowige mense wat só ’n eerbare lewe lei dat hulle soms selfs vir Christene ’n voorbeeld is. Dit is egter net te danke aan die algemene genade van God.

Die mens het só diep in sonde geval dat hy slegs van hierdie innerlike verdorwenheid verlos kan word as die Heilige Gees sy hart verander, sodat hy Christus en sy verlossing deur die geloof aanneem. Dan sal hy ook uit dankbaarheid volgens die wil van God lewe.

Page 20: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 22 -

Dinsdag 19 Januarie Skrifgedeelte: Johannes 3:1-8; HK Sondag 3, Vraag 8 Fokusgedeelte: Johannes 3:3

Die weergeboorte Die weergeboorte (wedergeboorte) is noodsaaklik en onontbeerlik om ’n

kind van God te kan wees. Christus Self toon die noodsaaklikheid daarvan as Hy aan Nikodemus sê: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” • Onder weergeboorte verstaan ons dat die Here deur sy Heilige Gees ’n

verandering in die lewe van ’n mens laat plaasvind sodat, waar dit vroeër, vóór dié verandering, op die duiwel gerig was, na sy bevele geluister en sy wil gedoen het, dit ná die verandering op God gerig is, na Hom luister en sy wil doen (vgl. Tit. 3:5). Die weergeboorte is dus ’n verandering van lewensrigting in die hart van

die mens, en omdat die hart verander, verander die hele mens, want jou hart bepaal jou hele lewe (Spr. 4:23).

Wat die verskil tussen ’n weergeborene en ’n onweergeborene is, kan ons aan die hand van Romeine 7:19 soos volg verduidelik: Paulus sê “die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek”. As weergeborene wie se lewensrigting verander is, wil hy die goeie doen, en die slegte, die verkeerde wil hy nie doen nie – hoewel hy moet bely dat hy dikwels nie daarin slaag om aan dié wense uitvoering te gee nie. Met die onweergeborene is dit presies andersom gesteld: van nature wil hy nie die goeie nie, maar die slegte.

By die besinning oor die weergeboorte moet ons steeds in gedagte hou dat ons hier te doen het met iets wat die mens nie self kan verrig nie. Ons is immers deur die sonde so verdorwe dat ons uit onsself heeltemal onbe-kwaam is tot enige goed en geneig tot alle kwaad. God alleen kan die rigting en innerlike geneigdheid van die hart verander, want om ’n mens se hart om te buig om in God te glo, vereis net so ’n goddelike krag as wat nodig was by die skepping van die wêreld, of wat nodig sal wees by die opwekking van die dooies (DL 3/4, 12).

Hoe sal ons God ooit genoeg kan dank dat Hy die weergeboorte in ons laat plaasvind het! Ons moet egter onthou dat daar nou ’n besondere roeping op ons geplaas word: ons moet uit dankbaarheid alles in ons vermoë doen om die weergeboorte in ons lewe tot verdere ontplooiing te laat kom. Ons hele lewe moet vernuut word na die beeld van Christus (Rom. 8:29; Gal. 2:20).

Page 21: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 23 -

Woensdag 20 Januarie Skrifgedeelte: 1 Petrus 1:17-25; HK Sondag 3, Vraag 8 Fokusgedeelte: 1 Petrus 1:25

Hoe God die weergeboorte tot stand bring In ons belydenis word gesê dat die weergeboorte in ons tot stand gebring

word deur die Gees van God. Die Heilige Gees bring egter die weergeboorte in ons tot stand deur die Woord van God wat aan ons verkondig word. Dit blyk duidelik uit 1 Petrus 1 waar die apostel sê: “Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God ... En hierdie woord is die evangelie wat aan julle ver-kondig is.” Deur die verkondiging van die evangelie van verlossing in en deur Jesus Christus bring die Heilige Gees die weergeboorte in ons tot stand.

Natuurlik, God is magtig en aan geen middel gebonde nie. As Hy wil, kan Hy die weergeboorte sonder die verkondiging van die Woord werk. Daarom staan ons ook nie verleë as ons gevra word wat dan met vroeg-gestorwe kindertjies gebeur wat die Woord van God nog nie kon begryp nie. Die Skrif leer ons dat kinders van gelowiges wat sterwe, wel die saligheid sal beërwe, nie omdat hulle self sonder sonde is nie, maar omdat hulle ouers tot die gena-deverbond behoort en hulle derhalwe verbondskinders is aan wie die beloftes van redding en ewige saligheid toekom. “Godvrugtige ouers moet daarom nie twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van hulle kinders wat God in hulle kinderjare uit hierdie lewe wegneem nie (Gen 7:17; Hand 2:39; 1 Kor 7:14)” (DL 1:17).

Dit kom dus daarop neer dat God die weergeboorte kan laat plaasvind sonder die verkondiging van die Woord, maar in die reël doen Hy dit nie. Hy wil die weergeboorte deur die verkondigde Woord laat plaasvind.

Op dié wyse word daar ’n geweldige roeping op ons gelê. Vir die predikant beteken dit dat hy die Woord van God reg en suiwer moet verkondig dat dit skerper as enige swaard met twee snykante is (Heb. 4:12). Die ouderling moet op huisbesoek die Woord laat spreek. Ouers moet hulle kinders die Woord van God leer. Ons moet self ook, veral in tye van geloofsinsinking, volhard in die gebed en ons verdiep in God se Woord en “vurig verlang na die tyd van oorvloediger genade en dit ook met eerbied en ootmoed verwag” (DL 1:16).

Page 22: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 24 -

Donderdag 21 Januarie Skrifgedeelte: Esegiël 18:1-2, 25-32; HK Sondag 4, Vraag 9 Fokusgedeelte: Esegiël 18:25

Geen onreg is in Hom nie Ons het seker almal al gesien hoe ’n mens, as hy oortree het, hom probeer

verontskuldig. As hy sy sondige daad nie meer kan ontken nie, probeer hy ’n uitvlug in allerlei verontskuldigings soek. Dit vind nie net in geregshowe plaas nie, maar ook in alledaagse verhoudings: kind teenoor ouer; werknemer teenoor werkgewer; vriend teenoor vriend. En die verontskuldigings verander maklik in beskuldigings en selfs onregverdige beskuldigings. Die skerpste kritiek teen die kerk kry ’n mens dikwels juis by mense wie se verhouding tot God veel te wense oorlaat. Die ergste is dat ’n mens soms selfs teenoor God so optree. Met allerlei verontskuldigings probeer hy om God se straf te ontwyk. Hy probeer selfs om God aanspreeklik te hou vir die benarde situasie waarin hy deur sy sonde beland het. Ons sien dit duidelik by die Jode in ballingskap (Eseg. 18). Hulle sê dat dit hulle ouers se skuld is dat hulle in ballingskap verkeer. Hulle het selfs ’n spreekwoord daaroor gemaak en gesê: “Die vaders eet groen druiwe en dan word die kinders se tande stomp” (Eseg. 18:2). Daarom doen die Here hulle ’n onreg aan deur hulle vir die sonde van hulle ouers te straf. Dit is nou in reaksie hierop dat die Here hulle antwoord: “Julle sê: ‘Die Here tree nie reg op nie.’ Luister Israel: Tree Ek nie reg op nie? Dit is julle wat nie reg optree nie!” En dan sê die Here dat, hoewel hulle ook deel in die straf oor hulle ouers, hulle self net so skuldig staan vir hulle eie sondes en die straf verdien wat hulle ontvang.

Sondag 4 van ons belydenis vertolk dieselfde gedagte wat daar in die tyd van Esegiël by Israel was, naamlik dat God die mens ’n onreg aandoen deur hom vir sy sonde aanspreeklik te hou. Daar word drie verontskuldigings – wat eintlik beskuldigings teen God is – genoem waardeur die mens probeer om te ontkom aan God se straf op die sonde.

Verder sal aangedui word dat daar geen grond is vir enigeen van hierdie beskuldigings nie. Wat egter hier van besondere belang is, is die skokkende optrede van die sondige mens omdat hy sy eie optrede wil verdedig en regverdig deur voor te gee dat God hom onreg aandoen. Die Skrif getuig duidelik dat God ’n God van reg is en dat daar in Hom geen onreg is nie (Deut. 32:4; Ps. 92:16). Daarom is die blote gedagte dat God die mens onreg aandoen, wesenlik sondig. Trouens, juis omdat God regverdig is, het Hy, eerder as om die sonde ongestraf te laat bly, sy Seun gestuur om te betaal vir al ons sondes en onreg sodat ons weer vrede met God kan hê.

Page 23: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 25 -

Vrydag 22 Januarie Skrifgedeelte: Deuteronomium 32:1-10; HK Sondag 4, Vraag 9 Fokusgedeelte: Deuteronomium 32:4

God doen die mens geen onreg aan nie In Deuteronomium 32 onderrig God sy volk by monde van Moses. Teenoor

die ontrou en korrupte gesindheid van Israel word baie sterk beklemtoon dat God regverdig en sonder onreg is. Trouens, die hele Bybel getuig daarvan (vgl. Ps. 92:16; Op. 16:5).

In die lig hiervan moet die bedenking van die mens in Vraag 9 van ons belydenis gesien en beoordeel word. Daardeur word die indruk gewek dat God die mens ’n onreg aandoen deur van hom iets te eis wat hy nie kan doen nie.

Onreg veronderstel dat die mens sekere regte het en dat dié regte misken of vertrap word. Die onreg sou dan daarin bestaan dat God ook ná die sondeval van die mens bly eis dat hy sy wet volmaak moet volbring, terwyl hy sedert die sondeval so verdorwe is dat hy dit nie meer kan doen nie. Kan hier werklik van onreg sprake wees?

God eis van die mens om Hom lief te hê met ’n volmaakte liefde. Hy moet God liefhê bo alles en sy naaste soos homself. Aan hierdie eis kon die mens voor die sondeval wel volmaak voldoen, want God het self die mens so geskape dat hy dit kon doen.

Wat het toe gebeur? Die mens het deur moedswillige ongehoorsaamheid homself en al sy nakomelinge van die gawes beroof om God bo alles lief te hê en sy naaste soos homself.

Ook die feit dat die mens gesondig het deur die aanhitsing van die duiwel, is vir hom geen verskoning nie. Die leuens van Satan was immers nie net godslasterlik nie, maar ook so deursigtig dat mense met ’n onbenewelde verstand – en dit het Adam en Eva toe gehad – duidelik die bedoeling daarvan kon insien. Tog luister hulle na Satan en draai die rug op God. Daarom kan hulle aan God se eis om Hom volmaak lief te hê, nie meer voldoen nie.

Dit is dus die mens se eie skuld dat hy die eis van God nie meer kan uitvoer nie. Daarom doen God hom geen onreg aan deur van hom te eis wat hy voor die sondeval kon doen nie. Eerder as om homself voor God te probeer regverdig, moet die mens met skuldbelydenis sy verlossing in die soenverdienste van Christus soek (Rom. 3:21-24).

Page 24: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 26 -

Saterdag 23 Januarie Skrifgedeelte: Genesis 3:1-7; HK Sondag 4, Antwoord 9 Fokusgedeelte: Genesis 3:4, 5

Die verleiding van Satan In Genesis 3 word ons vertel hoe Satan die mens tot sonde verlei het. ’n

Mens moet let op sy tegniek: as hy met Eva praat, val hy nie sommer met die deur in die huis nie; nee, hy kom met ’n ompad. Hy val Eva nie aan nie, maar vra vriendelik: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?” Met die vraag wil hy twyfel by Eva wek, twyfel aan die woord van God.

Die duidelikste kom sy bose opset egter uit in die feit dat hy die woorde van God verdraai. God het gesê dat hulle van al die bome in die tuin mag eet behalwe van een, maar die slang vra of God gesê het dat hulle van geen enkele boom se vrugte mag eet nie. So wou hy deur sy goedgekose vraag ’n ongunstige lig op God laat val, asof Hy hartvogtig is en aan die mens so baie ontsê.

As Eva dan antwoord, kan ’n mens duidelik sien dat Satan reeds ’n greep op haar verkry het, want sy verdraai ook die woorde van God. Sy sê byvoorbeeld dat God gesê het dat hulle van die vrugte van die betrokke boom nie mag eet nie en dit ook nie mag aanraak nie (Gen. 3:3). God het egter nooit gesê dat hulle dit nie mag aanraak nie. Hy het slegs die eet daarvan verbied.

Nadat hy so die vertroue op die goedheid van God by Eva laat wankel het, gaan die slang oor na uitdruklike leuens: “Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet, en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.”

As die twyfel eers posgevat het, is daar reeds ’n gat in die muur gebreek en kan Satan in die huis ingaan. Nou veg hy kaalvuis en slaan toe met blatante leuens: Julle sal beslis nie sterwe nie. Eva luister na Satan en so word haar twyfel in ongeloof omgesit. Sy wil nie meer van God afhanklik wees nie, maar op haar eie bene staan – los van God!

Hierdie verleiding van Satan moet ook vir ons ’n ernstige waarskuwing wees. Soos hy die mens in die paradys verlei het, so maak hy vandag nog. Hy gebruik dieselfde tegniek. Trouens, met hierdie tegniek wou hy ook vir Christus verlei toe hy Hom in die woestyn en elders versoek het. Christus het Hom egter nie laat verlei nie. Hy was volmaak aan God gehoorsaam tot die kruis en die dood toe. Deur hierdie gehoorsaamheid van Christus het Hy vir al ons ongehoorsaamheid geboet.

Page 25: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 27 -

Sondag 24 Januarie Skrifgedeelte: Genesis 3:8-20; HK Sondag 4, Antwoord 9 Fokusgedeelte: Genesis 3:11

Die mens se moedswillige ongehoorsaamheid Die beskuldiging aan die adres van die mens dat hy deur moedswillige

ongehoorsaamheid gesondig het, moet gesien word teen die agtergrond van die feit dat daar ’n verbondsverhouding tussen God en mens was. Al word die woord verbond nie in Genesis 1-3 genoem nie, is al die elemente van ’n verbond tussen God en mens wel teenwoordig.

As God wat liefde is (1 Joh. 4:8, 16) die mens na sy beeld geskep het, beteken dit dat die mens ook kon en moes liefhê. Tussen God en mens was dus ’n band en verhouding van liefde. Hierdie liefde moes van die mens se kant af veral in sy geloof in God en sy gehoorsaamheid aan God tot openbaring kom. God waarsku hom ook dat as hy sy deel van die verbond nie nakom nie, hy gestraf sal word en sal sterf. Tog kom die mens die eise van die verbond wat aan hom gestel is, nie na nie. Hy eet wel van die vrugte van die boom wat God hom verbied het om te eet. So vind die sondeval plaas.

As die sondeval in hierdie lig gesien word, beteken dit dat die mens se sonde nie maar net die oortreding van ’n reël of voorskrif was nie, maar die aantasting van die verhouding tussen God en mens. ’n Mens kan dit met ’n huwelik vergelyk. As ’n man en ’n vrou met mekaar getroud is en een van hulle raak betrokke by ’n verhouding met ’n ander persoon, dan word nie net ’n reël oortree nie, maar ’n verhouding aangetas. Dit is waarom die sonde van die mens so ’n verskriklik ernstige saak is. Die sonde het die mens tot ongeloof in God beweeg, en die ongeloof openbaar hom in ongehoorsaamheid aan God. Gesien in die lig van die verbond tussen God en mens, kan die mens se optrede tereg aangedui word as moedswillige ongehoorsaamheid waardeur hy homself en sy hele nageslag beroof het van die gawes om God bo alles lief te hê en sy naaste soos homself. Willens en wetens het hy God se gebod oortree. Hy is soos iemand wat nie per ongeluk nie, maar teen sy beterwete in aan die verkeerde kant van die pad ry en ’n ernstige ongeluk veroorsaak. Sy daad is geen onbesonnenheid nie, maar ’n misdaad.

As dit alles in ag geneem word, moet God se redding van die mens deur die soenverdienste van Christus as ’n daad van grenslose liefde gesien word.

Page 26: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 28 -

Maandag 25 Januarie Skrifgedeelte: Psalm 50:1-21; HK Sondag 4, Vraag 10 Fokusgedeelte: Psalm 50:21

God laat die mens se sonde nie ongestraf bly nie Die mens probeer volgens ons belydenis verder om van God se straf vir sy

sonde te ontkom deur voor te gee dat God oordrewe is in die handhawing van geregtigheid. Dit sou dan volgens die mens nie nodig wees dat God die sonde moet straf nie. Hy kan dit mos maar deur die vingers sien.

Wie dit sê, toon dat hy dieselfde siening het as die mense van wie Asaf in Psalm 50 praat: As God die sondes sien, moet Hy daaroor swyg en anderpad kyk. Dan tree Hy net soos sondige mense op.

Die “nee, glad nie” van Antwoord 10 is niks anders nie as die belydenis van die volmaakte geregtigheid van God. By ons as sondige mense is daar reeds ’n gevoel van reg wat in opstand kom in ’n sondige wêreld. Hoeveel te meer moet die Here, die God van geregtigheid, nie gekrenk word deur die ongeregtigheid en ongehoorsaamheid van die sondige mens nie!

Die geregtigheid van God moet nie maar net, soos meesal die geval is, gesien word as billike en regverdige optrede nie. God se geregtigheid hou meer in. Dit beteken veral dat Hy optree in ooreenstemming met sy Woord. Dit is presies waaroor dit hier gaan. God het uitdruklik aan die mens gesê dat hy nie mag eet van die vrugte van die boom van kennis nie, want as hy wel daarvan eet, sal hy sterwe. Al wat gebeur het toe die mens daarvan geëet het, is dat God Hom aan sy woord gehou het en presies daarvolgens opgetree het. Dit blyk ook uit Galasiërs 3:10 wat in die antwoord aangehaal word: “Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie”. Daarom moet die mens gestraf word en sterwe. Dit is ’n eis van God se geregtigheid. Hy kan die sonde nie ongestraf laat bly en deur die vingers sien nie.

Die straf op die sonde moet ons dus beskou as die vergelding van God waarin Hy Homself en die reg van sy liefde handhaaf. Sy reg wat geskend is en sy liefde wat verwerp is, roep om vergelding. In die vergelding vind ons die God van reg en liefde terug in Christus se versoeningslyde aan die kruis op Golgota. “Hy (God) het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom” (2 Kor. 5:2; 1953-vertaling).

God verskoon ons nie, maar vergewe ons om Christus ontwil.

Page 27: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 29 -

Dinsdag 26 Januarie Skrifgedeelte: Psalm 90; HK Sondag 4, Vraag 10 Fokusgedeelte: Psalm 90:7

God se toorn oor die sonde As Moses in Psalm 90 sê: “Ons vergaan onder u toorn”, praat hy uit

ondervinding. Gedurende Israel se woestynreis het hy gesien hoedat ’n hele geslag vergaan het onder God se toorn as gevolg van hulle ongehoorsaamheid en ongeloof.

Die toorn of woede van ’n mens is aan ons goed bekend. Dit gaan gewoonlik met ’n hewige emosionele gemoedsopwelling gepaard en kom dikwels in heftige woorde en selfs pynigende dade tot openbaring.

As daar in die Skrif oor God se toorn gepraat word, word dieselfde woorde gebruik as vir die toorn van ’n mens. Dit is te verstane, want God kan nie met ons op ’n ander wyse praat as in die woorde van ’n mens nie. Tog is daar ’n duidelike verskil tussen die toorn van God en die toorn van mense. Die toorn van mense is gevul met sonde en meesal baie selfsugtig. Daarteenoor is God se toorn heilig en sonder smet.

Daar is volgens die Skrif geen teenstelling tussen die liefde van God en die toorn van God nie; inteendeel, dit staan in die nouste verband met mekaar. Die toorn van God kan dan ook as die vuur van sy gekrenkte en beledigde liefde aangedui word. God se toorn word deur die sonde gemotiveer. God se toorn is die onvermydelike reaksie van elke poging tot ontwrigting van sy liefde, veral as dit in menslike trots en arrogansie gedoen word. Daarom sê God Self ook dat Hy jaloers is (Eks. 20:5) en selfs dat sy Naam Jaloers is (Eks. 34:14; 1953-vertaling). In Nahum 1:2 (1953-vertaling) word gesê: “’n Jaloerse God en ’n wreker is die Here, ’n wreker is die Here en vol grimmigheid; ’n wreker is die Here vir sy teëstanders, en Hy behou die toorn oor sy vyande.”

Die toorn van God is ’n openbaring van die wese van God (Rom. 2:8). Tog word meesal van God se toorn gepraat as dit op sy straf vir die sonde betrekking het (Eks. 32:10). Daarom is die toorn van God iets wat die mens moet vrees (Ps. 6:2). Dit blyk uit die volgende uitsprake: “Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val” (Heb. 10:31). “Want ons God is ’n verterende vuur” (Heb. 12:29).

Ons kan slegs van die toorn van God bevry word as ons in die Seun glo en Hom gehoorsaam (Joh. 3:36).

Page 28: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 30 -

Woensdag 27 Januarie Skrifgedeelte: Romeine 1:18-32; HK Sondag 4, Antwoord 10 Fokusgedeelte: Romeine 1:18, 24, 26, 28

God se toorn – nou al geopenbaar Die meeste van ons is daarvan bewus dat God se toorn oor die sonde en die

sondaars op ’n skrikwekkende wyse geopenbaar sal word op die dag as Christus weer kom (Rom. 2:5, 8). Wat nie altyd so duidelik besef word nie, is dat God se toorn oor die sondaars heel dikwels nou al geopenbaar word. In Romeine 1:18 en verder toon Paulus duidelik aan dat God sy toorn oor hulle openbaar deur hulle aan seksuele losbandigheid en ander goddelose gesindhede en dade oor te gee.

Gewoonlik word dit nie so deur ons gesien nie. Seksuele losbandigheid word meesal deur ons beskou as die oorsaak van God se toorn, en dat God se toorn dan geopenbaar word in sake soos oorloë, aardbewings, droogtes, depressies, ensovoorts. In bepaalde gevalle is dit ook waar: seksuele oortredings kan die toorn van God oor die sondaar tot gevolg hê, soos duidelik uit die geskiedenis van Dawid blyk. Paulus toon egter in Romeine 1 dat die saak ook ’n ander kant het, en dit is dat seksuele oortredings op sigself reeds die openbaring van God se toorn oor die betrokkenes kan wees. Anders gestel: seksuele losbandigheid is in sulke gevalle reeds deel van God se straf op hulle sonde. Omdat hulle die openbaring van God wat na hulle toe gekom het, verwerp het, daarom het God hulle in sy toorn in die stroom van seksuele losbandigheid ingestamp sodat hulle in hulle eie onbeheerste welluste kan verdrink.

Drie maal gebruik Paulus in Romeine 1:18-23 die uitdrukking: Daarom gee God hulle oor ... � Vers 24: Daarom gee God hulle oor aan hulle eie wellustige begeertes. � Vers 26: Daarom gee God hulle oor aan skandelike hartstogte sodat teen

die natuur in vrouens met vrouens en mans met mans seksueel verkeer. � Vers 28: Daarom gee God hulle oor aan ’n slegte gesindheid om te doen

wat nie betaamlik is nie. Seksuele losbandigheid is in sulke gevalle nie net ’n sondige lewe wat God

vertoorn en wat Hy sal straf nie; dit is reeds God se straf. Ware bekering en gelowige aanvaarding van die evangelie van Jesus

Christus is die enigste wyse om aan die toorn van God te ontkom (Rom. 1:16).

Page 29: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 31 -

Donderdag 28 Januarie Skrifgedeelte: Psalm 103; HK Sondag 4, Vraag 11 Fokusgedeelte: Psalm 103:8

God is barmhartig Die barmhartigheid van God word deur sommige as ’n openbaring van sy

goedheid of goedertierenheid gesien. Ander sien dit as ’n openbaring van sy liefde. Eintlik is dit nie ’n probleem nie, aangesien God se goedheid, liefde en barmhartigheid mekaar tot ’n baie groot mate oorvleuel. So word die woorde wat in die 1953-vertaling met goedertierenheid vertaal is, in die 1983-vertaling op baie plekke met liefde of troue liefde vertaal (vgl. Ps. 63:4). Daar is ook verse waar dit met barmhartigheid vertaal kon word (vgl. Rom. 2:4). Dit staan in elk geval in ’n baie nou verband met barmhartigheid (Matt. 9:13; Luk. 1:53, 54).

By wyse van omskrywing sou ’n mens die goedertierenheid van God kon aandui as die blywende, neerbuigende, troue, genadige liefde, barmhartigheid en goedgesindheid van God as ons Verbondsgod teenoor ons as sy kinders ter wille van die soenverdienste van Christus. Kortweg sou ’n mens daarna kon verwys as die troue liefde van God.

Hierdie troue liefde van God word aangedui as barmhartigheid wanneer dit aan mense in ellende en nood betoon word. Dit vestig die aandag op die innerlike bewoënheid van God as Hy die mens in sy sondenood sien. Treffend word dit in vers 13 soos volg aangedui: “Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom dien.”

So gesien, sê die Here in Psalm 103 aan ons dat sy barmhartigheid oor sy kinders só groot is dat dit nie gemeet kan word nie. Die hoogte daarvan is so groot soos die afstand tussen hemel en aarde (vs 11). Die breedte daarvan is so ver as wat die ooste van die weste verwyder is (vs 12). Die tydsduur daarvan is van ewigheid tot ewigheid (vs 17, 1953-vertaling).

Die liefde en barmhartigheid wat God aan ons bewys, is só groot dat dit vir ons sondige mens totaal onmeetbaar is. Dit is die liefde en barmhartigheid wat God in groot heerlikheid aan ons betoon het in die soenverdienste en verlossing deur Jesus Christus. Dit is ook die liefde wat God in ons harte uitgestort het deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het (Rom. 5:5).

In die lig hiervan moet ons ook Paulus se gebed verstaan as hy aan die Efesiërs skryf: “Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God” (Ef. 3:18, 19).

Page 30: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 32 -

Vrydag 29 Januarie Skrifgedeelte: Psalm 99; HK Sondag 4, Antwoord 11 Fokusgedeelte: Psalm 99:8

God se regverdigheid en barmhartigheid bots nie Die laaste bedenking wat die sondige mens na vore bring om aan God se

regverdige straf oor die sonde (vgl. 25 Jan.) te ontkom, is dat dit in stryd met God se barmhartigheid is. Oënskynlik word daar steun gevind vir so ’n siening in Psalm 99:8: “U was vir hulle ’n vergewende God, maar Een wat ook hulle sondes gestraf het.” Tereg is van die betrokke woorde in Psalm 99 gesê dat ons net met ’n oënskynlike teenstrydigheid te doen het. Gesien in die lig van die Skrif as geheel, is daar geen teenstrydigheid nie.

Die siening dat God se regverdigheid in stryd sou wees met sy barmhartigheid is egter ’n valse probleemstelling. Dit kom daarop neer dat sy deugde of eienskappe in botsing is met mekaar en dat Hy in Homself verdeeld is. Die blote gedagte dat daar so ’n innerlike verdeeldheid by God is, tas sy heerlikheid en Godheid aan. Dan sou ons God teen God probeer uitspeel.

God se deugde kan nooit van mekaar geskei word en teenoor mekaar gestel word nie, want God is sy deugde: Hy is volkome regverdig en Hy is volkome barmhartig. Sy barmhartigheid kan nooit sy geregtigheid tersyde stel nie. Omgekeer kan sy geregtigheid nooit sy barmhartigheid kanselleer nie.

Hierdie eensydige sienings van God word ook vandag aangetref. Enersyds is daar mense wat net van liewe Jesus praat en van die liefde van God wat alles verdra en alles vergewe. Andersyds is daar mense wat God as ’n wrede tiran beskou wat die mensdom tot eie bevrediging op ’n aangrypende wyse laat ly. Albei hierdie sienings is heeltemal onwaar en onbybels.

Volgens die Skrif is daar geen botsing tussen God se geregtigheid en sy liefde nie; inteendeel, hulle staan in volkome harmonie met mekaar. Hierdie harmonie word helder en duidelik aan ons geopenbaar in Jesus Christus wat ter wille van ons gekruisig is. Aan die kruis sien ons hoe Christus aan die geregtigheid van God voldoen as Hy in ons plek met die ewige straf na liggaam en siel gestraf word. Aan die kruis sien ons egter ook die onbegryplike groot liefde van God wat Paulus soos volg vertolk: “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom” (2 Kor. 5:21; 1953-vertaling).

God se genade, liefde en ontferming oor ons is dus oneindig groot. Hy betoon egter sy genade en barmhartigheid nie ten koste van sy reg en geregtigheid nie, wel met die noukeurige handhawing daarvan.

Page 31: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 33 -

Saterdag 30 Januarie Skrifgedeelte: Job 26:5-14; HK Sondag 4, Antwoord 11 Fokusgedeelte: Job 26:14

Sonde teen die allerhoogste majesteit van God Onder ons as mense gebeur dit dikwels dat ’n oortreding teenoor ’n

persoon of instansie wat hoog in aansien is en baie gesag het, in ’n baie ernstiger lig beskou word as ’n oortreding teenoor ’n persoon of instansie wat mindere aansien en gesag het. So sal die oortreding van ’n wet van die hoogste owerheid met baie groter erns bejeën word as die oortreding van ’n reël van ’n huisgesin. Dit is die agtergrond van die woorde in ons belydenis: “... die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God gedoen is.” Met dié woorde word na die ontsagwekkende grootheid, heiligheid en heerlikheid van God verwys. Hy is só groot en magtig dat geen mens dit ooit sal begryp nie.

In Job 26 word oor hierdie grootheid van God gehandel soos dit in die skepping en onderhouding van alles geopenbaar word. Job verwys na die ruimte van die hemel met sy sterre, komete en planete wat daarin wentel en duisende ligjare van mekaar verwyder is (vs 7). Hy praat ook van die aarde wat hang waar daar niks is nie, maar van oomblik tot oomblik gedra word deur God en deur sy magswoord in stand gehou word (vr 17; Heb. 1:3). Hy versamel die water in wolke sonder dat hulle skeur (vs 8). ’n Mens sou in aansluiting hierby kon verwys na magtige getygolwe, tsoenami’s, weerligstrale, aardbewings en dergelike sake. Behalwe die opanbring van God in die natuur is daar nog verder sy openbaring in sy Woord. Daar openbaar Hy Hom aan ons as die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat in Christus ons verlossing bewerk het en deur die Heilige Gees die wedergeboorte in ons werk.

Aan die einde van die hoofstuk sê Job egter dat as ons dit wat ons uit die natuur en uit die Skrif van God weet, vergelyk met wat God werklik is, is die verskil so groot soos die verskil tussen ’n fluisterstem en ’n donderslag (vs 14). Dan moet ons onthou dat hierdie verskil maar net ’n vergelyking is om ons te laat verstaan dat God in sy grootheid vir ons heeltemal onbegryplik en ondeurgrondelik is (Rom. 11:35). Dit is dan nou teen die allerheiligste majesteit van hierdie groot en heilige God wat die mens gesondig het. Daarom moet die sonde in ’n uiters ernstige lig beskou word en moet dit op grond van God se geregtigheid met die swaarste straf na liggaam en siel gestraf word. So onbegryplik groot as wat God in sy deugde en eienskappe is, so onbegryplik groot is Hy egter ook in sy liefde in Christus vir ons as skuldige en sondige mense.

Page 32: Dagstukkies Almanak 2016 - gksa.org.za 2016januarie.pdf · nie, maar slegs ’n deurgang na die ewige lewe. Daarin ervaar ons ’n vreugde wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n

- 34 -

Sondag 31 Januarie Skrifgedeelte: Matteus 25:31-46; HK Sondag 4, Antwoord 11 Fokusgedeelte: Matteus 25:41, 46

Die ewige straf aan liggaam en siel Die ewige straf aan liggaam en siel is die hel. Daar is baie mense wat op

grond van verskillende argumente van oordeel is dat die hel nie werklik bestaan nie. Christus Self leer ons egter dat daar ’n ewige straf is. Hy sê dit in woorde wat nie vir misverstand vatbaar is nie: “Dan sal die Koning sê: ‘Gaan weg van my af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is.’” (Matt. 25:41, 46).

Wie ontken dat daar ’n hel is, kom in botsing nie met mense nie, maar met Christus Self. So ’n persoon is ’n valse profeet.

Wat is die hel dan? Die woorde waarmee die hel in die oorspronklike tale aangedui word, is gehinnoom of gehenna. Dit hou verband met die dal van Hinnom wat buite Jerusalem geleë is. Die plek het ’n baie ongunstige betekenis gehad, omdat gruwelike afgodery daar bedryf is (2 Kon. 23:10; 2 Kron. 28:3). Later het dit die ashoop van Jerusalem geword. Dooie diere en liggame van veroordeeldes is daar gegooi om aan verrotting en verbranding oorgegee te word. Die dal van Hinnom het in die Skrif die simbool en heenwysing na die hel, die plek van smarte, geword (Op. 14:11).

Die hel het ’n negatiewe kant. Dit blyk uit die woorde van Christus: “Gaan weg van My af, julle vervloektes!” Dit wys daarop dat alle bande met Christus geheel en al verbreek sal word. Dan sal hulle ervaar watter smarte Christus gely het toe God Hom aan die kruis verlaat het (Matt. 27:46).

Die hel het egter ook ’n positiewe kant: dit is ’n onblusbare vuur (Mark. 9:44); daar is mense in die diepste duisternis waar hulle sal huil en op hulle tande kners (Matt. 25:30). Daarom waarsku Christus: “Vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel laat vergaan” (Matt. 19:28).

Wie is vir die hel bestem? Behalwe dat die hel bestem is vir die duiwel en sy engele (Matt. 25:41) en vir die Antichris en die valse profeet (Op. 20:10), is dit verder ook die bestemming van al die ongelowiges en goddelose mense. In Openbaring 21:8 lees ons: “Maar die wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is in die poel wat met vuur en swawel brand, dit is die tweede dood.”

Hoe ’n groot troos is dit om te weet dat Christus ons van die helse benoudheid en pyn verlos het (HK So. 16, Antw. 44).